Dit is verstommend hoe vinnig die weke teen die einde van die jaar verby snel, met die derde week van die laaste kwartaal wat vandag tot ‘n einde kom. Daar het reeds heelwat sportwedstryde en -byeenkomste die afgelope twee weke plaasgevind.
Graag deel ek die volgende puik somersportuitslae en wens die volgende leerders geluk met hul pragtige sportprestasies:
Atletiek: Op Vrydag, 16 Oktober, het ons aan die Laerskool De Hoop Prestige Atletiekbyeenkoms te Somerset-Wes deelgeneem en ons atlete het soos volg puik gevaar:
- Louis Hofmeyer (o.11) behaal ‘n 1ste plek in verspring (ontvang goue medalje);
- Christiaan Roux (o.9) behaal twee 2de plekke vir 60 m en 100 m (ontvang twee silwer medaljes);
- Stef Nel (o.12) behaal ‘n 2de plek in hoogspring (ontvang silwer medalje);
- Ilan van den Berg (o.10) wen brons vir die 300 m;
- Jacques du Toit (o.13) wen brons vir die 300 m; en
- Ilan van den Berg, Nicolaas Boshoff, Stef Nel en Jacques du Toit behaal ‘n 3de plek vir die 300 m-wisselaflos (almal ontvang bronsmedaljes).
Verder sluit ons die aand op ‘n hoogtepunt af met ‘n puik vertoning deur ons dogters – Leah Jacobsz, Anna Rabie, Elise Theron en Octavia Ackermann wen goud in die wisselaflos. Die item bestaan uit ‘n 600 m, 300 m, 200 m en 100 m. In totaal het ons 8 medaljes tydens die byeenkoms verower (2 x goud; 3 x silwer en 3 x brons). Welgedaan, Jannies!
Skaak: Ons o.9- en o.11-skaakspanne het aan die einde van kwartaal drie aan die Wes-Kaap-proewe te Wellington deelgeneem. Die o.9’s het ‘n 8ste plek en die o.11’s ‘n 12de plek behaal. Ons is baie trots op hulle en ons o.9-span sluit Daniel Lawson, Pieter-Steph Bothma, Robert Rand, Martin Crots, Johannes Smit, Sebastiaan Scott en Christopher Styan in. Ons o.11-span sluit Benjie Ntloko, Stefan van der Walt, Christiaan Jooste, Xian Müller, Phillip Groenewald, James Steyn en Aiden Cronje in.
Graag wil ek Daniel Lawson (gr. 2) uitsonder wat ‘n Top 10-plek tydens die o.10-individuele proewe behaal het en nou deel van die Wes-Kaapspan vorm wat aan die Suid-Afrikaanse byeenkoms gaan deelneem. Baie geluk, Daniel, dit is ‘n merkwaardige prestasie, jy maak ons baie trots!
Ons leerders vaar nie net puik op sportgebied nie, maar soos gewoonlik ook wanneer dit by akademie kom. Ons neem jaarliks aan die Wiskunde AMESA Olimpiade deel. Vanjaar het meer as 15 000 leerders vir die tweede rondte gekwalifiseer wat op 20 Mei plaasgevind het. Baie geluk aan die volgende leerders met jul onderskeie puik prestasies:
Brons:
- Anya Maritz
- Anya Greef
- Wrench Silvis
- Nina Ferreira
- Henry Jordaan
- Jasper Wolff
- Luc Durand
- Dirk de Jager
- Stef Nel
- Jacob Venter
- Ella van der Walt
Silwer:
- Chris Derksen
- Alexander Styan
- Antjie Samuel
- Lukas Venter
Goud: Hoër as 80%
- Reuben Janse van Rensburg
- Jamie Jordaan
Bogenoemde is weereens ‘n bewys van die hoë standaard van akademie wat ons by die skool handhaaf om ons leerders vir hul hoërskoolloopbane voor te berei.
Tans is die onderwysers onder leiding van hul graadhoofde en fasehoofde besig met die 2027-klasindelings. Ons het die afgelope tyd verskeie versoeke vanaf ouers ontvang rakende hul kind se klasindelings en dalk mag sommige ouers nie bewus wees nie, maar ons het ‘n welgevestigde en goed deurdagte klasindelingsbeleid in plek om klasse regverdig vir die daaropvolgende jaar in te deel met die fokus op die leerder in totaliteit. Die volgende faktore word met die indeling van klasse in ag geneem:
- Akademiese uitslae;
- Leerderverhoudinge (vriendskappe);
- Mediese aanbevelings en uitdagings;
- Leerderpersoonlikhede moet sover as moontlik met onderwyserpersoonlikhede versoen;
- Aantal leerders met uitdagings per klas;
- Balans tussen seuns en dogters per klas;
- Taalvaardighede (uitdaging met die Afrikaanse taal); en
- Regverdige verdeling van leerdergetalle per onderwyser.
Dus wil ek veral die grondslagfase-ouers vriendelik versoek om nie die onderwysers te nader om hulle te versoek om jul kinders volgende jaar by ‘n spesifieke onderwyser te plaas nie. Ons is baie konsiderend met die klasindelings, maar ek glo julle het begrip dat as ons een ouer se versoek toelaat, dan moet ons almal se versoeke toelaat en dit is tog prakties nie moontlik en uitvoerbaar nie. Ons het goeie en toegewyde onderwysers. By voorbaat dankie dat julle ons in die proses van klasindelings vertrou. Huppelland volg nie spesifiek hierdie klasindelingsbeleid nie, want die leerders is nog baie jonk en daarom word ouers daar by klasindelings betrek.
Ek dink ons vergeet soms dat kinders dikwels meer aanpasbaar is as wat ons besef en ek het begrip dat die hedendaagse ouers geneig is om oorbeskermend te wees. Ons kan al ons leerders spreekwoordelik in watte toedraai, maar ons weet die lewe daar buite nie so werk nie en dit is ook nie volhoubaar nie. Die skool is beslis die plek waar ons binne ‘n beskermende omgewing ons leerders op ‘n klein skaal vir die lewe kan begin voorberei. Ek bedoel beslis nie dat ons onnodig druk op leerders moet plaas om hulle vir die lewe voor te berei nie, maar eerder dat ons oor tyd en stelselmatig leerders leer om aanpasbaar, selfstandig, veerkragtig en onafhanklik te word sodat die transisie van laerskool na hoërskool soomloos kan geskied, soos dit tans is. Ons skool is ‘n veilige omgewing waar ek wil seker maak dat elke leerder sy laerskoolloopbaan geniet deur hulself te wees, hul potensiaal kan bereik en vreugde daaruit put.
Afrikaans bly darem net ‘n kosbare taal wat so ryk aan kleurryke idiome en gesegdes is daarom hou ek aan om nog bekende en/of minder bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ‘n poging om ons pragtige taal verder te promoveer. Deel gerus met jou kind/ers:
‘Klein muisies het groot ore’
Die uitdrukking beteken dat kinders dikwels met fyn ore na grootmense se geselskap luister en dat ‘n mens baie versigtig moet wees wat ‘n mens voor hulle sê.
Ek sluit dan week 3 af en mag julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, vriende en familie geniet.
Groetnis
Naas Beets
SKOOLHOOF