Ons sluit week 8 van kwartaal 3 af met die begin van ‘n heerlike langnaweek as ‘n welkome meevallertjie. Die beste deel van die langnaweek is natuurlik dat Vrydag, 24 September, Erfenisdag is, ook bekend as Nasionale Braaidag. Ons vier jaarliks Erfenisdag waar Suid-Afrikaners as ‘n reënboognasie aangemoedig word om hul eie kultuur te gedenk. Erfenisdag gaan nie net oor eie kulture van afsonderlike groepe nie, maar eerder ook oor uitreiking oor die verskillende kultuurgrense heen. Dit sluit elemente van nasionale eenheid, nasiebou en belangrik, versoening in. Die doel is juis om ons jeug aan te moedig om ons gedeelde erfenis in ere te hou. Sedert 2008 word Nasionale Erfenisdag deur Jan Braai onder die vaandel van Braai vir Erfenis as nie-winsgewende inisiatief bemark. Ek glo dat meeste van julle ook op die spesiale dag ‘n groot vuur gaan aansteek en ‘n lekker stukkie vleis (skaapkotelette, beeshaas, sosaties, hoender, vis, braaiwors, ens.) oor die oop kole braai.

Verlede Vrydag het die Gr.5-leerders vir Geskiedenis ‘n opwindende Egiptedag gehou. Hulle het geklee soos ware farao’s, mummies, Cleopatras, soldate, goeweneurs, slawe of adelikes skool toe gekom. Baie dankie aan juf. Mardry vir die wonderlike inisiatief asook die toekenning van pryse aan die leerders wat die beste geklee was. Ons leerders geniet die deel van die kurrikulum terdeë en kan nie uitgepraat raak oor die teorieë rakende die bou van die piramides en sfinkse nie. Die proses van mummifikasie, die geheimsinnige hiërogliewe asook die legendariese Toetankamen en Koningin Nefertiti fassineer ons leerders geweldig en dit is lekker om te sien hoe hulle entoesiasties oor antieke Egipte praat.

Ons skool se waarde vir die maand is selfbeheersing. Ek glo selfbeheersing is om vir jouself duidelike grense te stel en daarby te hou. Hierdie is beslis ‘n uitdagende waarde om uit te leef veral tydens die ongekende tyd van die pandemie. Die drakoniese reëls tydens die grendelperiodes het ons baie ingeperk en die moderne Suid-Afrikaner het maar ‘n broertjie dood aan voorskriftelikheid. Dus om jouself vandag tydens die pandemie te beheer, is geen geringe taak nie. Aristoteles het gesê: “Die mens wat sy eie drange kan afdwing, is moediger as die wat baie vyande oorwin het.” Wat kan ons doen as volwassenes om ons kinders te help as dit by selfbeheersing kom? Ek dink om die voorbeeld te stel, is uiters belangrik. Sien ons kinders dat ons, ons humeur in ‘n verkeersknoop totaal en al verloor of in die winkel as iemand by ‘n ry indruk? Die beste raad om ons kinders te help om selfbeheersing aan te kweek, is om dit self te toe te pas. Dit is ook belangrik dat ons, ons kinders leer dat hul dade gevolge het. Prys jou kind wanneer hy/sy selfbeheersing toegepas het. Gebruik rolspel indien nodig om potensiële situaties na te boots en help hulle om daarop ‘korrek’ en geduldig te reageer. Sterkte, ons kan almal hierby leer!

Die skoolbestuur wil graag weer ons ouergemeenskap se mening oor allerlei sake inwin. Dus wil ek julle vriendelike versoek om aan ons meningspeiling deel te neem. Dit is maklik en gou om in te vul. Die sperdatum is 11 Oktober 2021 en jy is welkom om anoniem te bly.

Ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe, lekker braai, wees veilig en graag sluit ek af met die volgende aanhaling deur Ralph W. Emerson:

“What you do
speaks so loudly
that I cannot hear what you say”