Vandag kom ons aan die einde van die 7de akademiese week van ‘n besige kwartaal 2. Die Graad 7’s het ook vandag met eksamen begin deur Wiskunde te skryf. Week 7 was ‘n baie opwindende week waaroor ek nou-nou meer sal uitbrei en die enigste demper is natuurlik dat ons President, mnr. Ramaphosa, Woensdag afgekondig het dat ons land weens die impak van die 3de vlaag van die Covid-19 pandemie na vlak 3 inperking van die grendelstatus beweeg. Ek glo julle wonder ook nou meer as ooit te vore wanneer sal ons uit die kloue van die onsigbare vyand kan ontsnap. Daar is beslis lig aan die einde van die baie lang tonnel vir Suid-Afrika en die res van die wêreld om binnekort die aanslag ook te oorwin. Al vorder die regering se inentingsprogram teen ‘n slakkepas, is daar altyd hoop. Ek daag ons skoolgemeenskap uit om elke dag hoop en deernis uit te leef en veral om vir ons leerders ‘n voorbeeld te stel, want hierdie twee elemente is krities tydens die moeilike tye van vrees, twyfel en onsekerheid. Weer eens wil ek julle hartlik bedank dat julle saam met ons as personeel en Beheerraad die skool asook die land se Covid-19 protokol ten alle tye eerbiedig om sodoende die druk op ons gesondheidstelsel tydens die eksponensiële toename in Covid-19 gevalle te help verlig waar mense dringend mediese hulp benodig.

Op ‘n baie meer positiewe noot het ons op Dinsdag, 15 Junie, ‘n ‘lekker lawwe haardag’ vir die Gr.4 – 7-leerders by die skool gehou. Dit is so belangrik dat ons leerders se aandag en bekommernisse oor die komende eksamen asook die pandemie herlei moet word na positiewe en vrolike geleenthede. Ek was verstom met al die indrukkwekkende haarstyle en die kreatiwitiet was ongelooflik. Met min en yl hare het ek maar lekker afgesteek by ons kreatiewe leerders. Vandag is dit die Gr.1 – 3’s se beurt om hulle lawwe haarstyle ten toon te stel. Vir my is dit so belangrik dat ons leerders meer geleenthede moet kry om sommer net lekker laf te wees, om kind te wees en ons leuse uit te leef naamlik, “Wees jouself!”

Woensdag, 16 Junie, was natuurlik die herdenking van Jeugdag. Laat ons nie vergeet van die sowat 600 jongmense wat op 16 Junie 1976 hul lewens in Soweto opgeoffer het nie. Sowat 200 000 leerders het op dié dag teen die inwerkingstelling van Afrikaans en Engels as die enigste onderrigtaal betoog. Hierdie dag is meer as net ‘n historiese konteks; die dag het ook stem gegee aan ons jongmense oor kontemporêre probleme in ons land, want hulle is die toekomstige leiers. Ons jongmense en kinders word vandag groot in abnormale omstandighede met geweldige groot uitdagings. Ek glo hul sal oplossings vir hulle tyd vind. Ons geslag het nie dalk nou die oplossings nie, maar die jongmense vandag met hul veerkratigheid en kreatiwiteit sal beslis die bul by die horings pak. Ons moet net egter tyd maak om vir hulle te luister en nie net eenvoudig hul oplossings af te skiet nie.

Graag wens ek al ons wonderlike pa’s ‘n geseënde Vadersdag op Sondag, 20 Junie, toe. Hoop en vertrou julle word tot in die afgrond bederf.

Ek sluit af met die volgende aanhaling van John Wooden met die herdenking van Jeugdag as agtergrond: ‘’Young people need role models, not critics’’.