Tyd gaan ongesiens vinnig verby. Ons het die einde van die 2de week van die 3de kwartaal asook die aanbreek van ‘n nuwe maand binne ‘n oogwink bereik. Ons beleef tans ongekende tye, maar terselfde tyd word veral ons sportliefhebbers lekker bederf met die 2020 Olimpiese Spele wat ons daaglik op die skerms vermaak. Die “gekweste” Springbokke het die afgelope naweek die Britse en Ierse Leeus teen die toue gehad en wen die tweede toets in ons agterplaas met 27 – 9, nadat hulle rustyd 9 – 6 agter was. Wonderlik om te weet dat hierdie geskiedkundige oorwinning tot nasiebou en nasietrots lei wat ons kwesbare land op die stadium so desperaat nodig het.

Trots is ons beslis ook op ons Suid-Afrikaanse Olimpiese medalje-wenners , naamlik die swemsensasie Tatjana Schoenmaker wat goud en silwer gewen het asook Bianca Buitendag wat ‘n silwer medalje vir branderplankry verower het. Tatjana word die eerste Suid-Afrikaanse vrou in 25 jaar sedert Penny Heyns, wat weer goud in swem kon verower en dit met ‘n nuwe wêreldrekord vir die 200m borsslag vir vroue. Hul merkwaardige prestasies kon nie op ’n beter tyd kom nie, aangesien ons op Maandag, 9 Augustus 2021, Nasionale Vrouedag vier. Alhoewel die publieke vakansiedag ‘n lekker meevallertjie is met ‘n lekker langnaweek wat daarmee gepaard gaan, moet ons nie vergeet wat die spesiale dag se historiese konteks behels nie. Met Vrouedag in Suid-Afrika bring ons hulde aan ons nasie se vroue wat op 9 Augsutsus 1956 ‘n optog na die Uniegebou in Pretoria gelei het om teen die voorgestelde paswette te protesteer. Die optog is ‘n herinnering aan alle vroue wat Suid-Afrika help bou het sowel as die baanbrekervroue wat vandag nog steeds ons pragtige land na hoër hoogtes lei. In my beskeie opinie moet daar nog baie gedoen word om die regte van vroue in ons land te erken en gelyke geleenthede te skep aangesien die realiteit van baie vroue in ons land steeds nie rooskleurig is nie. Kom ons maak Vrouedag baie spesiaal vir die wonderlike vrouens in ons lewens!

Jammer dat ek weer die pandemie opbring, maar ek wil ‘n ernstige versoek rig dat ons nog steeds die Covid-19 protokol, veral by die skool, ernstig moet eerbiedig. Dus versoek ek om asseblief nie wanneer julle jul kinders by die skool kom op- of aflaai uit jul voertuig te klim nie. Dit moet meer die uitsondering as die reël wees. Ek verstaan soms het kinders hulp nodig om hul rugsakke uit die kattebak te kry. Wat my egter pla, is dat ouers/voogde/au pairs nou ewe skielik makliker uit hul voertuig as te vore klim en dit dikwels sonder maskers om geselsies aan te knoop. Die Wes-Kaap gaan nog steeds ernstig gebuk onder skerp stygende infeksiesyfers en ons kan nie nou ons louere laat sak nie. Al het ons inentings ontvang, is ons nog almal kwesbaar. Baie dankie vir julle samewerking in die verband.

Nuwe Covid-regulasies rakende buitemuurse aktiwiteite is aan skole gestuur waar ons toegelaat word om buitemuurse aktiwiteite versigtig en verantwoordelik weer te begin. Dus sal wintersportoefeninge op Dinsdag, 10 Augustus 2021, begin. Verder ontvang julle vandag saam met jou kind se rapport ook ‘n buitemuurse program vir die kwartaal. Let wel dat daar volgende week net skoolsport op Dinsdag, 10 Augustus, is aangesien Maandag ‘n publieke vakansiedag is en ouerafsprake op Woensdag, 11 Augustus, en Donderdag, 12 Augustus, plaasvind. Sport gaan dan weer op Maandag, 16 Augustus, voort. Ek het nog een laaste versoek aan ouers/voogde/au pairs wat lank voor die skooldag eindig, in hul voertuie op die skoolperseel wag vir die skool om uit te kom, om asseblief so te parkeer dat dit nie die vloei van verkeer belemmer nie. Parkeer asseblief sover as moontlik weg van die rooilyn wat die deurvloei aandui.

Ons innige simpatie met die heengaan van tannie Marie de Kock wat vir jare so getrou ekstra akademiese ondersteuning aan ons leerders gebied het.

Graag sluit ek af en wil ek vra dat julle ook vir Rentia (Kunsjuffrou) en Anet (arbeidsterapeut) in jul gebede hou, aangesien hulle onderskeidelik hul pa en suster onverwags die week aan die dood moes afstaan. Ek gaan nou soos ‘n ou platespeler klink wat vashaak, maar kyk mooi na jou geliefdes en spandeer tyd saam met hulle – die lewe is kort! David Wilkerson sê: “Liefde is nie iets wat jy voel nie, maar eerder iets wat jy doen!”

Geniet jul naweek en wees veilig.