Hierdie week sluit ons met die besige somersportprogram af waartydens baie sportwedstryde plaasgevind het. Volgende week begin ons met wintersport. Verskeie wedstryde en sportdae is vir kwartale 1 en 2 geskeduleer. Ek kan net soos julle nie wag om ons sportspanne aan te moedig nie.

Vrydag, 4 Maart, het ons die jaarlikse junior swemgala aangebied. Selfs die weer het op dié spesiale dag mooi saam gespeel met toeskouers wat luidkeels ons Grondslagfase swemmers toegejuig het. Graag bedank ek ons ouers/voogde wat tyd afknyp om hul kind(ers) tydens sportaktiwiteite te ondersteun. Al wys die kinders dit nie, is julle teenwoordigheid tydens sportbyeenkomste kosbaar vir hulle. Baie dankie ook aan almal wat die klasbraai op Vrydagaand, 4 Maart, bygewoon het. Die lekker kuier en gesellige samesyn is kosbaar en ‘n tradisie wat ons vir nog lank sal omhels.

Die afgelope week was die fokus primêr op ons kernbesigheid, naamlik akademie. Grondslagfase het die eerste week van hul assesseringsweek suksesvol voltooi terwyl die intersenfase elke Vrydag tydens toetsperiode hul assessering vir die kwartaal aflê. Ek maak graag van die geleentheid gebruik om die opvoeders hartlik te bedank vir die handhawing van hoë akademiese standaarde. Die hoeksteen van ons suksesvolle kurrikulumbestuur sluit onder andere assesserings in wat deeglik beplan en opgestel word. Daarna volg dit ‘n effektiewe modereringsproses en elke formele assessering word deur my afgeteken. Laerskool Jan van Riebeeck was nog altyd bekend as ‘n skool wat se hoë akademiese standaarde ononderhandelbaar is en op hierdie manier van ander skole onderskei word. Baie dankie dat julle jul kinders tydens die assesseringsweke en deurlopede assessering ondersteun.

Op Dinsdag, 8 Maart, het Juffrou Michelle vir ons Grondslagfase ‘n insiggewende en praktiese boodskap oor ons waarde van die maand, naamlik Omgee tydens ons weeklikse saalbyeenkoms gelewer. Tydens die saalbyeenkoms het ons ook vir die eerste keer pragtige sertifikate vir die ‘Jannies van die Week’ oorhandig. Hierdie inisiatief is deur juffrou Nicola geïnisieer om ons Grondslagfase-leerders erkenning te gee wat werklik ons kernwaardes daagliks uitleef sonder dat die juffrouens dit vra. Trots het die volgende leerders saam met my op die verhoog verskyn:

  • Noa Rademan
  • Jan-Jurie Fourie
  • Kitty Partner
  • Christopher Hoffman
  • Cailyn Visser
  • Damian Daniels
  • Julia Schincariol
  • Louis Greeff-Cronjé

‘n Dringende versoek rig ek graag aan ieder en elk: Kyk mooi na jou skool- en sportklere asook persoonlike besittings wat skool toe gebring word. Indien jou kind met ander kinders se tasse, klere, ens. by die huis opdaag, stuur dit asseblief die volgende oggend reeds saam met hom/haar terug skool toe (verlore goedere). Die meeste van ons leerders se klere en persoonlike items is gemerk. Baie dankie vir jou samewerking in die verband.

Laat my asseblief toe om spesiaal vir Sophia Liebenberg (gr. 7) sterkte toe te wens vir môre se Wes-Kaap Atletiekbyeenkoms in die Paarl. Sophia is ons enigste leerder wat vanjaar WP Klere vir atletiek verwerf het en sy gaan môre aan verspring en spiesgooi deelneem. Sophia, ons is baie trots op jou! Sterkte ook aan ons o/13A-rugby- en netbalspanne wat die naweek aan die Bulfeestoernooi te Porterville deelneem.

Ek sluit dan af met die volgende aanhaling rakende die skool se waarde van die maand, naamlik OMGEE:

“Te dikwels onderskat ons die krag van ‘n glimlag, vriendelike woorde, ‘n oor wat luister, ‘n opregte kompliment, of die kleinste bietjie omgee, alles wat die potensiaal het om iemand se lewe heeltemal te verander.”

Geniet die naweek! 

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF