Dit is my ’n wonderlike voorreg om al ons leerders, ouers/voogde en personeel terug by die skool te verwelkom na ’n heerlike, maar baie kort Oktober-vakansie. Ek hoop almal het die vakansie terdeë geniet. Verder glo ek almal se spreekwoordelike batterye is herlaai en slaggereed om kwartaal 4 met hope energie en entoesiasme aan te durf. Kwartaal 4 is vanjaar besonders kort, want dit is slegs nege weke lank met heelwat opwindende aktiwiteite wat gaan plaasvind – hou dus die spasie dop en maak jou spreekwoordelike gordel vas.

Die somersport buitemuurseprogram het alreeds op Maandag, 13 Oktober, met mening afgeskop en ons maak gereed vir al die somersportwedstryde, -toernooie, -swemgalas en -byeenkomste wat die kwartaal gaan plaasvind. Musieklesse het ook op Maandag, 13 Oktober, begin.

Die finale rondte van die WOW-spelfees het die afgelope naweek gedurende die vakansie by die Universiteit van Stellenbosch plaasgevind. Mateo (Gr. 4) en Ghia Pereira (Gr. 6) was die enigste Jannies wat tot die finale rondte deurgedring het. Mateo het ’n 7de plek en Ghia ’n 8ste plek in hul onderskeie kategorieë behaal. Hierdie is merkwaardige prestasies op nasionale vlak en baie spesiaal dat boetie en sussie saam op die hoë vlak kon presteer. Baie geluk julle twee – julle maak ons baie trots, en ons besef die harde werk en tyd wat daarmee gepaard gegaan het om vir die uitdagende kompetisie voor te berei.

Ons gebruik gewoonlik vakansies en naweke om onderhoudswerk by die skool te doen, en die afgelope vakansie is daar weer hard gewerk aan herstel- en verfwerk by die speelarea van die nasorg om die area op te gradeer en te verfraai. Daar is onder andere die volgende gedoen:

  • Herstelwerk aan die plaveisel.
  • Sement- en plaveiwerk.
  • Herstelwerk aan agterste muur teen die woonstelblok.
  • Teerwerk.
  • Afskuur en vernis van die klimrame.
  • Verfwerk van die bankies.
  • Opvul van ’n dekarea om die veiligheid van leerders te verseker.

Baie dankie aan juf. Jodene vir al die reëlings, asook Hannes en die terreinmanne vir hul harde werk om die bogenoemde verbeteringe aan te bring.

 

Op Dinsdag, 14 Oktober, tydens die weeklikse saalbyeenkoms het ons skool onder groot geheimhouding vir die eerste keer sy eie gelukbringer bekend gestel – leerders en personeel was aangenaam verras en het dit glad nie verwag nie! Dit was ’n inisiatief van die volgende drie graad 4-leerders wat ’n afspraak met my kom maak het om voor te stel dat ons skool ernstig moet oorweeg om ’n gelukbringer, soos ander skole, tydens sportdae en veral tydens interskole, bekend te stel:

  • Ilsa Jooste,
  • Elliot Coetzee, en
  • Dirkie van Eeden.

Hulle voorstel was Jannie die Jagluiperd as gelukbringer. Ek het, soos aan hulle belowe, hul voorstel aan die skoolbestuur (EXCO) voorgelê. Die EXCO het saamgestem dat dit ’n baie goeie inisiatief is en dat ons dit moet ondersoek. Om ’n lang storie kort te maak, is daar besluit dat die enigste dier wat in ons nuwe skoolwapen voorkom, ’n leeu (as gevolg van Leeukop) is, en dat ons eerder ’n leeu moet kies, aangesien dit ons skoolwapen en kernwaardes verder sal komplimenteer — wat baie sin maak.

Die leeu, of sal ek eerder sê die nuwe gelukbringer, het toe ook ’n baie unieke en spesiale naam gekry, naamlik BRUL-JANt. Dit is baie gepas, aangesien ’n leeu lekker kan brul en dan saam met ons briljante Jannies is die naam BRUL-JANt vir seker baie gepas.

Die opwinding in die saal was oorverdowend met die verskyning van BRUL-JANt op die verhoog, nadat ek eers die nuwe skoolwapen met al sy simboliek aan die leerders verduidelik het, asook die agtergrond met hulle gedeel het oor waarom daar besluit is om ’n leeu as ons skool se gelukbringer te kies. Kyk bietjie hier: BRUL-JANt se bekendstelling

BRUL-JANt se eerste optrede sal tydens die jaarlikse interhuis-atletiekbyeenkoms in Desember wees. Graag wil ek vir ons skool se finansiële bestuurder, Liesel Hammond, hartlik bedank vir al die reëlings om vir BRUL-JANt te laat maak. Laaste, maar nie die minste nie, ’n hartlike dankie aan die 2025-graad 7’s wat die maak van BRUL-JANt betaal het as deel van hul gr. 7-afskeidsgeskenk aan die skool.

 

Op Woensdag, 15 September, het die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) se jaarlikse sistemiese toetsing by ons skool vir gr. 3- en 6-leerders plaasgevind. Hierdie toetsing vind al sedert 2002 plaas. Die program is in 2010 ook na graad 9 uitgebrei. Die uitslae help skole om dele wat verbetering verg, te identifiseer, en die WKOD om vas te stel watter dele van die kurrikulum bykomende ondersteuning benodig. Ons sal julle op hoogte van die uitslae hou sodra ons dit vroeg volgende jaar ontvang.

Ons leerderraad het saam met juf. Marinda ’n leerderraadsontbyt op Donderdag, 16 Oktober, te Laerskool Welgemoed vanaf 08:00 bygewoon. Dit is ’n jaarlikse instelling waar Laerskool Welgemoed verskeie laerskole se leerderrade nooi vir leierskapontwikkeling asook ’n heerlike samesyn. Die gasspreker vir die oggend was die gewilde burgemeester van Kaapstad, Geordin Hill-Lewis. Sy positiewe en inspirerende boodskap aan die jong leerderrade het beslis hul dag gemaak.

Die afgelope Oktober-vakansie het juf. Marianne haar gewilde naaldwerkklasse aangebied, en ons leerders het dit vreeslik geniet.

Dit is dan, soos die vorige kwartaal, my voorreg om verder voort te gaan om ons pragtige moedertaal te promoveer, en ek sluit af met nog ’n bekende Afrikaanse uitdrukking:

‘Hy is agterstevoor suinig’

Die uitdrukking verwys na iemand wat geld op klein dingetjies wil spaar, maar tog baie geld op onnodige dinge bestee. Die Engelse weergawe sal wees: “penny wise but pound foolish.”

Geniet ’n wonderlike naweek saam met julle gesinne.

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF