So breek week 3 van die aangepaste kwartaalkalender aan met die goeie nuus van ons president, Mnr. Cyril Ramaphosa, dat die land se grendelstatus tot vlak 1 aangepas word.

Dit is goeie nuus vir alle Suid-Afrikaners en bring groot verligting vir ons land se kwesbare ekonomie. Die aandklokreël wat tot middernag verleng is, verskaf meer tyd om ons behoefte aan sosiale interaksie op ‘n verantwoordelike wyse te geniet. Baie dankie vir al die Graad 1-ouers wat op Woensdag, 3 Maart 2021, vir die oueraand en piekniek opgedaag het. Ek waardeer julle teenwoordigheid en verwelkom jul betrokkenheid by die skool. Wanneer ouers betrokke by die skool is, ontmoet hulle die opvoeders asook ander ouers om sodoende die gemeenskaplike belang net verder te vergroot. Vir my is die ouers en die skool in ‘n kardinale vennootskap en met jul aktiewe betrokkenheid word die lojaliteit teenoor die skool en sy personeel verstewig. Jane D. Hull het die volgende stelling gemaak: “At the day, the most overwhelming key to a child’s success is the positive involvement of parents’’.

Verder is ek baie opgewonde en sien ek daarna uit om julle en jul gesinne vanaand by die piekniekfunksie te ontvang. Ek is op diens by die Conradieveld, maar sal beslis kom inloer by die skool. Ek glo en vertrou dat ons almal die samesyn sal geniet en nuwe kennisse sal maak. Baie dankie by voorbaat dat julle die Covid-19 protokol tydens die funksie sal eerbiedig.

Neem asseblief kennis van die volgende:

1. Verkiesing van die 2021 Beheerraad (BR):
Neem asseblief kennis van die volgende belangrike inligting:
● Termyn: 2021 – 2024 (3 jaar).
● Ouerverkiesing geskied virtueel d.m.v. VotingCrowd op Dinsdag, 30 Maart 2021. Verdere reëlings en tydsgleuf om aanlyn te stem sal spoedig volg.
● Die ouerkomponent van die BR bestaan uit 5 posisies.
● Die volgende ouers wat die vorige BR verteenwoordig het, het hulsef weer verkiesbaar gestel:
⮚ Merwe Scholtz (Voorsitter)
⮚ Izelle Venter (Onder-voorsitter)
⮚ Esri Marais
● Benoeming/nominasie begin reeds (vandag) Vrydag, 5 Maart 2021, en sluit Dinsdag, 16 Maart 2021, om 10:00.
● Benoeming/nominasie moet met ‘n kort CV en foto vergesel word.
● Voltooide benoemings/nominasies moet by Adri (ontvangs) ingehandig word.
● Ons skool se verkiesingsbeampte is mnr. Chris Storey, skoolhoof van Laerskool Kampsbaai. Ek is die verkeisingsbeampte vir Hoërskool Jan van Riebeeck. Skoolhoofde mag nie hul eie skool se BR-verkiesings hanteer nie.
● Benoeming/nominasievorms is ook beskikbaar by Adri (ontvangs) of jul kan die onderstaande skakel volg.

Volg asseblief die skakel vir toegang tot die volgende:
AANHANGSEL A: Kennisgewing van benoemingsbekragtigingsvergadering en verkiesing wat die proses en sperdatums bevat; en
AANHANGSEL B: Benoemings/nominasievorm vir verkiesing van ouers tot die Beheerraad.

2. Swemgala

Weens die groot belangstelling het ons besluit om die swemgala eerder oor 2 dae aan te bied:
● Grondslagfase: Do., 18 Maart
● Intersenfase: Vr., 19 Maart
Razelle sal binnekort die nodige inligting voorsien. Ongelukkig sal ouers nie die geleentheid kan bywoon a.g.v. Covid-protokol nie.