So op die drumpel van jou graad 1-kind se skoolloopbaan ervaar jy as ‘n ouer baie emosies. Jy besef jou kind word groot en al hoe meer mense word deel van haar wêreld: vriende, onderwysers, die skoolgemeenskap, dalk terapeute en meer. Ons weet mos dat dit ‘n hele gemeenskap verg om ‘n emosioneel sterk en gebalanseerde kind die grootmenswêreld in te stuur. Wanneer ons kinders die “groot skool” betree, word ons “beheer” oor hul doen en late algaande minder.
Jy ervaar dalk nostalgie oor die mooi menswees van jou kindjie oor die afgelope ses of sewe jaar. Dalk herleef jy jou eie laerskooldae of selfs jou eerste dag in graad 1 (of Sub A). Hierdie ervaring was dalk uitdagend of hopelik ‘n herinnering wat jou laat glimlag.
Wanneer die eerste skooldag aanbreek, sal jou kind dalk glad nie huil nie, want jy het haar mos so selfstandig moontlik grootgemaak of sy sal aanvoel dat jy bitter broos is en jou trane probeer spaar. Jy sal al die emosies binne hou, groet met baie soene en drukkies en vinnig in jou motor klim. Maar sodra die skool ‘n spikkel in jou truspieëltjie raak, sal jy dalk stop en jou hart uit huil oor jou kind se kleinwees wat nou iets van die verlede is, en sommer oor al die emosies wat jy in dié fase saam met jou dra.
Niks kan jou of jou kind voorberei op die perfekte graad 1-dag of laerskool-ervaring te hê nie. Ons berei alles so goed voor – ons sorg dat die skryfbehoeftes netjies en vroegtydig aangekoop en gemerk word; dat die skooltas en skoolklere netjies is en mooi pas; die kosbakkie en waterbottel gevul met gesonde happies… Maar daar is ongelukkig nie so iets soos ‘n perfekte laerskoolloopbaan nie.
Maak nie saak hoe jy daaroor probeer dink nie, uiteindelik moet jy as ouer jou eie verwagtinge teenoor jou kind se menswees en ervaringe balanseer en opweeg. Jy kan nie hul eie paadjie namens hulle stap nie – jy kan nie “verkeerde” maats of besluite van hulle af weg hou nie, of hulle van seerkry spaar nie. Hierdie besef neem vir sommige van ons langer as vir ander, en wanneer jy wel by dié punt uitkom, moet jy deur die verlies werk dat jy nie beheer oor jou kind het nie – dat sy haar eie mens is.
Die rol wat hier, aan die begin van jou kind se laerskoolloopbaan, aan jou gegee word, is soveel meer uitdagend, meer inspirerend en selfverrykend as wat jy ooit kon dink.
Hardloop nie vooruit nie en draf nie agterna nie, maar stap langs jou kind sodat sy kan wéét dat jy altyd daar is, dat jy haar hand sal vashou as dinge moeilik is en haar sal aanmoedig wanneer daar vreugde oor haar pad kom.
Hier is my raad oor hoe om positief by te dra tot jou kind skoolloopbaan:
- Ken jou kind se goeie eienskappe en groeigeleenthede – en aanvaar dat sy dinge op haar manier sal wil doen.
- Leer ken haar onderwyser(s) en raak betrokke by die skool en skoolgemeenskap. Jy hoef nie elke dag saam met juffrou te kuier en OOV-voorsitter te wees nie, maar dit beteken baie vir jou kind as jy betrokke is by die skool.
- Maak tyd om haar met huiswerk te help, luister wanneer sy haar boekies vir jou lees, teken die toetse en briefies wat sy huis toe bring en gesels saam wanneer sy oor haar vriende vertel. Jou belangstelling beteken baie vir jou kind en deur betrokkenheid sal jy vinnig agterkom as daar akademiese leemtes ontstaan.
- Moenie jou eie drome en verwagtinge deur haar probeer bereik nie. Sy het haar eie talente, kennis en vaardighede wat ontwikkel moet word. Ons kinders is nie ons nie. Ons kinders is soms beter of minder sterk in ‘n bepaalde veld as hul ouers – en dis wonderlik! Ons leer bymekaar en vul mekaar se leemtes aan.
- Wees oop en ontvanklik as die skool/onderwysers inligting oor jou kind se ontwikkeling met jou deel of aanbevelings maak oor intervensies of verryking. ‘n Onderwyser sien baie, hoor baie en het ervaring om met ons kinders te werk. Hulle merk gou op hoe jou kind leer, wanneer hulle op hul beste leer, hoe hulle spanning/angs ervaar, kompetisie ervaar, met maats omgaan en deel, ens. Onthou, hulle bestee dikwels meer tyd met ons kinders as ons wat werkende ouers is.
- Onderwysers is mense – gekwalifiseerde, gegradueerde mense (soms met meer as een graad!) – wat ook saans by hul eie gesin wil wees en wat soms siek word. Hulle werk daagliks met ‘n verskeidenheid persoonlikhede, emosies, temperamente, leerders en hul ouers, verskillende buitemuurse programme, administrasie, hul eie werksverwagtinge. Dink daaraan voordat jy na-ure vir hulle boodskappe stuur.
- Moet ook nie by mede-ouers/vriende oor die onderwyser of skool skinder nie. Gebruik die regte kanale as iets jou pla.
- Geniet jou kind in die fase waarin sy nou is. Die jongkindfase is so opwindend, want alles is ‘n eerste. Leer ken jou kind se vriende en hul ouers sodat daar ‘n veilige net rondom jou kind gespan word.
- Skool-angs is ‘n werklikheid. As jou kind soggens nie uit die motor wil of kan klim nie – haal asem! Jy is nie alleen nie. Dis nie noodwendig jou skuld nie. Gaan vra raad by die skool.
- Onthou dat jou kind skoolpligtig is. Moet haar nie sonder goeie rede uit die skool hou nie. Ons as ouers het ‘n verantwoordelikheid teenoor ons kinders se akademie en ontwikkeling.
- Laat jou kind asseblief soveel moontlik smiddae, saans en naweke speel – met speelgoed, in die tuin, met blokkies, laat haar teken, ens. Kinders moet smiddae, saans en naweke kan afskakel en hulself vir die volgende skooldag reguleer. Dis hier waar tegnologie asseblief baie slim gebruik moet word.
- Moenie inmeng by klasindelings, prysuitdelings en leerderraadverkiesings nie. Ons moet ons kinders die geleentheid bied om binne ‘n veilige ruimte blootstelling aan verskillende uitdagings te kry. Mededinging, aanvaarding en gewildheid is gewigtige onderwerpe waarmee alle mense worstel, maar dit is ook deel van die lewe waarop ons ons kinders voorberei.
- Foute moet ons almal maak – daar bestaan nie iets soos perfek nie. Laat jou kind dus foute maak, al maak dit jou skaam of verleë. Dit verg baie moed om nie jou kind se emosies aan te trek nie.
- Maak tyd vir jou eie emosionele gesondheid, want jou kinders het jou nodig!
- Moedig asseblief kreatiwiteit en verbeelding aan. Raak opgewonde oor pienk koeie en interessante stories.
- En dan: vat dinge stadig aan die begin. Gr. 1 is vir ons kinders uitputtend. Moenie al die buitemuurse aktiwiteite gelyktydig aan jou kind bekend stel nie. Daar is nog baie tyd om allerhande buitemuurse aktiwiteite aan te durf. Hou by ‘n gesonde roetine met genoeg ruimte vir rus en ontspanning Skool verg verskriklik baie energie (emosioneel, fisies en verstandelik) van ons kinders.
Die belangrikste is om te weet dat jy nie jou kind is nie, dat jou kind op jou staatmaak om gesond en sterk te wees en om bewustelik teenwoordig in haar lewe te wees.
Sy gaan net een jaar in gr. 1 wees. Maak tyd om vir die grappies te lag wat glad nie snaaks is nie en om te luister na al die kinderlike stories. Dis ons plig om as ouers hierdie entoesiasme aan te spoor. Probeer om jou kind se emosionele vlak te waardeer eerder as om alles vir hulle ryp te druk.
Geniet hierdie eerste jaar van haar skoolloopbaan. Word opnuut bederf deur die lewe deur haar oë te bekyk. Die reis wat julle nou saam betree, is uiters spesiaal. Vir eers is jy nog die slimste en mooiste in haar oë – geniet dit, want dit gaan vinnig verander.
Graad 1 2026, hier kom ons!
Marinda Brink – Skrywe het in Rapport/Netwerk24 op Sondag, 11 Januarie 2026, verskyn.