Op Saterdag, 20 November, het Zuletha Ferreira (gr.5) aan die Velddrif myl deelgeneem. Deelnemers moes ‘n myl (1,6km) in die Port Owen kanale swem. Die watertemperatuur was tussen 15 en 17 grade, en die gety was in die guns van die deelnemers. Zuletha het in ‘n wetsuite geswem en dit was haar eerste oopwater swembyeenkoms.  

Die helder water van ‘n swembad met lyne vir rigtingaanwysers is verruil vir donker koffiekleur, souterige water met seegrasse wat jou voete kielie. Zuletha was baie gelukkig om Kayla Stoffberg, ‘n voormalige Jannie wat tans matrikuleer by Hoërskool Jan van Riebeek, as swemmaat te kon hê. Zuletha het die myl (1,6km) in ‘n tydperk van 37:13 voltooi. Volgens ons navorsing was Zuletha een van die jongste deelnemers gewees. Daar het 27 vroue en 19 mans aan die Velddrif myl deelgeneem. Baie geluk Zuletha, jy sal verseker vir baie van die onderwysers en kinders in die skool wegswem.