Beste Ouer(s) en Voog(de) 27 Maart 2020

Soos per die skrywe van Dinsdag, gaan afstandonderrig vir Laerskool Jan van Riebeeck se leerders vanaf 6 April plaasvind via die Google Classroom-platform. Dit is nie opsioneel nie, dit word van alle ouers en leerders verwag om saam te werk. Hiersonder sal jou kind akademies te ver agter raak.

Die proses is ook vir die onderwysers ’n leerkurwe en ons vra julle geduld en ondersteuning in hierdie onbekende tydperk. Ons sal seker maak die plan werk so goed moontlik en aanpas waar nodig.

Hier is jou volledige gids:

A. WAT EN WANNEER

Hier is die tydlyn vir die volgende tydperk.

18 tot 30 Maart:
Vakansie

31 Maart tot 3 April:
Leerders werk aan die opdragte wat reeds per e-pos of hand gegee is deur onderwysers. Van die opdragte bv. die boekverslae gaan langer neem en hoef nie teen 6 April voltooi te wees nie. Indien daar enige vrae oor die werk is, kan ‘n e-pos aan die betrokke onderwyser gestuur word of ‘n vraag kan op Google Classroom gevra word. Die onderwysers sal binne 24 uur jou/jou kind se vraag beantwoord. Leerders moet asb. teen 1 April inteken op Google Classroom.

Vanaf 6 April tot die skool weer fisies begin:
Afstandonderrig via Google Classroom. Die kurrikulum gaan so normaal moontlik voort. ’n Spesiale rooster gaan opgestel word aangesien die hele graadgroep elke dag dieselfde werk moet voltooi.

B. PLATFORM en HOE DIT WERK

B1. Google Classroom
Video’s, leeswerk of skriftelike verduidelikings van spesifieke vakke (aangebied deur ons eie onderwysers) word daagliks opgelaai, gewoonlik saam met relevante opdragte. Die memorandum(s) sal die volgende dag gestuur word en die leerder merk self sy werk en doen verbeteringe, net soos in die klas!

B2. Grondslagfase
1. Kliek HIER vir ’n video wat verduidelik hoe om met Google Classroom te werk.
2. Ons sal daagliks opdragte op Google Classroom laai en ook die voorgestelde hoeveelheid tyd wat leerders daaraan moet spandeer aandui.
3. Julle het reeds ‘n harde kopie van die werkstukke wat julle by die skool opgetel het, of self uitgedruk het na ontvangs per e-pos. Indien julle dit nie kon druk nie, kan dit op ‘n ander papier gedoen word.
4. Die opdragte kan op die papiere self voltooi word.
5. Op Google Classroom is daar ‘n Google Sheet gelaai (getiteld Afstandonderrig bywoning). Ouers/leerders moet elke dag daarop ingaan en afmerk dat hulle wel die dag se werk gesien het en daaraan werk, soos in die video verduidelik.

B3. Seniorfase:
1. Kliek HIER vir ’n video wat verduidelik hoe om met Google Classroom te werk.
2. Leerders moet verkieslik teen 09:00 al begin werk het en dan hul take vir die dag voltooi.
3. Daar sal elke dag opdragte vir drie/vier leerareas gegee word.
4. Die take behoort nie die leerders vir langer as drie tot vier ure besig te hou nie.

C. TYE VANAF 6 APRIL 2020

1. Ons besef dat daar in party huishoudings waar daar meer as een leerder is, dalk nie genoeg toerusting sal wees sodat leerders tegelykertyd kan werk nie. Ons besef ook dat baie ouers self moet werk en verskeie dinge gedoen kry — elke huishouding kan self bepaal hoe hulle die ure gaan aanwend. Ons stel voor dat jy wel ’n werkbare en gereelde roetine daarstel. Dit sal dinge vir die leerders makliker maak.
2. Die opdragte sal teen soggens 09:00 beskikbaar wees en die ideaal is dat alle take voltooi is teen 19:00 saans. As spertye vir opdragte nie vir dieselfde dag gestel is nie, sal die onderwyser dit so aandui.
3. As jou kind nie gesond is nie of jul het ’n ander probleem, stel asseblief jou klasonderwyser teen 09:00 per e-pos in kennis dat die leerder vir daardie dag afwesig is.
4. Onderwysers sal aanlyn beskikbaar wees vir enige vrae tussen 10:00 en 12:00 en weer tussen 16:00 en 17:00.

D. MY KIND SE E-POS-ADRES

Soos per die video’s by afdelings B2 en B3 hierbo, sal jy sien dat elke leerder ’n e-posadres nodig het. Alle leerders (Gr.1-7) se e-pos-adresse is reeds geskep.
– Die e-posadres lyk as volg: Eerste 3 letters van hul naam, eerste 3 letters van hul van,
@jvrprim.co.za , bv.: Jannie Botha – janbot@jvrprim.co.za
– Die wagwoord word as volg saamgestel: Eerste 3 letters van hul naam, toelatingsnommer
(unieke nommer op elke kind se rapport) bv.: jan12345
Indien jou kind nie sy/haar wagwoord kan onthou nie, stuur ’n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za. Sy kan jou help. Gr.1 en 2 se wagwoorde sal aan hulle gestuur word, omdat hulle dit nog nie ken nie.

E. TEGNIESE NAVRAE

Vir enige tegniese- en dataprobleme, kan ’n e-pos aan suzaan@jvrprim.co.za of leon@jvrprim.co.za gerig word.

Moet asseblief nie huiwer om met jou klasonderwyser per e-pos in verbinding te tree as daar probleme of vrae is nie. Ook, dit sal wonderlik wees as ons leerders ekstra tyd gebruik om te lees, dit sal almal net goed doen!

Vriendelike groete,

Lucia de Jager
Benita Smit