Die tyd staan beslis nie stil nie, aangesien ons môre reeds van die tweede maand van die nuwe jaar gaan afskeid neem. Alhoewel die meeste mense Februarie met die maand van liefde assosieer, is Februarie egter na die Romeinse god Februus vernoem wat bekend staan as die god van suiwering of reiniging wat baie insiggewend is. Dikwels gebruik mense die maand Februarie om hul liggame te detoks of te vas na die heerlike feestyd oor Desember- en Januarie maande.

Baie dankie aan al ons ouers/voogde, leerders en opvoeders wat op Vrydagaand, 20 Februarie, die gewilde klasbraai by die Conradieveld bygewoon het. Die weer het vanjaar perfek saamgespeel met Moeder Natuur wat vir ons ’n perfekte en windlose aand opgedis het. Ouers/voogde en leerders het in groot getalle opgedaag, aangesien niemand die gewilde sosiale aand met kosbare samesyn wil misloop nie. Daar is by my geen twyfel dat die Conradieveld met die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die statige Leeukop en die bekende Seinheuwel wat dit omring, seker een van die mees idilliese liggings is om ’n klasbraai of ’n funksie te hou. Baie dankie aan die personeel wat na die lang en besige week die moeite gedoen het om ook die spesiale aand by te woon en heerlik saam met ons ouers/voogde en leerders te sosialiseer. Amptelik was dit dan ook ons gr.1-ouers/voogde se eerste gesamentlike klasbraai by die laerskool en opvallend was die heerlike samesyn terwyl daar nuwe vriendskappe gesmee is.

Baie geluk aan die volgende 8 atlete wat na afloop van die sone-atletiekbyeenkoms op Vrydag, 20 Februarie, te Vygieskraal gekwalifiseer het om môre (Saterdag, 28 Februarie) aan die WP-byeenkoms deel te neem:

1. Leah Jacobsz, eerste plek vir o.12 – 1200m 
2. Anabella Boshoff, eerste plek vir o.13 – spiesgooi 
3. Louis Hofmeyer, eerste plek vir o.11 – verspring 
4.  Stef Nel, eerste plek vir o.12 – verspring en 3de plek vir hoogspring 
5.  Octavia Ackermann, 2de plek vir o.10 – Hoogspring 
6.  Cato Terblanche, 3de plek vir 1500m 
7.  Willem Viljoen, 3de plek vir o.12 – 150m Hekkies 
8. Bella Malan, 3de plek vir o.12 – 150m Hekkies en 4de plek vir 75m Hekkies  

Baie geluk en ons is baie trots op julle puik prestasies! Ons hou styf duimvas dat julle almal vir die Wes-Kaap-kampioenskappe sal kwalifiseer. Baie dankie mnr. Hanekom en al die afrigters wat ons atlete vir hierdie prestige byeenkomste voorberei het.

Op ’n hartseer noot gaan ons aan die einde van die kwartaal na 14 jaar afskeid neem van Marike Badenhorst. Sy was die heel eerste opvoedkundige sielkundige verbonde aan ons skool en tree amptelik op 31 Maart af. Ek het die wonderlike voorreg gehad om meer as 5 jaar saam met Marike te werk. Sy is ’n formidabele vrou, ’n merkwaardige kollega met die grootste omgeehart wat werklik enigiets sal doen om ’n leerder(s) en hul ouers te help. Ek glo dat sy ook een van die pioniers was wat gelei het tot die eerste leerderondersteuningsdienste by ons skool tot waar ons vandag ’n wêreldklas leerontwikkelingsentrum, naamlik die Zen Den, het. Marike het diep spore by ons skool getrap deur leerders, hul ouers asook personeel te help met akademiese-, sosiale- en emosionele uitdagings. Ons is vir Marike baie dankbaar vir die reuse verskil wat sy in menige leerders, ouers en personeel se lewens gemaak het. Ons beste wense vergesel haar met haar aftrede en mag sy genotvolle ure saam met haar kleinkind spandeer. Graag verwelkom ons dan ons nuwe opvoedkundige sielkundige, Elaine Scholtz, wat vanaf 1 April by ons gaan aansluit. Ek glo dat baie van ons ouers reeds vir Elaine ken met haar ongelooflike werksetiek en passie vir kinders. Ons is baie opgewonde om haar as deel van die JvR-personeelspan te verwelkom.

Vanaf Woensdag, 25 Februarie, was die skool relatief stil met die jaarlikse skoolkampe wat vir Grade 5 en 7 plaasvind. Ons leerders geniet die skoolkampe terdeë en die opwinding was groot met hul vertrek op Woensdagoggend. Skoolkampe speel ’n belangrike rol in die holistiese ontwikkeling van leerders en bied die ideale geleentheid om leerders uit ’n bekende en gemaklike omgewing te neem en bloot te stel aan ’n onbekende natuuromgewing wat gestruktureerd, veilig en vriendelik is. Terwyl hulle die natuur verken, neem hulle aan verskeie buitelugaktiwiteite deel wat help om hul karakter te bou, kommunikasievaardighede en spanwerk te verbeter asook leierskapsvaardighede te ontwikkel. Hier is dus net ’n wen-wen situasie wat gepaard gaan met tonne pret waar hulle beslis ander leerders asook hulself beter leer ken. Hulle gaan dus leer wat dit beteken om as ’n span saam te werk en op die regte tye vir mekaar spasie te gee. Skoolkampe sal altyd ’n onvergeetlike deel van ’n leerder se skoolloopbaan wees, waar hulle waardevolle lesse opdoen. Dit is natuurlik ook die graad 5’e se eerste skoolkamp. Ek glo dit het dalk ’n paar ouer-harte baie angstig gemaak, maar wees verseker jou kind gaan baie pret hê saam met hul maats en hulle is heel moontlik salig onbewus van die ouerverlange en/of bekommernisse. Hulle keer weer vandag terug skool toe en ek glo dat hulle nie kan wag om al die wonderlike avonture en nuwe ervarings met julle te deel nie. Gaan bederf gerus jul “kampers” vanmiddag of oor die naweek. Laat my ook toe om ons opvoeders wat ons leerders tydens die skoolkampe vergesel het, hartlik te bedank dat hulle so mooi na ons Jannies omgesien het.

Op Woensdag, 18 Februarie, het ons die jaarlikse klasfoto’s geneem wat altyd groot opwinding by die skool veroorsaak. Baie dankie aan juf. Ischké vir al die puik reëlings in dié verband. Graag deel ek ’n besonderse personeelfoto wat vroeg die oggend deur ons BR-voorsitter, ten aanskoue van die leerders en ouers, so in die verbygaan geneem is. Baie dankie, Merwe!

Laat my ook toe om mnr. Keneen en sy vrou, Quinlene, hartlik geluk te wens met die geboorte van die pragtige Mileah op 25 Februarie. Mag sy vir julle eindelose vreugde vol liefde bring — welkom klein Mileah by die JvR-familie.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te bevorder:

“Moenie iemand op sy baadjie takseer nie.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat jy nie iemand op sy/haar uiterlike moet beoordeel nie, m.a.w. beslis nie volgens die kleredrag wat iemand dra nie. Die Engelse weergawe sal wees: “Don’t judge a book by its cover.”

Sterkte vir al die netbal- en rugbyspanne wat die naweek aan die Onder die Berg-sportnaweek te HS Jan van Riebeeck gaan deelneem.

Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin.

Groetnis

Naas Beets  
SKOOLHOOF