Jannies Gesprekke

Slimfone – Wenke vir ouers

Ons was so bevoorreg om hierdie jaar weer na Carla de Beer (Social Saam met Carla) te kon luister. Sy het Maandagoggend om 07:30-08:30 in die skoolsaal met ‘n groepie belangstellende ouers gesels. Hierdie gesprek het oor sosiale media, maar meer spesifiek die invloed van en blootstelling aan Kunsmatige Intelligensie gehandel. Dis skrikwekkend hoe min ons, maar meer nog ons kinders van hierdie onderwerp weet en hoe maklik hulle inligting beskikbaar gestel word deur byvoorbeeld aanlyn speletjies met vreemdelinge te speel. 
 
Carla was so gaaf om wenke aan ouers saam te stel en ook ‘n voorbeeld van ‘n slimfoon-ooreenkoms wat ouers met hul kind kan aangaan, met ons te deel. Indien jy dalk na ‘n opname van haar wil luister, loer gerus na hierdie skakel. Ongelukkig fokus sy nie so baie op KI tydens hierdie opname nie. 
 

Boeliegedrag (Deel 3)

Waarom het ons besluit om weekliks inligting rakende boelie in die nuusbrief te plaas?

Neem asseblief kennis dat ons die boeliegesprekke weekliks publiseer aangesien ons besef het dat ouers/voogde somtyds oor boelie wonder, verward is oor presies wat boelie is vs. gedrag-/dissipline uitdagings en sommer ook net om kundige inligting op ‘n praktiese manier te deel. Ons is bederf met ‘n opvoedkundige sielkundige wat haar kennis graag met ons skoolgemeenskap deel. 
 
Boeliegesprek nr.3

Wat kan ek as ouer doen om my kind meer weerbaar teen boeliegedrag te maak? Wat kan ek binne hulle leefwêreld beheer en wat nie? Wat kan ék doen om my kind te beskerm teen seerkry en struikelblokke? In hoe ‘n mate kan ék besluit wat ek wil toelaat wat van die wêreld se kant op my kind gelaai en soms “gegooi” word wat my kind potensieel emosioneel kan laat struikel?

Ongelukkig is daar nie ‘n kitsoplossing nie. Al wat jy as ouer in sekere situasies régtig kan beheer, is om jou kind se emosionele weerbaarheid te ontwikkel; om lewensvaardighede aan te leer wat hulle vir die res van hulle lewe kan toepas in watter situasie hulle ookal mag wees. En om dáár te wees sodat hulle nie alleen voel en broei rondom sekere emosies en vrae wat hulle verwar of trauma mag veroorsaak nie.

Waar begin ‘n mens as ‘n ouer? ‘n Goeie vertrekpunt mag wees om jou kind bewus te maak van “wat sê ek vir myself in my kop?” Onthou, dit is nie net ons as volwassenes wat moet baklei teen daardie interne kritiese stemmetjie nie. Glo my, kinders sukkel ook daarmee. Daarom: hoe jonger jy jou kind leer om daardie stem te “beheer”, hoe gelukkiger en meer selfvertroue sal jou kind hê. Onthou: as óns as ouers nie vir ons kinders daardie vaardigheid aanleer nie, wie gaan dit vir hulle leer?

Hoe verduidelik ek “selfspraak” aan my kind? Hier is ‘n lekker praktiese manier waarop jy dit dalk kan

benader afhangend van die ouderdom van jou kind. Begin deur jou kind daarvan bewus te maak dat gedagtes wel beheer kan word. Noem dat ons brein se stemmetjie van binne af gaaf kan wees en soms ‘n regte boelie kan wees. Maak jou kind daarvan bewus dat hy/sy beheer het oor hoe sy dink en voel.

Verduidelik dat ons almal se gedagtes twee kante het: ‘n “beste-maat(jie)-kant” en ‘n ”boelie-kant.”Hierdie laaste kant hou niks van jou nie en dit is vir hulle lekker om jou hartseer en ongelukkig te sien.

‘n Wonderlike tegniek om te gebruik is humor. Dit is ‘n tegniek wat heeltemal onderskat word en wat die angel uit ‘n plofbare situasie haal, alles ligter maak en dikwels ‘n ander perspektief gee. Besluit saam met jou kind wat hy/sy elke kant wil noem … hoe snaakser die naam, hoe beter. Veral die “boelie-stem”. ‘n Voorbeeld mag wees: jou kind kom moedeloos van die skool af en die eerste ding wat hy/sy sê is: “Ons skryf Vrydag ‘n Wiskundetoets. Ek verstaan níks nie, ek gaan definitief dop en dan gaan Meneer sien hoe dom ek eintlik is” … Jou reaksie kan wees: “Ag nee, nou hoor ek Rosie die Rot (negatiewe gedagtes) se stem. Het jy al ooit ‘n Wiskundetoets gedop en het jy al ooit gaan toets skryf as jy nie seker gemaak het jy verstaan nie alles nie? Kom ons maak ‘n plan!”

Of jou kind maak ‘n opmerking: “Sjoe, dit het vandag so goed gegaan met my mondeling. Ek is so trots op myself.”

Jou reaksie: “Ag ek is so bly ek hoor dit is Liewe Lolla wat daar praat … dalk moet jy meer na haar luister, want dit klink vir my sy jok nie vir jou nie en sy hou van jou.”

Leer jou kind: BE YOUR OWN BIGGEST FAN … En dan pas ons dit sommer ook op onsself toe!

Marike Badenhorst

Boeliegedrag (Deel 2)

Soos ons die vorige keer genoem het, is dit belangrik dat my kind PRESIES weet wát boelie is. Ons het genoem dat ons dit in eenvoudige taal só vir ons kind kan verduidelik:

Boelie is:
Iets wat jou laat sleg voel oor jouself en jou hartseer maak
Iets wat ‘n maatjie opsetlik en aspris doen
Iets wat vir jou moeilik is om op jou eie te stop
Iets wat oor en oor gebeur
Iets wat nie by die skool mág gebeur nie

Met bogenoemde in gedagte, wat moet ek doen as my kind ontsteld by die huis kom en sê hy/sy word geboelie? Ouers kan op een van twee maniere reageer. ‘n Mens kan dit eerstens afmaak as: “Ag, jy verbeel jou; dit kan nie so erg wees nie!”… Of ‘n mens kan sê: “Ek gaan onmiddellik sy/haar ouers bel…” Dalk help nie een van hierdie twee reaksies op daardie oomblik regtig jou kind nie.

So, wat moet ek doen? Die volgende mag help:

1. Wys jy gee om. Net om na jou kind te luister wat hulle ookal met jou wil deel, help al klaar. Dit bemagtig jou kind om die volle storie met jou te deel.

2. Kry al die feite. Wanneer jy min of meer kan aflei wat gebeur het en jou kind minder ontsteld is, kry die spesifieke feite.
– Waar gebeur dit?
– Wanneer?
– Hoe gereeld?
– Wat presies word gesê of gedoen?

Ek gebruik gewoonlik die volgende drie riglyne om presíés die omvang van die situasie te probeer verstaan. Dalk kan dit jou as ouer ook help:
-Frekwensie: Hoe gereeld gebeur dit? ‘n Paar keer per dag? Een maal in die week wat verby is? Of was dit net een terloopse opmerking wat jou kind ontstel het?
-Intensiteit: Hoe “erg” is dit? Word jou kind élke pouse opsetlik uitgesluit? Wanneer en waar gebeur dit? Wat word gesê wat jou kind so seermaak?
-Duur: Hoe lank gebeur dit al?

3. Dokumenteer die feite. Skryf al die details neer. Probeer om ‘n tydslyn te skep: wat het waar gebeur en wanneer? As jy voel jou kind kan dit self hanteer, gaan saam met hom/haar deur die tydslyn en wat gebeur het.

4. Deel die inligting met iemand wat jy vertrou. Vra vir terugvoer nadat jy dit gedeel het. Het jy by die feite gebly? Raak jy te emosioneel wanneer jy dit vertel?

5. Vergewis jou met jou skool se boeliebeleid. Dit sal jou die riglyne gee watter stappe jy moet volg om dit te rapporteer en wie jy om hulp kan vra. Deel hierdie inligting met jou kind sodat hulle weet die skool het ook reëls in plek en glo óók hierdie gedrag mag nie toegelaat word nie.

6. Monitor die skool se reaksie. Indien die boeliegedrag voortgaan, dokumenteer nuwe insidente en lig die skool onmiddellik hiervan in.

7. Maak jou kind bewus van boeliegedrag en praat daaroor. Dit gaan jou kind help om te leer watter gedrag is aanvaarbaar en watter gedrag is nie.

8. Bly ingelig en op hoogte van jou kind se gedrag en leefwêreld. Probeer monitor hoe jou kind optree in verskillende situasies wanneer jy by is. Weet jy wie jou kind se maats is? Ken jy die ouers? Wat doen jou kind in sy/haar vrye tyd? Hoe en wanneer gebruik jou kind sosiale media? Volgende keer gesels ons oor wat ons as ouers nog kan doen om ons kind emosioneel weerbaar te maak.

Marike Badenhorst
Opvoedkundige Sielkundige

Leerders se selfbeeld: RSG-praatjie

Luister gerus na hierdie interessante praatjie wat op RSG uitgesaai is wat handel oor leerders se selfbeeld en hoe jy as ouer dit kan skaad of bou. Kliek HIER vir die opname.