Hierdie week het vir baie van ons gesinne met heelwat onbeplande chaos begin nadat Tafelberg Sondag begin brand het. Ons span by die skool was al vroeg Maandag- en Dinsdagoggend aan die gang om alles vir die atletiek reg te kry en om te besluit of dit veilig vir ons is om met die byeenkomste voort te gaan. Ons is ongelooflik bevoorreg dat ons velde so geleë is dat ons op Maandag slegs die rook van ver gesien het en Dinsdag die minimum daarvan sien verby kom het. Ons leerders het letterlik Maandag met die wind van agter gehardloop dat dit vir sommige van die klein lyfies seker gevoel het asof hulle vlieg. Heelwat van ons jonger Jannies het kort-kort met mnr. Beets, ons aankondiger, ‘n geselsie kom aanknoop. Die kinders het almal die geleentheid gehad om aan ‘n uitdun-wedloop deel te neem waarna die top 6 volgens hul tye gekies is om aan die finaal deel te neem. Die tyd het ons bietjie ingehaal en ons kon nie al ons beplande “anderste” aktiwiteite doen nie, maar die wat ons wel kon doen, was vir almal baie lekker.

Met die boonste pieke van die berg wat nog gebrand het, het ons Dinsdagoggend met die voorbereidings vir die dag begin. Ons is ongelooflik bly oor elke atleet wat deelgeneem het, die getalle vir deelname was uitstekend. Ons dag het stadig begin, maar ons was vinnig op dreef. Met die helikopters wat in die agtergrond steeds die brande geblus het, het ons leerders aan die een item na die ander deelgeneem.

Beide dae se byeenkomste was vir pret en a.g.v. onder andere die COVID-regulasies, moes ons die getal beamptes tot ons beskikking aanpas. Die tye en afstande gaan dus nie amptelik in ag geneem word vir rekords of bekers nie. Ons beplan om weer ons groot Kleuresport Atletiekbyeenkoms aan die einde van die jaar te hou. Baie dankie vir almal se ondersteuning en baie geluk aan elke leerder met hul prestasies. Aan die einde van die dag het ons ons doelwit bereik: dat dit vir die leerders ‘n pret-dag moet wees.

ATLETIEKUITSLAE