Karu Rademeyer het tydens die Junie-vakansie aan die ATKV se DigiSkryf-kompetisie deelgeneem. Karu het haar eie gedig, My Afrikaans, geskryf. Volgens haar pa, Pieter, het sy sommer lekker uitdrukkings en idiome uit haar redenaarstoespraak van vroeër die jaar gebruik. Karu spog met ‘n pragtige serfikaat. Ons is baie trots op haar! Lees gerus haar pragtige gedig:

My Afrikaans

Nuuskierige agie. Sak patats. Ontnugtering. Smulpaap.
My Afrikaans is uniek en asemrowend.

Ek hou daarvan om op die langpad na tannie Laurika Rauch te luister en ek en my boetie
sing “Blou” kliphard saam. Afrikaanse musiek laat die ritme deur my DNA vloei.

Bobotie op ’n koue Kaapse wintersaand saam met my familie is heerlik en om op ’n warm
somerdag Kirstenbosch se velde te besoek en op daai lang Boomslangbrug te baljaar, laat
my trotse Afrikaanse hart vinniger klop.

In juffrou Meiring se Afrikaanse klas ontdek ek my Afrikaans in haar woordsoorttassie:
van selfstandige naamwoorde tot telwoorde … en een, twee, drie leer ek elke dag iets
waardevol wat my vir my toekoms voorberei.

Ek wil nie beet tussen my beddings plant nie. Ek wil my kleurvolle Afrikaans elke dag
prontuit praat.

Karu Rademeyer
Graad 4