Terwyl ons gereed maak vir Desember-maand om sy verskyning te maak, besef ‘n mens net weereens hoe vinnig tyd verby snel en dat ‘n mens elke oomblik voluit moet leef. Vir my voel dit asof 2027 reeds op ons drumpel staan, gereed vir nog ‘n splinternuwe jaar met nuwe en opwindende geleenthede. Gelukkig moet Kersfees nog kom met kosbare tyd saam met gesinne en familie.

Op Woensdag, 25 November, het ons graad twee-leerders hul eie stemdag ervaar. Elke leerder het met sy/haar eie ID-dokument in ‘n ry gestaan, net soos julle onlangs op 4 November gedoen het. Die linkerduim se nael is duidelik gemerk en daarna kon hulle vir een van ‘drie partye’ (ou oë, springbok-spring en pronk-pou) stem deur hul onderskeie kruisie op ‘n stembriefie te trek. Die doel van die stemdag is om deur middel van ‘n prettige manier vir hulle te leer wat ‘n stemdag behels en hoekom dit so belangrik is om as ‘n verantwoordelike burger van ons pragtige land te stem. Natuurlik het hulle die stemmery baie ernstig opgeneem en soos getroue landsburgers geduldig gewag om hul kruisies te trek. Baie dankie aan die graad 2-juffrouens vir die spesiale inisiatief!


Huppelland het op Donderdagaand, 19 November, hul jaarlikse graad R-konsert in die saal aangebied. Die teks ‘Sinterkaaps’ is weer vanjaar deur die bekende jeugskrywer, Christien Neser (juf. Louise se ma), geskryf en die fantastiese konsert het die gehoor spreekwoordelik op ’n idilliese reis deur die Kaap geneem. Baie geluk, Louise en haar Huppelland-span, met die uitstekende konsert wat die gehoor in vervoering gehad het. Dit was weereens ’n bewys van die hoë standaard wat ons skool stel om uitnemendheid op alle vlakke van skoolaktiwiteite toe te pas.


Die afgelope twee weke was ek aktief by ons skool se modereringsproses betrokke om vir die jaarlikse promosie en progressie voor te berei wat vir die Grondslagfase (Gr. R – 3) op Dinsdagmiddag, 24 November, plaasgevind het en vir die Intersenfase (Gr. 4 – 7) wat op Dinsdagoggend, 1 Desember, plaasvind. Die promosie en progressie vir die Grondslagfase het suksesvol afgeloop en graag wil ek juf. Raché en haar span hartlik bedank vir die harde werk en voorbereiding. Promosie vind plaas indien die leerder aan die minimum promosie- en slaagvereistes voldoen, en dan word die leerder na die volgende graad oorgeplaas. Indien die leerder nie aan die promosie- en slaagvereistes voldoen nie en die leerder reeds die spesifieke jaar in hierdie fase herhaal het, of die leerder net-net nie aan die minimum slaagvereistes voldoen nie, dan kan die spesifieke leerder na die volgende graad oorgeplaas word met die onderneming dat daar ‘n behoorlike ondersteuningsplan aan die leerder gebied sal word om die nodige vereistes te bereik.

Op Saterdag, 21 November, is die jaarlikse ouer-sportdag aangebied waar ons ouers ‘n geleentheid kry om hul sporttalente ten toon te stel. Ons ouers het baie pret gehad en wat ‘n riem onder die hart was dit om te sien die groot getalle ouers wat aan die spesiale pretdag deelgeneem het. Die kompetisie was gesond en die sportiewe gees spreek boekdele van ons skoolgemeenskap. Ons skoolgemeenskap is uniek en mag ons dié etos vir altyd omhels. Graag gebruik ek sommer die geleentheid om al ons ouers te komplimenteer met jul betrokkenheid by die skool asook jul lojale ondersteuning wat instrumenteel in die sukses van ons trotse skool is. ‘n Hartlike dank aan Danielle le Clus-Rossouw en haar span wat ‘n onvergeetlike dag aangebied het wat lekker musiek en verskeie interessante stalletjies ingesluit het.

Afrikaans bly darem ‘lekker’ op die tong en is eenvoudig net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurvolle idiome en gesegdes is. Daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:

‘Soveel van iets weet soos ’n kat van saffraan’

Die uitdrukking beteken om hoegenaamd niks van ‘n saak te weet nie.

Ek sluit dan week 8 af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet. Sterkte aan ons o.9-mini-krieketspanne wat vanmiddag en vanaand by Durbanville Krieketklub deelneem. Sterkte vir ons kore wat op Sondagoggend aan die jaarlikse Kersfees-sangdiens te Tamboerskloof NG Kerk optree. Mag die Bokke dan Sondagaand om 18:40 op Twickenham weereens sonder Rassie die Franse Hane in die finaal van die “Nations Championship” wen en nog ‘n beker inpalm!

Groetnis  
Naas Beets  
SKOOLHOOF