Augustus-maand het skielik sy vriendelike opwagting gemaak. ‘n Baie spesiale maand inderdaad! Vir die meeste mense is Augustus seker maar net nog ‘n maand, maar Augustus-maand is vrouemaand en ek wil spesiaal die maand aan al ons kosbare vrouens in ons skoolgemeenskap wy. Dit is belangrik dat ons die vroue in ons lewens spesiaal eer en erkenning gee vir die waardevolle rol wat hulle in ons lewe en die samelewing speel.

Op Dinsdag, 09 Augustus, vier ons weer Nasionale Vrouedag. Die eerste Nasionale Vrouedag in Suid-Afrika is op 09 Augustus 1994 gevier. Die spesiale dag van die skoner geslag gedenk die nasionale optog van vroue in 1956 waartydens hulle petisie aangeteken het teen wetgewing wat swartmense verplig het om ‘n pasboek te dra. Die doel van die pasboek was om die beweging van swartmense gedurende die apartheidsera te beheer en te beperk. Simbolies gedenk Vrouedag die rol wat vroue gespeel het om die mure van diskriminasie af te breek wat onderskeid getref het tussen mense op grond van hulle ras.

In vandag se tye word daar so baie gepraat en gepleit vir vroueregte, diskriminasie teen vroue asook geweld teen vroue. Dit voel vir my asof dit eenvoudig op dowe ore val, want daagliks hoor jy van stygende getalle van aanrandings en selfs moorde op vroue, maar bittermin vervolging geskied. Weereens besef ons die wonderlike voorreg wat ons het om in ‘n veilige omgewing te werk en te woon. Dus doen ek ‘n beroep op al ons Jannies en pa’s dat ons iets spesiaal vir die ma’s en vrouens in ons lewens beplan en dit ten volle saam met hulle op Dinsdag, 09 Augustus 2022, vier. Jannies, bederf gerus julle ma’s tot in die afgrond en gee vir hulle ‘n stywe drukkie om vir hulle te bedank vir alles wat hulle vir julle doen en beteken.

Graag wil ek al die Jannies en ons ouers/voogde hartlik bedank wat die afgelope naweek die lekker sportdag in Robertson ondersteun het. Daar het op Saterdag, 30 Julie, meer as 2000 leerders aan die gewilde sportnaweek deelgeneem. Skole het van heinde en verre gekom om deel te neem. Kompetisie was baie sterk en as een van die kleinste skole wat aan die sportnaweek deelgeneem het, moes ons alles in die stryd werp om kompeterend te wees. Verder het ons weereens besef dat die plattelandse skole nooit onderskat moet word nie. Onderwysers en skoolhoofde van verskeie skole het my genader om ons Jannies te komplimenteer met hul ongelooflike goeie maniere en sportmanskap. Niks meer kan ‘n skoolhoof en skoolgemeenskap trotster maak as dit nie. Dit is die rede dat ek so breë bors op en af gestap het en probeer het om gesig by elke wedstryd te wys, maar dit was weer ‘n uitdaging op sy eie.

Baie geluk aan ons seniorkoor se puik optrede op Dinsdagaand, 02 Augustus 2022, in die Groote Kerk tydens die Hoërskool Jan van Riebeeck se koorfees. Julle maak ons baie trots en ek kan nie wag vir die volgende optrede nie. Die merkwaardige kerk met die ongelooflikste preekstoel is die oudste kerk in die land. Dit is in 1841 gebou en was op die aand die perfekte venue vir ‘n wonderlike koorfees. Baie dankie aan juf. Helecia (dirigent) en mnr. Ben vir die begeleiding asook juf. Heidré wat met die toesig van ons koorlede gehelp het. Laat my ook toe om Hoërskool Jan van Riebeeck en meer spesifiek mnr. Pieter Rademeyer (skoolhoof) hartlik te bedank vir die uitnodiging en sy span geluk te wens met die puik aand.

Verder beoog ons om ‘n elektroniese tellingbord wat vir rugby-, hokkie- en krieketwedstryde aangewend kan word, by die Conradievelde op te rig. Ons benodig egter fondse en ek neem die vrymoedigheid om te versoek dat indien jy sou belangstel om ‘n finansiële bydrae te maak, my gerus by skoolhoof@jvrprim.co.za te kontak.

Ek sluit dan af met die onderstaande stelling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike langnaweek toe. Geniet die lekker meevallertjie!

“Eerlikheid is die enigste sleutel tot vertroue. Dit kan nooit weer gebruik word as dit eers gebreek is nie.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF