Wat ‘n ongelooflike, spesiale en fantastiese krieketseisoen. Die 0/9 krieket-Jannies was baie bevoorreg om hierdie seisoen vyf wedstryde te kon speel.
 
Vir ons eerste wedstryde het ons aan die Hugo Rust-Krieketfees te Hoërskool Boland Landbou deelgeneem. Dit was ‘n opwindende dag wat afgeskop het met ‘n busrit tot in Wellington. Die spelers het hulle soos ware sportmanne gedra en het die skool se waardes op die sportveld uitgeleef. Ons eerste wedstryd van die dag was teen Hugo Rust. Ons het slegs ‘n paar paaltjies nodig gehad om die wedstryd te wen, maar het ongelukkig verloor. Die Jannies het egter hul koppe hoog gehou en met trots van die veld af geloop. Die volgende wedstryd was teen Wynland. Die Jannies het hulle sokkies opgetrek en die wedstryd met 9 lopies gewen. Hulle het elkeen ‘n medalje vir deelname aan die dag in die saal ontvang.
 
Op 28 Februarie het ons weer ‘n kans gekry teen Llandudno. Span 1 speel gelykop met 35 lopies elk te danke aan Annabella Boshoff wat die wedstryd met ‘n paaltjie op die laaste bal red. Span 2 het ongelukkig daardie wedstryd met drie lopies verloor. 1 Maart het ons by Groenpunt Krieketklub teen Reddam House ASB gespeel. Hier het een span gewen en die ander een het ongelukkig verloor. Die Jannies het die seisoen goed afgesluit toe hulle op die 8 Maart teen Herzlia Highlands by Groenpunt Krieketklub speel. Span 1 het met ses lopies gewen en span 2 met 36 lopies.
 
Ons wil Sports Hub bedank wat die seisoen vir die spelers geleer het van hakhoue, “long barriers” en blokhoue. Die Jannies het die seisoen baie geniet en sowaar op ‘n hoogtepunt afgesluit.