Dit is my groot voorreg om ons leerders, ouers/voogde en personeel die week hartlik na ‘n welverdiende wintervakansie te verwelkom. Ek glo dat almal die drie weke van lekker rus behoorlik gebruik het om die spreekwoordelike battery sommer ten volle te herlaai, en dat julle slaggereed is vir nog ‘n besige kwartaal, propvol opwindende aktiwiteite.

Op Dinsdag, 22 Julie, het ons Jannies en onderwysers met groot opwinding terug skool toe gekeer. Die eerste dag van Kwartaal 3 is tradisioneel met ‘n saalbyeenkoms begin, waartydens ek almal amptelik na die heerlike vakansie kon terug verwelkom. Mnr. Ben het die saal met ‘n puik boodskap geopen.

Daar is verder heelwat sport- en kultuurgeleenthede (Koortoer & Eisteddfod) om na uit te sien – veral die jaarlikse interskole, wat vanjaar weg tydens die naweek van 15 en 16 Augustus te Moorreesburg plaasvind – asook die Senior Koortoer wat vanaf 9–11 Augustus aan die gewilde Cantamus Koorkompetisie te George gaan deelneem.

Die Suid-Kaap Sporttoer, wat vanaf 23–27 Junie 2025 plaasgevind het, was weereens ‘n reuse sukses, en die leerders wat die toer meegemaak het, praat nog steeds met lof oor die wonderlike ervaring – veral om teen ander skole buite ons onmiddellike area te speel, asook die ongelooflike besienswaardighede wat hulle besoek het.

Ons het vanjaar weer nie toegelaat dat die leerders hul selfone saam op toer kon neem nie. Hulle het dus saans ná die sportwedstryde bordspeletjies gespeel en lekker met mekaar gesels. Dit is juis die samesyn, sosialisering en kameraadskap wat die leerders vir ‘n baie lang tyd gaan onthou en waardeer.

Weereens, baie dankie aan die personeel (Leon, Ischké, Shahneé, Sharon, Suné, André, Keenen) wat die leerders op toer vergesel het en so mooi na hulle omgesien het. Baie dankie en geluk, mnr. Leon, vir al die puik reëlings om die sporttoer moontlik te maak.

Normaalweg word die Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders kwartaalliks op die laaste dag van die kwartaal bekend gemaak. Weens die gr. 7’s se deelname aan die Suid-Kaap Sporttoer (23–27 Junie), kon ons Kwartaal 2 se Top 10 Akademiese Gr. 7-leerders eers op die dag wat die skool vir die derde kwartaal open, bekend maak en hul sertifikate oorhandig.

Baie geluk aan die volgende Gr. 7-leerders (alfabeties) met jul harde werk en toewyding:

  • Sabine Barnard

  • Ben Esterhuyse

  • Andries Gouws

  • Johannes Mouton

  • Dané Olivier

  • Stella Pansegrouw

  • Zani Scholtz

  • Katryn Silvis

  • Amelie van der Walt

  • Annalene Viljoen

Tans is ons o.13A-tennisspanne (seuns en dogters) besig om vanaf 21 Julie aan die prestigeryke Sun City Tennistoernooi deel te neem. Tydens saktyd vir die nuusbrief het beide ons seuns- en dogterspanne vir die semi-finale gekwalifiseer, en sal ons volgende week in dié verband volledige verslaggewing doen.

Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogters- en seunspanne vergesel.

Ek sluit dan die eerste week af, en mag julle ’n wonderlike Kwartaal 3 geniet.

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer, en sluit ek af met ‘n minder bekende Afrikaanse uitdrukking:

‘Iemand beduie hoeveel blou boontjies vyf is’

Die uitdrukking beteken om iemand ernstig te berispe. ‘n Blou boontjie is destyds in Nederlands gebruik as beeldspraak vir die blougrys kleur van lood/koeëls. Dus, om vir iemand te beduie hoeveel blou boontjies vyf is, is om vir hom/haar koeëls te wys. Vyf verwys na die ou gewoonte om boontjies te gebruik as hulpmiddel wanneer iets getel moes word. Die boontjies is gewoonlik in vywe eenkant toe geskuif.

Vriendelike groete

Naas Beets

SKOOLHOOF