Die tweede week van die eksamen het op Maandag, 17 November, goed afgeskop en kom op Maandag, 24 November, tot ‘n einde. Die onderwysers is tans besig om die laaste klompie antwoordstelle noukeurig te merk en dan volg interne post-moderasie voordat die finale punte op die WKOD-skedules ingevoer word.

Interne post-moderasie word deur die moderators (vakhoofde/departementshoofde) behartig, daarna volg ‘n tweede rondte moderasie waartydens ek as skoolhoof ook betrek word. Onderskeie antwoordstelle word saam met die vraestelle gebruik om die belangrike proses van moderasie verder te ondersteun. Moderasie (pre- en post-) vorm ‘n integrale deel van leer en onderrig en dien verder vir ons skool as ‘n gehalteversekeringsinstrument om seker te maak kwaliteit leer en onderrig geskied by ons skool. Dit is so belangrik dat ons deur middel van pre-moderasie seker maak dat die assesseringsinstrumente billik en regverderig is, maar ook voldoen aan ons hoë akademiese standaarde by die skool. In my gesprekke met voornemende ouers bevestig hulle almal dat die twee belangrikste redes hoekom hulle ons skool oorweeg om hul kind/ers in te skryf, soos volg is:

1) Hoë akademiese standaarde en verryking;

2) Waardes van die skool en sy gemeenskap.

Akademie is een van ons spreekwoordelike vlagskepe waar uitnemendheid en die handhawing van hoë standaard te alle tye eerbiedig word.

Dit is dan my eer en voorreg om die uitslae van die 2025 Mondelinge Kommunikasie-eksamens van ons leerders wat aan die SA Spraak-, Drama- en Kommunikasiekollege se nasionale eksterne eksamens deelgeneem het, onder leiding van Alma Nel by Hoërskool Jan van Riebeeck, met julle te deel. Almal het geslaag – die meerderheid met LOF. Ek is ongelooflik trots op hul prestasies en werketiek.

Hiermee word gesertifiseer dat die volgende leerders van Laerskool Jan van Riebeeck die 2025 Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama soos volg geslaag het:

Eksamenvlak: Hoër 1

Antjie Samuel het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Anya Maritz het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Pieter Rademeyer het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 90%.

Jamie Jordaan het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Ghia Pereira het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 88%.

Ella van der Walt het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 86%.

James Marais het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Hoër 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 88%.

Eksamenvlak: Junior 1

Jasper Wolff het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Junior 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Henry Jordaan het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Junior 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 87%.

Christina du Toit het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Junior 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Hanna Louw het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Junior 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 88%.

Hannah de Stadler het die Mondelinge Kommunikasie-eksamen van Spraak en Drama op Junior 1 met LOF geslaag met ‘n punt van 89%.

Die laaste mini-krieketwedstryde vir die jaar het op Donderdag, 20 November, tuis teen Curro Century City plaasgevind. Die interne sportprogram wat in skooltyd plaasvind, het op Maandag, 17 November, afgeskop, waartydens ons leerders direk na ‘n eksamensessie aan sportoefeninge kan deelneem. Ons leerders geniet dit terdeë en dit help om die eksamenangs te verminder!

Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en sluit ek met nog ‘n bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Die oggendstond het goud in die mond.”

Die uitdrukking word gebruik om aan te dui dat ‘n mens deur vroeg op te staan baie kan vermag, of dat ‘n mens soggens vroeg, voordat die dag te besig raak, tyd het om baie te doen.

Geniet ‘n wonderlike naweek saam met jul gesinne, en mag die Bokke die naweek weer wen deur die Iere ore aan te sit — en die keer hopelik sonder ‘n rooi kaart!

Naas Beets  
SKOOLHOOF