Hoop en vertrou dat almal ‘n heerlike langnaweek geniet het. Ons het die einde van die 6de akademiese week suksesvol bereik, nog ‘n mylpaal en ons fokus is nog steeds op die 2021 Beheerraadsverkiesing.

Die verkiesing van die nuwe Beheerraad (BR) is naas die Algemene verkiesing die belangrikste gebeurtenis in die Suid-Afrikaanse skolestelsel en die land as ‘n geheel. Daar is meer as 24,000 skole landwyd wat in Maart en April nuwe beheerrade sal verkies wanneer die termyn van die vorige verkose beheerliggame ten einde loop.

Julle sal later vandag toegang per WhatsApp tot die verkorte CV’s en individuele foto’s van ons 11 genomineerde kandidate ontvang. Om die verkiesingsproses meer te verpersoonlik, het ons op baie kort kennisgewing besluit om ‘n kort video (90 sekondes) van elke kandidaat te skiet waartydens hulle motiveer waarom daar spesifiek vir hulle gestem moet word. Die video’s sal ingesluit wees in die kennisgewing met die foto’s en CV’s.

Die verkiesing vind op Dinsdag, 30 Maart 2021, d.m.v. VotingCrowd plaas. Dié aanlynverkiesingsfasiliteit sal op 30 Maart vanaf 06:00 beskikbaar wees en dit sluit stiptelik om 18:00. Hierdeur wil ons al ons ouers betrek deur die proses so gerieflik moontlik te maak deur in jou eie tyd en plek te stem. Ons sal Maandag, 29 Maart, meer besonderhede stuur oor die aanlynverkiesingsproses. Ek doen dus ‘n ernstige beroep op elkeen om asseblief te stem, want dit bepaal die toekoms van ons skool asook die feit dat die verkiesing net wettig verklaar sal word indien daar ‘n kworum teenwoordig is, m.a.w. 10% van ons ouers moet stem.

Daar is 5 vakante posisies vir die ouerkomponent van die beheerraad waarvoor jy moet stem. By voorbaat dankie dat jy berokke gaan wees deur aan die verkiesing deel te neem. Leierskap in skole was nog nooit so belangrik soos nou nie. Volgens my moet leierskap vandag gebaseer word op deursigtigheid, doelgerigheid, inspirasie en omgee. Graag haal ek John Maxwell oor leierskap aan:

“Leaders become great not of their power but of their ability to empower others.”

Dan wil ek graag al die leerders en ouers hartlik bedank vir al die paaseiers wat so hartlik en ruim vir die liefdadigheidsorganisasie, Lions, vir hul ‘paaseierprojek’ vir minder bevoorregte kinders, geskenk het. (Sien foto hierby ingesluit.)

Hartlike dank aan ons ouers wat aan die meningsopname deelgeneem het om te bepaal of daar belangstelling vir deelname aan ‘n Eeufees Gholfdag is. Dit is dan my voorreg om aan te kondig dat die Eeufees Gholfdag op Vrydag, 28 Mei 2021, te ‘Pearl Valley Gholflandgoed’ sal plaasvind. Hierdie dag sou nie moontlik gewees het sonder die hulp en reëlings van Ria Hertzog en Alet Loubser nie. Baie dankie julle twee en ons sien uit na ‘n heerlike gholfdag en samesyn op die ikoniese Jack Nicklaus-ontwerpte gholfbaan. Verdere kommunikasie sal volgende week volg.

SAMI (SA Memory Institute) nooi alle ouers van ons skool uit na ‘n inligtingsessie op Maandag, 29 Maart, om 18:00 om terugvoer te gee rakende leerprofiele. Kliek HIER vir die Zoom ID en wagwoord en verdere inligting.