Dis weer tyd vir ons jaarlikse opname waar ouers genooi word om hul opinies te lewer oor kernfasette van die skool. Kliek HIER om die vraelys te voltooi (voor of op 11 Oktober 2019).

Julle insette is baie welkom en is ’n beduidende rigtingaanwyser vir die personeelkorps en die Beheerraad. Verlede jaar se antwoorde het belig dat ons leerders baie gelukkig is by die skool en dat ons akademiese benadering positief beskou word. Drie aspekte is uitgesonder as minder positief en het meer aandag geniet die afgelope jaar: Sport, diversiteit en godsdiens.

Hier is ’n lys van onlangse projekte:

SPORT: Hokkie is ingesluit as wintersport, ’n proefkontrak met ’n swemskool is gesluit asook ’n Suid-Kaap-toer, sportklinieke en meer wedstryde is georganiseer vir rugby en netbal. Die nuwe tennisbenadering kry ook gesonde aftrek.

DIVERSITEIT en GODSDIENS: ’n Onderwysersbeurs is geskep vir ’n aanstelling in 2020, twee Huppelland-assistente word ondersteun met verdere studies in vroeë kinderontwikkeling, twee personeellede word finansier om bestuurslisensies te bekom en drie diversiteitswerkwinkels is georganiseer vir alle onderwyspersoneel. Gereelde sprekers d.m.v. die Mense van Kaapstad-projek is genooi om leerders toe te spreek tydens saalbyeenkomste en die verwelkomingsprojek, Trotse Jannies. Die isiXhosa100-projek is ook gebore. ’n Nuwe beursprojek is pas bekendgestel waar 10 kinders vir 50% van fooie kan kwalifiseer. Die Godsdiensbeleid is herskryf en word stelselmatig geïmplementeer.

BESTUUR: ’n Personeel-bestuurraad is aangestel vir ’n ewewigtige en effektiewe bestuurstrategie, veral gesien in die lig van Mnr. Oosthuizen se aftrede binnekort. Die bestuur van Huppelland is geïntegreer by die laerskool en alle toelatings en administrasie word nou deur die laerskool bestuur.

TERREIN EN OPKNAPPING: Die verhoog, badkamers, snoepie en nasorgsentrum is opgegradeer. Meer sitspasie is op die speelgrond ingebou. Klaskamers se vensters en rame is vervang en netjies gemaak en verhitting van die swembad is gefinaliseer. Beligtingsprojek word eersdaags aangepak.

Daar is ook verskeie werkwinkels gehou vir personeel o.a. robotika, hantering van disleksie en positiewe dissipline. Verskeie addisionele kursusse vir leerders is ook aangebied soos lewensafrigting vir ouer grade asook studiekursusse.

Bogenoemde projekte is gefinansier met ouers se gesonde skoolfondsbetalings (sowat 85% van fondse word ingesamel) en die trust se jaarlikse veiling-insameling is van groot waarde. Daar is ook baie ouers wat goedgunstiglik sekere projekte finansieel ondersteun. Die ouers en leerders het ook ruim bygedra tot ‘n paar omgee-projekte soos die Wuppertal-brandfonds en ons ondersteuning van Ellerton Primary.

Vars peilingresultate asook huidige fokus-areas sal die bestuur se aandag bly geniet. Laat asseblief jou stem hoor. Die peiling sal teen 11 Oktober gesluit word.

Groete,
Die Beheerraad