Dit was die eerste keer in Laerskool Jan van Riebeeck se geskiedenis dat ‘n skolespan gekwalifiseer het om aan die SA-byeenkoms te kan deelneem. Dit was ‘n groot prestasie, aangesien slegs twee skole per provinsie, kan kwalifiseer.

Tydens die seisoen het ons atlete alles gegee en ons het elke keer net agter Durbanville geeïndig. Dit het beteken dat ons en Laerskool Durbanville vir WP verteenwoordig het by SA’s. Verlede Vrydag was die openingseremonie. Alle provinsies het om die baan gestap, spanfoto’s is geneem en die byeenkoms is geopen.
Saterdagoggend om 07:00 het alle verrigtinge by die Nelson Madela Universiteit in Port Elizabeth begin.
Dit was ook die eerste keer dat enige van ons atlete aan so ‘n groot byeenkoms deelgeneem het. Stef Mostert, John Willcox, Mia Nortjé, Isabella van der Walt, Mari Swanepoel, Alexander Benecke, Lourens van der Walt, Sophia Liebenberg, Cara Swanepoel, Ruald Naudé en Delmar Benecke was reg vir die dag en ons atlete het alles gegee.
Na die hardloop het alle atlete na Newtonpark vertrek vir die swem. Hier het ons atlete uitstekend gevaar. Na afloop van die swem het niemand geweet wat die finale uitslae is nie en ons moes wag vir die prysuitdeling later die aand. Al ons atlete het uitstekend gedoen. Alexander Benecke was 5de uit 85 deelnemers en Stef Mostert was algeheel 3de en het sodoende ook die bronsmedalje gewen. Nadat alle medaljes uitgedeel is, was dit tyd om uit te vind watter skole die beste gevaar het. Die top 5 skole in Suid-Afrika was:
1. Paarl Gim
2. Laerskool Oranje
3. Curro Nelspruit
4. Laerskool Jan van Riebeeck
5. Laerskool Durbanville

Dit was so naby of ons het vir Curro gewen, maar om 4de beste in die land te wees is ‘n besondere prestasie vir ‘n eerste keer wat ons deelgeneem het. Ons is uiters trots op elke atleet wat die hele seisoen net hulle beste gegee het en ons skool se naam uiters hoog gehou het. Wel gedaan. Baie dankie aan elke ouer wat die lang pad saam met hulle kinders aangedurf het en ‘n spesiale woord van dank aan mnr. Hanekom wat die leerders vergesel het na Port Elizabeth en tydens die seisoen afgerig het.Voorwaar ‘n prestasie om op BAIE TROTS te wees !!