Ons wil die res van die maand nog steeds eer en erkenning gee aan al ons kosbare vroue in ons samelewing. Vrouens speel ‘n kardinale rol nie net in hul huise nie, maar ook in hul gemeenskappe. Hulle is altyd diensbaar om te verseker dat hul gemeenskappe vooruitgaan en ontwikkel. Ons salueer julle as vrouens vir alles wat julle vermag het en by voorbaat dankie vir die kosbare rol wat julle elke dag binne ons skoolgemeenskap speel. Ek glo en vertrou dat elke vrou in ons skoolgemeenkap op Dinsdag, 09 Augustus, behoorlik bederf is.

Ek glo dat julle ook met blydskap waargeneem het dat die geslote kringtelevisie kamerastelsel klaar geïnstalleer is. Die nuutste sekuriteitstegnologie word hier ingespan en die kameras bewaak die hele skool se heinings, -mure en -toegangshekke. Verder word al die kameras deur ‘n sekuriteitsfirma 24/7 gemonitor en indien enige ‘onwelkome gas’ dit durf waag om sy/haar voete sonder toestemming op ons perseel te sit, word daar onmiddellik alarm gemaak en die gewapende eenheid kom onmiddellik uit. Verseker gee dit vir ons almal gemoedsrus dat ons leerders, ouers en personeel wat op enige gegewe oomblik op die perseel mag wees, veilig en beskerm sal wees.

Augustusmaand by ons skool word ook gekenmerk deur die begrotingsproses. Die EXCO, begrotingsbestuurders in samewerking met die personeel, is hard aan die werk om die eerste weergawe van die 2023 konsepbegroting teen 16 Augustus 2022 saam te stel. Baie dankie ook aan die FINKOM en BR wat behulpsaam is met die samestelling van ‘n effektiewe begroting wat noodsaaklik is om werk doeltreffend te help beplan, hulpbronne korrek toe te deel en hulpbronbenutting te help beheer en moniteer.

Ek sluit dan af met die onderstaande stelling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Die eerlikheid maak dikwels seer en dit is dalk die rede waarom so baie mense dit eenvoudig ignoreer.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF