Vandag is die laaste Vrydag van Oktober-maand en ons maak gereed vir November-maand wat leerders en onderwysers ongelukkig met eksamens en assesserings assosieer waartydens uitslae en prestasie dikwels onnodig onder die vergrootglas geplaas word.
Vanaf Maandag, 02 November, het die grondslagfaseleerders (gr. 1 – 3) reeds met hul finale assesserings vir die jaar begin. Ons grondslagfaseonderwysers hanteer die finale assesserings op ‘n deurlopende basis, m.a.w. ‘n klein gedeelte elke dag oor ‘n verlengde tydperk wat beslis help om die assesseringsangs by hulle te verminder. Op Maandag, 09 November, begin die finale eksamen vir die gr. 7’s. Soos julle weet, mag ek mos nie eintlik die ‘E-woord’ gebruik nie, maar op Woensdag, 11 November, begin die gr. 4 tot 6-leerders ook met hul finale eksamen en wens ek al ons leerders, ouers/voogde, tutors, fasiliteerders en personeel voorspoed toe.
Eksamens is inderdaad deel van die opvoedingstelsel en ongelukkig verhoog dit stres- en angsvlakke by leerders en dit filter ook dikwels deur na die huisgesin. Graag versoek ek julle as ouers/voogde om ons as onderwysers te help om die stresvlakke en spanning tydens die eksamen/assessering te help bestuur sodat dit nie die oorhand kry nie. Stres as gevolg van enige eksamen laat selfs volwassenes snak na hul asem, maar dit is ‘n natuurlike reaksie en as dit reg bestuur word, kan dit ook voordelig wees om ons leerders vir hul hoërskoolloopbaan asook volwasse lewe voor te berei.
Graag neem ek die vrymoedigheid om die volgende wenke aan julle as ouers/voogde voor te stel wat jou kind(ers) se eksamenstres en moontlik jou eie angstigheid daaroor hok sal slaan:
- Help jou kind(ers) asseblief om betyds voor te berei. Daar is nog genoeg tyd om betyds ‘n studierooster saam met jou kind(ers) op te stel wat jou kind(ers) genoeg tyd sal gee om die werk baas te raak, maar dit moet ook genoeg tyd om te ontspan, insluit. Genoeg slaap is egter kardinaal om hiermee te help. Handhawing van ‘n roetine is so belangrik!
- Skep ‘n rustige en ontspanne atmosfeer vry van stressors by die huis vir jou kind(ers) om te leer.
- Skep ‘n toegewyde studieruimte met behoorlike beligting en vry van geraas.
- Vorm ‘n emosionele band met jou kind(ers) sodat hulle nie voel dat hulle die eksamenpad alleen hoef te stap nie. Vra vir hulle daagliks hoe die eksamensessie/assessering was en dit is belangrik om positiewe woorde uit te spreek deur byvoorbeeld soggens voor aflaai ter ondersteuning die volgende te sê: “Dit sal goed met die eksamen gaan, want jy het goed voorberei.” Laat hulle verstaan dat julle vir hulle steeds baie lief sal wees, ongeag die uitslae en hulle beslis nie op grond daarvan sal beoordeel nie.
- Help jou kind(ers) om ‘n gewoonte aan te kweek dat hulle die regte skryfbehoeftes en die regte toerusting vir die eksamendag saamneem skool toe.
- Vermy asseblief gejaagdheid direk voor ‘n eksamensessie, veral om nie jou kind(ers) op die nippertjie soggens voor die eksamen/assesserings by die skool af te laai nie, want dit maak leerders ongelooflik angstig.
Graag herinner ek almal aan die belangrike begrotingsvergadering met ouers op Maandag, 02 November 2026, om 18:00 in die skoolsaal. Gedurende hierdie vergadering maak ons die verhoging van die 2027-skoolfooie bekend. Soos julle bewus is, vereis die BELA-Wetgewing dat 10% van ons ouers (kworum) die begrotingsvergadering moet bywoon om die vergadering legitiem te maak. Dit beteken dat daar ‘n minimum van 85 ouers/voogde die vergadering moet bywoon! Dus doen ek ‘n ernstige beroep dat julle die vergadering sal bywoon. As motivering om ‘n kworum te verseker, sal elke ouer/voog wat die vergadering bywoon, se kind(ers) toestemming ontvang om die volgende dag (03 November) sivvies skool toe te dra asook ‘n smaaklike roomys te ontvang. Verder sal ons ook vir elke ouer wat die vergadering bywoon met ‘n heerlike glas wyn bedien wat julle tydens die aanbieding kan geniet. By voorbaat dankie dat julle die belangrike begrotingsvergadering op Maandag, 02 November, om 18:00 sal bywoon om die effektiewe bestuur van die skool ook in 2027 te verseker.
Op Dinsdag, 27 Oktober, het een van ons mammas, dr Maggie Swart, gereël dat sy saam met Dr Zunaid Ahmed (dermatoloog) ‘n sonskermpraatjie tydens die saalbyeenkoms met ons leerders en onderwysers kom voer. Die insiggewende praatjie oor ‘Wees Sonslim‘ het ons almal net weer bewus gemaak van hoe belangrik dit is om vanaf ‘n jong ouderdom jou vel teen die son te beskerm. Elke leerder en onderwyser het ook elkeen ‘n spesiale sonskermmiddel ontvang wat hulle soggens voor skool alreeds kan aanwend. ‘n Hartlike dankie aan Maggie en dr Ahmed vir al jul moeite om ons van sonskermveiligheid bewus te maak.

Afrikaans bly darem net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind(ers):
‘Donkie skel vir langoor uit’
Die uitdrukking beteken dat iemand iemand anders kritiseer of slegmaak oor ‘n fout of gebrek, terwyl die persoon wat kritiseer presies dieselfde fout het.
Ek sluit dan week 4 af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet.
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF