Kwartaal 2 kom vandag na 12 weke tot ‘n einde en ek glo dat ons hele skoolgemeenskap baie uitsien na ‘n welverdiende wintervakansie, veral na ‘n baie besige kwartaal vol pretaktiwiteite.

Ek het so ‘n vinnig refleksie van die kwartaal gedoen en met dankbaarheid kyk ek terug na al die aktiwiteite wat die skool die kwartaal suksesvol aangebied het. Dit sluit onder andere die Kleiduifkompetisie, die Kaperjolle, die Veilingsdinee, musiekkonserte, redenaars en Wiskundekompetisies, verskeie Eisteddfod-geleenthede, kooroptredes, markdae, gr. 6-kamp, gr. 7-Oranjerivier-ekskursie, sosiale media praatjie met leerders en ouers, Dapper Stappers, Jannies vir Jesus, UNISA-musiekeksamens, graaduitstappies, assesseringsweke, eksamen, sportdae, toernooie en wedstryde in. Ons spreekwoordelike beker loop oor van sukses, nie op grond van arrogansie nie, maar suiwer op dankbaarheid.

Verblywend is ook die besluit van die regering om die gesigmaskermandaat asook ander Covid-maatreëls uiteindelik op te hef. Dit word so stil-stil gedoen, maar ek glo dit is amper ‘n geleentheid om “maskervryheid” te vier, veral vir ons leerders. Groot was die opgewondenheid Donderdagoggend voor skool toe die leerders by my wou weet of dit waar is dat die dra van gesigmaskers van die baan is.

Dit is dan my voorreg om Owen Wiese en Liza Hitge onderskeidelik as die Hoofseun en -dogter van 2022 geluk te wens. Hulle is vandag tydens die saalperiode aangekondig. Ons beste wense vergesel hulle met die belangrike leierskaprol wat hulle saam met die leerderraad die res van die jaar gaan vervul.

Graag stel ek die gr. 7’s se Top Tien Akademiese presteerders vir kwartaal 2 bekend. Baie geluk en graag gee ons erkenning aan die volgende leerders vir hul harde werk en toewyding:

  1. Lara Basson
  2. Lea Basson
  3. Liza Hitge
  4. Helene Greeff
  5. Adelé Holtzhausen
  6. Mia Janse van Rensburg
  7. Luja Marx
  8. Kate Mouton
  9. Cara Swanepoel
  10. Owen Wiese

Laat my asseblief toe om die personeel van Laerskool Jan van Riebeeck en Huppelland hartlik te bedank vir hul harde werk en toewyding die afgelope kwartaal. Dit was ‘n lang en veeleisende kwartaal wat ‘n besige buitemuurseprogram asook die eksamen ingesluit het. Baie dankie vir jul toegewyde fokus op ons Jannies om seker te maak dat hulle hul volle potensiaal kan bereik. Laaste maar nie die minste nie wil ek ook ons Beheerraad hartlik bedank vir hulle waardevolle insette en kosbare tyd om te verseker dat ons spogskool van krag-tot-krag gaan. Tydens ons laaste Beheerraadsvergadering op Maandag, 20 Junie, is die volgende belangrike besluite vir jul kennisname rakende die sekuriteit en veiligheid by die skool en Huppelland geneem:

  • Installering van ‘n effektiewe Kringtelevisie-kamerastelsel wat die hekke en heinings/mure van die skool en Huppelland gaan beman.
  • Die kontraktering van opgeleide sekuriteitswagte wat vanaf 19 Julie (die dag wat die skool weer heropen) die hekke vanaf 06:00 – 18:00 Maandae tot Vrydae gaan beman.

Ek glo dat die bogenoemde ‘n groot bydrae tot almal se veiligheid by die skool sal verseker. Baie dankie aan ons Opvoedingstrust wat gaan help om die veiligheids- en sekuriteitsprojek te befonds.

Ek sluit dan af en wens vir almal ‘n wonderlike wintervakansie toe. Reis asseblief veilig en geniet die spesiale tyd saam met jul kinders.

Vriendelike vakansiegroete

Naas Beets
SKOOLHOOF