Vandag sluit ons week 3 van die kwartaal af deur vir Oktobermaand spreekwoordelik te groet. Dit bly maar verstommend hoe vinnig die jaar einde se kant toe snel, met een van die langste maande van die jaar wat in ’n oogwink verby is, om môre Novembermaand te verwelkom. Kersfees maak dan sommer ook skielik sy verskyning op die kalender met die pragtigste Kersfeesversierings wat winkelsentrums oral verfraai.
Ons junior koor het op Woensdag, 22 Oktober, aan die Weskus Koorfees te Laerskool Van Riebeeckstrand, asook op Saterdagoggend, 25 Oktober, te Hoërskool Jan van Riebeeck tydens hul PlezierMarkt opgetree en hulle weereens puik van hul taak gekwyt. Baie dankie, mnr. Ben en die junior koor, wat ons so trots maak met jul puik optredes die afgelope jaar.

Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om die volgende leerders wat silwer medaljes tydens die Kaapse Eisteddfod verower het, hartlik geluk te wens – ons is baie trots op julle:
Floris Muller – voordrag
Frannie Samuel – voordrag
Cornelia Opperman – voordrag
Jean-Jacques Rossouw – voordrag
Mika van der Walt – voordrag
Antjie Samuel – voordrag
Coreen Scholtz – onvoorbereide lees Graad 5–6, asook Junior Sang (in die kategorie Afrikaanse Lirieke)
Gerhard Conradie – onvoorbereide lees Graad 5–6, asook vir voordrag
Jamie Jordaan – unprepared reading
Susie Samuel – onvoorbereide lees, asook unprepared reading
Coreen Scholtz en Antjie Samuel – Beste Junior Deelnemer in die UNISA-afdeling, asook onvoorbereide lees vir Graad 5–6.
Op Vrydag, 24 Oktober, het ons vir die eerste keer aan Laerskool De Hoop se middag-/aand-atletiekbyeenkoms onder spreiligte deelgeneem. Ons het 32 atlete na die De Hoop-atletiekbyeenkoms in Somerset-Wes geneem, en ons atlete het uitstekend presteer. Hul medaljes is tydens die saalbyeenkoms op Dinsdag, 28 Oktober, uitgedeel:
Jack Dawes – 1ste plek seuns o.13 80 m hekkies
Bella Malan – 2de plek dogters o.11 80 m naellope
Louis Hofmeyr – 2de plek seuns o.10 80 m naellope
Dylan Daniels – 2de plek seuns o.13 verspring
Maia du Toit – 3de plek dogters o.11 70 m hekkies
Rafa Lamprecht – 3de plek seuns o.12 hoogspring
Lizzy Snyders – 3de plek dogters o.10 verspring
Leah Jacobsz – 3de plek dogters o.11 600 m
Pumi Salamani (o.13), Dane Botha (o.12), Stef Nel (o.11) en Louis Hofmeyr (o.10) – 3de plek in die wisselaflos.
Baie geluk aan die bogenoemde atlete wat ons so trots maak, en baie dankie aan mnre. Leon, André, Keenen en Dian wat ons atlete na Laerskool De Hoop vergesel het.

Huppelland se jaarlikse kunsuitstalling het vanjaar op Donderdag, 23 Oktober, plaasgevind en was weereens ’n reuse sukses. Dit was ’n betowerende aand waar al ons Huppelland-ouers hul kinders se unieke kinderkuns en kreatiwiteit kon beleef. Die volgende drie kunstenaars het vanjaar ons leerders se kuns geïnspireer:
Gr R: Michal Turner
Gr 0: Jackie Veldman
Gr 00: Austen Gordon
Die bogenoemde kunstenaars het gedurende kwartaal 2 die onderskeie grade kom besoek om apart met die leerders te praat, van hulself te vertel, en hul ongelooflike kuns vir die leerders en juffrouens te wys. Hulle het daarna ook tyd met ons onderwysers spandeer om die kunsmedium wat vanjaar gebruik moes word, te bespreek en hoe hulle die projek wou aanpak om dit vir die leerders te vereenvoudig. Hulle het ook tydens die maak van die kunswerke kom hulp verleen, en Jackie het selfs saam met die Gr. 0-leerders gesit.
Die drie kunstenaars het ook die kunsuitstalling bygewoon en was in vervoering oor die leerders se kreatiewe kunswerke. Ons is baie dankbaar vir hulle tyd, moeite en inspirasie om die sukses van die projek te verseker. Ons leerders is baie bevoorreg om hierdie tipe blootstelling te kon ervaar.
Ons ouers kon tydens die uitstalling smaaklike etes van Ardi’s food truck bestel, en daar was heerlike wyn van Opstal Estate Wines te koop. Baie dankie aan Tina le Cordeur (een van ons mammas wat Source Artistry besit) wat ons elke jaar help om hierdie talentvolle, plaaslike kunstenaars te identifiseer. Dit is ons derde jaar waarby hierdie plaaslike kunstenaars betrokke was, en ons kan nie wag vir volgende jaar se uitstalling nie!
Graag wil ek vir juf Louise en haar span hartlik bedank vir die puik reëlings en harde werk wat tot die sukses van die stylvolle kunsuitstalling gelei het.

Ons skool het die afgelope vyf jaar hard gewerk om ’n gesonde en kompeterende sportkultuur, met die regte kombinasie van aanmoediging, deelname, prestasie, dissipline en die kweek van liefde vir die sportkodes by die skool, te vestig. Dit het ons in staat gestel om kompeterend teen heelwat groter skole deel te neem, asook om aan groot toernooie deel te neem. Geborgde sportdrae het ’n integrale deel van die skoolsportbedryf geword, wat uitstekende handelsmerk- en bemarkingsgeleenthede vir borge/donateurs bied.
Dus neem ek graag die vrymoedigheid om julle as ouers/voogde te nader rakende moontlike borgskappe vir ons eerste sportspanne se wedstrydklere. Ek glo dat die eerste sportspanne hulle vanjaar weereens bewys het met hul puik uitslae, en ons skool word al hoe meer na top sportgeleenthede genooi as gevolg van die suksesvolle sportontwikkeling wat die afgelope vyf jaar by ons skool plaasgevind het.
Ek wil graag vir Meyer Lamprecht (’n ouer by ons), wat sy hand opgesteek het om volgende jaar die eerste rugbyspan te borg, hartlik bedank vir sy ruim bydrae – ons waardeer dit baie!
Dus, indien jy sou belangstel om een van die volgende eerste spanne te borg of ons in kontak met ’n potensiële borg te stel, kontak my asseblief:
- Netbal
- Hokkie – seuns
- Hokkie – dogters
- Tennis (seuns en dogters)
- Krieket
- Atletiekspan
- Swemspan
- Skaak
Graag herinner ek almal aan die belangrike begrotingsvergadering met ouers op Maandag, 3 November 2025, om 18:00 in die skoolsaal. Gedurende hierdie vergadering maak ons die verhoging van die 2026-skoolfooie bekend. Soos julle bewus is, vereis die BELA-wetgewing dat 10% van ons ouers (kworum) die begrotingsvergadering moet bywoon om die vergadering legitiem te maak.
Dit beteken dat daar ’n minimum van 85 ouers/voogde die vergadering moet bywoon! Dus doen ek ’n ernstige beroep dat julle die vergadering sal bywoon. As motivering om ’n kworum te verseker, sal elke ouer/voog wat die vergadering bywoon, se kind(ers) toestemming ontvang om die volgende dag (4 November) sivvies skool toe te dra, asook ’n smaaklike roomys te ontvang. By voorbaat dankie dat julle die belangrike begrotingsvergadering op Maandag, 3 November, om 18:00 sal bywoon om die effektiewe bestuur van die skool te verseker.
Dit is dan, soos die vorige weke, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en ek sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:
“’n Lansie vir iemand breek”
Hierdie uitdrukking beteken om vir iemand ’n goeie woord te doen of in die bres te tree (met ander woorde, om iemand te verdedig of vir iemand op te kom).
Geniet ’n wonderlike naweek saam met jul gesinne.
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF