Die komende naweek groet ons spreekwoordelik November-maand en dan breek die laaste maand van die jaar aan. Met ’n groot skok besef ’n mens dat 2025 amper iets van die verlede is. Weereens ’n bewys dat Vader Tyd vir niemand en niks stilstaan nie. Op ’n meer positiewe noot, die langverwagte somervakansie waarna ons almal uitsien, kom vinnig nader en ek glo ook dit is welverdiend met ’n baie suksesvolle en besige jaar agter die rug. Maak gerus seker dat julle ons 2025-jaarverslag, wat op 10 Desember beskikbaar gestel word, deurlees. Dit sluit al die opwindende 2025-aktiwiteite en suksesse van Laerskool Jan van Riebeeck in.

Ek wil graag vir julle die versekering gee dat ons as personeel die afgelope jaar volkome toegewyd is tot die skool se operasionele bestuur, maar ons weet ook dat ons dalk nie al ons ouers honderd persent in alle aspekte tevrede gestel het nie. Die skool maak egter voorsiening vir die breë spektrum van sy leerders en ouers en ons kan nie ’n leerder of ’n ouer uitsonder deur hulle anders te hanteer of voorkeurbehandeling te gee nie. Verder sê ek beslis nie dat die skool alles reg doen nie, maar dat alle faktore oorweeg word voordat besluite geïmplementeer word. Daar is altyd plek vir verbetering en ons gaan daaraan aandag gee, maar ek glo ook dat daar beslis nie ’n plek soos ’n “perfekte skool” is nie. ’n Skool maak ook foute, want daar werk gewone mense wat ook foute maak, soos by enige ander instansie of besigheid. Dalk vergeet ons soms dat onderwysers nie “superwesens” is nie, maar gewone mense met hul eie gesinne; hulle ervaar ook angs en spanning, sit ook elke dag in verkeer, ervaar dikwels ook finansiële druk, en hulle moet ook siektes en dood in hul gesinne en families hanteer, asook die alledaagse uitdagings wat die lewe bied. Solank ons as skool bereid is om die foute reg te stel en daaruit te leer, glo ek daar vind waardevolle groei en ontwikkeling plaas. Ek fokus gereeld met ons personeel om eerstens pro-aktief op te tree en tweedens om te leer uit ons foute. Dit is beslis nie ’n verskoning vir nalatigheid en swak werk nie, maar eerder om te beklemtoon dat onderwysers en die personeel net mense is – hulle werk hard en gee werklik om vir jul kinders!

Huppelland het op Donderdagaand, 20 November, hul jaarlikse graad R-konsert in die saal aangebied. Die teks “Oos, Wes, Huppelland Bes!” is deur die bekende jeugskrywer, Christien Neser (Louise se ma), geskryf en die indrukwekkende konsert het die gehoor deur ’n idilliese wêreldreis geneem. Baie geluk aan Louise en haar Huppelland-span met die uitstekende konsert wat die gehoor in vervoering gehad het. Dit was weereens ’n bewys van die hoë standaard wat ons skool stel om uitnemendheid op alle vlakke van skoolgee toe te pas.

Op Maandag, 24 November, het die finale eksamens vir die Gr. 4–7-leerders uiteindelik tot ’n einde gekom en ek glo ons huisgesinne het ’n groot sug van verligting gegee, want nou kan huishoudings weer “normaal” funksioneer. Alhoewel die rapporte nog nie gefinaliseer is nie, wil ek vir julle graag die versekering gee dat ons leerders puik tydens hul finale eksamens gevaar het. Die afgelope week is ek aktief by die modereringsproses betrokke om vir die jaarlikse promosie en progressie voor te berei, wat vir die Grondslagfase (gr. R–3) op Woensdagmiddag, 26 November, plaasgevind het en vir die Intersenfase (gr. 4–7) op Maandagoggend, 1 Desember, sal plaasvind. Graag wil ek die onderwysers hartlik bedank vir hulle deeglike nasienwerk gedurende die afgelope eksamens en assesserings om seker te maak die leerders ontvang hul regmatige punte. Laat my ook toe om die modereringspan hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel om seker te maak dat die eksamenpunte volledig en akkuraat is, wat ook benodig word vir die prysuitdelings vir gr. 4 en 5 wat op Dinsdag, 2 Desember, en vir gr. 6 en 7 op Donderdag, 4 Desember, plaasvind. Soos julle bewus is, word die Top 10-akademiese prestasies nie in graad 4 aangewys nie. Dit sal slegs vanaf graad 5 bekendgestel word. Hiermee poog ons om die onnodige akademiese druk op graad 4-leerders vir eers uit die weg te ruim aangesien hulle hierdie jaar eers in die nuwe skoolfase (Intersen) moes aanpas.

Ek het baie begrip dat prysuitdelings altyd kontroversieel van aard sal wees, maar wees verseker dat die prysuitdelings by ons skool met die grootste respek en omsigtigheid hanteer word. Net soos ons weekliks erkenning aan sport- en kultuurprestasies in die saal en in die nuusbriewe gee, wil ons ook graag erkenning aan leerders wat akademies hard werk en presteer, gee aangesien akademie darem ons kernbesigheid is. Nie alle leerders presteer in sport of op kultuurvlak nie en kry selde kans om erkenning vir akademiese uitnemendheid in die saal te ontvang. Verder neem ons deurdagte besluite rakende die proses om erkenning aan presteerders te gee sonder om die ander leerders te na te kom. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Dus sal die Top 10-presteerders in grade 5 tot 7 tydens volgende week se prysuitdelings bekend gemaak word.

Die verkiesing van die 2026-leerderraad het ook op Maandag, 24 November, net na afloop van die laaste eksamen plaasgevind en dit word op Dinsdag, 9 Desember, in die saal aan die leerders bekendgemaak.

Verlede week het ek die uitslae van die 2025 Mondelinge Kommunikasie-eksamens van ons leerders wat aan die SA Spraak-, Drama- en Kommunikasiekollege se nasionale eksterne eksamens deelgeneem het, onder leiding van Alma Nel by Hoërskool Jan van Riebeeck, met julle gedeel. Graag wil ek net ’n regstelling maak dat ons per abuis vir Antjie Samuel erkenning gegee het, maar dit moes eintlik haar suster, Susie Samuel, toegekom het, wat die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met lof geslaag het, en met ’n punt van 89% spog – jammer, Susie!

Dit is dan soos die vorige weke my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“As die Here ’n land straf, is die aasvoëls by.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat daar altyd mense is wat munt slaan (voordeel trek) uit ander se ongeluk.

Geniet môre se sportdag vir ouers en mag die beste spanne wen – dit gaan baie opwindend wees! Mag die Bokke die naweek weer wen deur die Rooi Drake (Wallis) in Cardiff ore aan te sit!

Groetnis

Naas Beets

SKOOLHOOF