Dit het onder ons aandag gekom dat ons kinders al hoe minder Afrikaans as geselstaal gebruik. Dit het ‘n negatiewe impak op ons kinders se algemene vaardighede in Afrikaans. Ek het ‘n bietjie onder die kinders gaan navorsing doen hoekom hulle liewer Engels praat en hul redes het my verbaas. Tydens
hierdie week se saalbyeenkoms het ek die twee hoofredes mét my teenargumente met hulle bespreek. Dit is ongelooflik dat verskeie kinders vir my gesê het: “Juffrou, dit pla my ook!”

1) “Dit is cool om Engels te praat!” (Vir ingeval jy wonder, “cool” is in die HAT)

Twintig persent van die wêreld se populasie kan Engels verstaan terwyl minder as een persent Afrikaans kan verstaan. So wat ís nou die “coolste” taal? Beslis Afrikaans!

2) “My maat verstaan beter Engels, so ek help hom/haar.”

Jou maat is in ‘n Afrikaanse skool waar al die assesserings (behalwe Engels) in Afrikaans afgelê word. Indien jy dus jou maat wil help, help hom/haar om sy/haar Afrikaans te verbeter deur suiwer Afrikaans te praat.

Die graad sesse het blink planne en beoog om speel-speel ander tale op ons speelgrond te beperk. In die proses gaan hulle sommer die Jannies se taalkennis uitbrei! Die eerste plan is om idiome uit te deel. Indien hulle hoor iemand praat ‘n ander taal, gaan hulle vir die persoon/groep ‘n idioom gee. Vir die gr.1-2 leerders gaan hulle verduidelik wat die idioom beteken en die ouer kinders moet die betekenis van die idioom gaan uitvind en terugvoering gee.

Ons maak staat op julle as ouers se ondersteuning. Gesels sommer hieroor by die huis ook en help ons om ons kinders se Afrikaanse vaardighede te verbeter. Hulle sal beslis die vrugte pluk!

L. de Jager
(Vakhoof: Afrikaans)