Ek glo dat julle ook verbaas is dat môre reeds die laaste dag van die eerste maand van die nuwe jaar is. Vir my voel dit asof die nuwe jaar skaars begin het en nou moet ons op Sondag vir Februarie-maand welkom heet. Weet nie of dit iets met ouer word te doen het nie, maar tyd vlieg net te vinnig verby. Tyd het ook ’n magiese kwaliteit, veral as ’n mens met ’n opwindende taak of projek besig is, waarvan jy hou. Geniet dus wat jy doen. Dit is presies waar ek, as skoolhoof, my tans in my loopbaan bevind – ek geniet elke oomblik terdeë by die skool.

Ek het ook op dag een van die nuwe akademiese jaar vir die personeel tydens ons eerste personeelvergadering gesê dat dit belangrik is dat ’n mens jou werk moet geniet, want dan voel dit nie soos werk nie, maar eerder meer as ’n roeping. Ek glo dat mense wat van hulle werk hou, geneig is om meer optimisties te wees, meer gemotiveerd, leer vinniger, maak beslis minder foute en maak beslis beter besluite.

Die probleem met tyd is egter dat dit vir niemand wag nie. Indien jy dus vanjaar beplan om nog iets spesiaal te doen of dalk moet jy nog iemand vergewe of om verskoning vra, moenie te lank wag nie, doen dit sommer onmiddellik. Ek bly maar altyd verstom dat sommige mense in dieselfde tydperk berge kan versit terwyl ander absoluut uitstel en bitter min vermag. Mag ons die kosbare tyd wat ons in 2026 gegun word, effektief en met balans aanwend.

Graag wil ek almal hartlik bedank vir al die mooi verjaardagwense en pragtige geskenke wat julle saam met jul kinders vir my gestuur het. Ek is op Woensdag, 28 Januarie, tot in die afgrond deur die leerders, leerderraad en personeel bederf. Ek wens julle kon die spesiale dag by die skool saam met my beleef het. Dit was so kosbaar. Die leerders se opregte omgee, deernis, spontaneïteit en kreatiewe verjaardagwense sal ek vir altyd koester.

 

Week 3 van die nuwe kwartaal is behoorlik vol opwinding met beide my en die skool se verjaardag op Saterdag, 31 Januarie! Vandag is die opwinding nog groter met die viering van die skool se 105de bestaansjaar. Leerders gaan vir die tweede keer die week bederf word, maar hierdie keer met ’n heerlike kolwyntjie wat deur een van ons ouers geborg is. Dankie ook aan diegene wat ‘n addisionele kolwyntjie tot die klaspartytjies geskenk het.

Die stigting van ons trotse skool is alles te danke aan die jongeheer, Japie Louw. Hierdie jongeheer het meer as ’n eeu gelede net eenvoudig geweier om in Engels skool te gaan en dit het tot die stigting van Laerskool Jan van Riebeeck gelei. Soos Japie en nog menigte wat na hom gevolg het, het hy vinnig ontdek dat hierdie besondere skool baie meer as net geleerdheid bied.

Hier ontdek jy jouself! Hier leer jy wat dit beteken om net jouself binne ’n veilige omgewing met gekoesterde waardes te wees. Mag Laerskool Jan van Riebeeck vir nog ’n 105 jaar voortbou op sy reuse suksesse en ryke tradisie waar ’n waardegedrewe omgewing gekoester word sodat ’n kind nog kind kan wees terwyl hulle leer.

Tans is die Gr. 4–7-leerders besig om gedigte te skryf ter viering van ons skool se 105de verjaarsdag, maar graag deel ek die volgende gedig wat deur mnr. André Lourens geskryf is:

Honderd-en-vyf jaar van Afrikaans in die Stad(teland) 
Honderd-en-vyf jaar van sinvol rebelleer 
Van wees jouself en aanhou probeer 
Van drome droom in die Kaapse skiereiland 
hand aan hand 
voet by stuk 
en beste voetjie voor 
 
Honderd-en-vyf jaar van aansit vir familie-etes by 
Die rotstafel gedek met mooie wolk linne  
Borde vol Afrikaans wat ons voed  
Ons herkoms wat in ons skottelgoed woed 
geen een dink hy is kaas, baas of Klaas 
geen pap op die grond 
geen mosterd na die maal 
 Dankie Japie en Trudie 
Dankie vir aanhou, toe ander sê “Moenie!” 

Julle het moontlik gedink dat mnr. André net ’n goeie onderwyser en rugbyafrigter is, maar hier stel hy net nog een van sy verskuilde talente ten toon. Baie dankie, mnr. André, jy maak ons baie trots.

Op Saterdag, 24 Januarie, het ons vir die derde agtereenvolgende jaar die gewilde Ouer-en-Kind-sportdag vanaf 08:30 by die Conradieveld aangebied. Die opkoms van ouers en kinders was ’n riem onder die hart. Die weer het absoluut saamgespeel om ’n perfekte dag in die buitelug te spandeer. Die opwinding en gees was aansteeklik en almal het hul gate uit geniet.

Dit was dan ook ’n ideale geleentheid vir leerders, ouers en personeel om sommer lekker kollektief gees te vang, behoorlike oefening te kry en die jaar op ’n hoogtepunt af te skop. Groot dankie aan die personeel wat as beamptes opgetree het, asook die snoepieverkope op die dag behartig het. Welgedaan, mnre. Leon en Rashard, met die puik Ouer-en-Kind-sportdag propvol pret.

 

Die afgelope week het ons ook met liga-wedstryde vir krieket- en tenniswedstryde begin. Vanmiddag geskied die eerste swemgala te Laerskool Kampsbaai. Die somersportprogram en –wedstryde is dus in volle swang en my beste wense vergesel al ons leerders en afrigters.

Die o.12- en o.13-netbaldogters het baie vroeg op Donderdagoggend, 29 Januarie, na Drie Susters vertrek waar hulle aan ’n netbalkamp deelneem wat deur die bekende Patrys van der Merwe (voormalige Protea-speler) op die plaas Elandsfontein aangebied word. Baie dankie aan juff. Ischké en Sharon, asook mnr. Dian, wat die dogters vergesel.

Hiermee gaan ek voort om bekende Afrikaanse uitdrukkings/idiome en die betekenis daarvan met julle te deel in ’n poging om ons pragtige taal verder te promoveer:

“iemand die harnas injaag”

Die uitdrukking word gebruik om iemand baie kwaad te maak. ’n Harnas was lank gelede deel van ’n ridder se wapenrusting in ’n geveg. Wanneer ons dus vandag sê jy jaag iemand die harnas in, maak jy hom/haar so kwaad dat hy/sy sommer gereed is om te baklei.

Mag julle ’n wonderlike naweek saam met jul vriende en gesin geniet.

Groetnis

Naas Beets  
SKOOLHOOF