So eindig die eerste week van die laaste kwartaal op ‘n hoogtepunt met kompeterende vertoontenniswedstryde tussen twee skoolhoofde met beperkte tennisvaardighede voor ‘n opgewonde skare van ouers en leerders wat luidkeels op ‘n Vrydagmiddag aanmoediging verskaf het. So jammer dat die reën die dubbelwedstryd kom bederf het en ongelukkig moes dit afgestel word weens veiligheidsredes. Graag wil ek die skoolhoof van Hoërskool Jan van Riebeeck, Pieter Rademeyer, en sy span asook Yurich Daniels hartlik bedank vir die wonderlike inisiatief. Baie dankie vir al ons ouers en my “fan club” (onderwysers en Jannies) wat die wedstryd bygewoon het om my te ondersteun asook al ons ouers / voogde wat ‘n finansiële bydrae tot die inisiatief gelewer het. Hiermee wil ek die skoolgemeenskap verder verseker dat die laer- en die hoërskool vir nog menigte geleenthede saam hande gaan vat om die goeie verhouding tussen die twee puik skole vir die toekoms te verseker. Dit is vir ons as voederskool uiters belangrik dat die Hoërskool JvR ook van krag-tot-krag sal gaan.

Hierdie afgelope week het die buitemuurse program suksesvol afgeskop. Ons Jannies is baie opgewonde om hul gunsteling somersportkode weer te kan beoefen. Die eerste krieketwedstryde het gister tuis teen Reddam House ASB o/13 plaasgevind terwyl van ons leerders op Saterdag, 23 Oktober 2021, aan die Handri Westmann o/13 Tennistoernooi te Ceres gaan deelneem. Ons beste wense vergesel hulle en baie dankie aan juffrouens Mardry en Andri wat ons spanne na Ceres gaan vergesel.

Dalk het van julle opgelet dat ek nie vanaf Maandagoggend, 18 Oktober, agter by die skool diens by die voetoorgang gedoen het nie. Ek het Sondagmiddag tydens ‘n krieketnetsessie met my seun ongelukkig my regterenkel beseer. Ek boul en gooi ongelukkig nie meer vinnig genoeg nie en daarom gebruik ek ‘n “robo-arm” om vir hom krieketballe te gooi om sy kolfwerk op te skerp. Natuurlik moet ek die afstand tussen hom en myself verkort om te verseker ek gooi die krieketbal vinnig genoeg om aan o/19-standaarde te voldoen. Die van julle wat krieket ken of nog voltyds speel, weet dat hoe vinniger jy boul, hoe vinniger kan die bal ook van die kolf af kom en daar tref dit my direk teen die enkel. Ek kon eenvoudig net nie vinnig genoeg uit die pad kom nie. Gelukkig het die x-strale getoon dat niks gebreek is nie, maar daar is erge kneusing en inflamasie. Ek weet dit klink soos ‘n wolhaarstorie, maar dit was bitter seer. Graag wil ek vir Barbara Kemp hartlik bedank wat vir my Maandagoggend gou kon reël om vir x-strale te gaan asook vir ‘n mediese ondersoek. Baie dankie aan die leerders wat kom inloer het om seker te maak dat hul skoolhoof darem nie in te veel pyn is nie. My herstel vorder goed en ek sal binnekort weer twee-voetig op die been wees, maar vir eers mag ek nie baie beweeg nie en dit gaan ‘n groot uitdaging wees.

Ek het ook op Woensdag, 20 Oktober, die voorreg gehad om na die Gr. 7-NW mini-ekspo in die saal te gaan bywoon. Die onderwerp was Energie. Die graad 5 – 7-leerders het ook vinnig kom inloer. Energie is so fassinerend aangesien dit van een voorwerp na ‘n ander oorgedra kan word. Energie het die potensiaal om in kinetiese energie omskep te word. Ek was so beïndruk met die verskeie voorleggings van die Gr.7’s se eksperimente wat onder andere die volgende ingesluit het:

  • Groente-aangedrewe voertuig (aartappel, ui en suurlemoen). Die aartappel het die langste afstand afgelê, maar die suurlemoen was die vinnigste. Die ui het ongelukkig nie beweeg nie.
  • Flambojante vuur waar leerders eksperimente doen om die kleur van ‘n vlam te verander.
  • Hoe vinnig ‘n battery-aangedrewe karretjie kon beweeg met verskillende batterye. Die karretjie is uit herwinbare items gebou.
  • Energieoordrag van ballon na karretjie. Hoe groter die verplasing van lug, hoe vinniger en verder het die karretjie beweeg.
  • Skep van lawalamp in ‘n gewone glas.

Graag wil ek juffrou Izél Storm vir haar puik inisiatief en leiding met die indrukwekkende energie-ekspo bedank. Ouers wees verseker dat sodra ons weer toegelaat word, ons julle in die toekoms sal uitnooi om die tipe van ekspo’s of ander uitstallings ook by te woon. Ek is so trots op ons Jannies. Besoek gerus die JvR-Kiek (sien die insetsel daaroor in hierdie nuusbrief) vir foto’s.

Ons waarde vir die maand is EERLIKHEID. Die waarde raak alle fasette van die lewe en berus fundamenteel op respek. As die mensdom in alle opsigte eerlik is, sal daar sekerlik geen korrupsie wees nie, geen moorde en geen oorloë nie. Ons eerste uitdaging is natuurlik om met onsself eerlik te wees. As onvolmaakte mense is dit so maklik om te swig in die verband. Dus wil ek julle versoek om ons as personeel ook by te staan om leerders te help om die konsep te verstaan. Daar moet dus gereeld oor die spesifieke waarde gepraat word. Ons as volwassenes moet die kinders begelei. By voorbaat dankie dat julle die gesprekke met jul kinders verder sal neem sodat ons verseker hulle word mense van integriteit. Die waardes en gesindhede waarmee ons daagliks lewe, beïnvloed die wyse waarop ons aansluiting by ander mense vind.

Ek sluit dan met die volgende aanhaling af wat na eerlikheid verwys en wens julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Honesty is telling the Truth to
ourselves and others.
Integrity is living that Truth.”