So breek die einde van ‘n lang en besige, maar tog ‘n opwindende kwartaal propvol hoogtepunte aan. Vandag ontvang elke leerder sy/haar rapport en julle as ouers/voogde ook ‘n elektroniese weergawe via e-pos om erkenning te gee vir hul harde werk, toewyding en deursettingsvermoë die afgelope kwartaal. Ek wil graag die leerders hartlik gelukwens en komplimenteer met hul spograpporte. Spograpporte behels nie net altyd uitmuntende punte nie, maar sluit ook in waar positiewe vordering deur middel van toewyding, deursettingsvermoë en harde werk getoon word.
Ons is saam met julle as ouers/voogde baie trots op jul kinders se akademiese vordering en -prestasies. Geniet ‘n welverdiende wintervakansie saam met jul kinders om sommer alles te doen wat julle as gesinne nie die afgelope tyd as gevolg van die eksamen en/of assesserings voor tyd gehad het nie.
Dit is dan my eer en voorreg om amptelik in die nuusbrief die Hoofseun en Hoofdogter vir 2025, wat op 20 Junie aangewys is — naamlik Nils le Roux en Katryn Silvis — bekend te maak en geluk te wens. My beste wense vergesel hulle met hul nuwe rol as die hoofleerderleiers by ons skool. Mag dit vir hulle ‘n groot eer en ‘n verrykende ervaring wees. Katryn volg in die spore van haar broer, Jan-Willem, wat gedurende 2023 ons hoofseun was. Ons is baie trots op Nils en Katryn!

Die Intersen (Gr. 4–7) se kwartaalikse musiekkonsert is op Donderdagaand, 19 Junie, deur ons musiekdepartement, onder leiding van juf. Rolene en haar dinamiese musiekonderwysers, in die saal aangebied. Die saal was uiters stylvol vir die spogaand voorberei. Baie dankie, mnr. Ben — jou stylvolle hand was duidelik sigbaar. Die program het 28 items ingesluit en die pragtige aand is op ‘n hoogtepunt deur die senior koor met hul nuwe liedjies afgesluit.

Die merkwaardige vooruitgang van ons senior koor is op almal se lippe, en hul optrede van die Franse liedjie, naamlik J’Entends Le Moulin, het die gehoor behoorlik betower. Die groei en vooruitgang van ons musiekdepartement was beslis tydens die aand ten toon gestel met al die nuwe instrumente wat ons leerders nou kans kry om by ons skool te kan leer speel.
Nog ‘n hoogtepunt van die aand vir my was juis dat sommige deelnemers ons met hul tweede keuse-instrument vermaak het. Weereens ‘n kompliment aan ons musiekonderwysers met die kwaliteit van musiekonderrig en hul toegewydheid. Welgedaan aan ons Hoof van Musiek en Kultuur, juf. Rolene, wat aan stuur van sake staan.
Ons sporttoerspanne het op Maandag, 23 Junie, net na 08:00 op ‘n luukse toerbus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer vertrek. Die eerste stop en wedstryde het op dieselfde dag teen Laerskool Volschenk te Riversdal plaasgevind, waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde gespeel het. Beide ons o.13A seuns- en dogterhokkiespan het hul wedstryde gelykop gespeel — die seuns nul elk en die dogters een elk. Daarna het hulle na Hartenbos vertrek, waar hulle spreekwoordelik vir die week gaan kamp opslaan het.

Deel van die sporttoer sluit onder andere uitstappies na bekende toeristebestemmings (wildbesigtigingsrit te Bottelierskop, grotklim te Kango-grotte en aarbeie pluk te Redberry Farm) in, wat die leerders terdeë geniet het. Verder word smaaklike etes by verskeie restaurante geniet, wat altyd ‘n hoogtepunt vir beide die leerders en personeel is.
Geen selfone is vir leerders op die sporttoer toegelaat nie. Mnr. Leon (toerbestuurder) het daagliks op die WhatsApp-groep terugvoering oor elke aktiwiteit gegee, sodat ouers/voogde presies oor al die daaglikse gebeure ingelig is. Ek glo dat dit goed vir ons leerders was om ‘n week sonder ‘n selfoon te wees. Leerders het beslis meer sosiaal verkeer en in die proses mekaar beter leer ken, terwyl daar saans bordspeletjies gespeel is wat tot groot vermaak en samesyn gelei het.
Ons wens die sporttoergroep vandag ‘n veilige rit terug na Kaapstad toe.
Ek sluit dan die laaste week af as ‘n trotse skoolhoof met ‘n ongelooflike kwartaal propvol hoogtepunte agter die rug. Dus is ek baie dankbaar vir ons dinamiese Beheerraad, onder leiding van ons voorsitter, Merwe Scholtz. Ek wil hulle graag hartlik bedank vir hul waardevolle insette en kosbare tyd om saam met die EXCO (bestuurspan) Laerskool Jan van Riebeeck se reis na uitnemendheid moontlik te maak.
Dit is instrumenteel dat ons ons skool na nog hoër hoogtes kan lei, sodat ons trotse skool homself as een van die voortreflikste skole in die land kan vestig. ‘n Skool kan slegs suksesvol wees indien sy ouers/voogde aktief betrokke is, en dit is waarvoor ons skool staan – betrokke ouers/voogde wat net die beste vir hul kinders en die skoolgemeenskap wil hê. Mag ons die spesiale etos by die skool, asook die unieke band tussen leerders, ouers/voogde en personeel vir nog baie lank koester!
Solank ons onsself kan wees, sal Laerskool Jan van Riebeeck van krag tot krag gaan. Laat my ook toe om ons toegewyde personeel hartlik te bedank vir hul harde werk, maar veral hul omgee om seker te maak dat ons leerders ‘n leersame skoolervaring geniet. Baie dankie, Marinda, vir jou lojale ondersteuning as adjunkhoof, en saam met die EXCO maak ons ‘n gedugte span. Laaste, maar nie die minste nie — baie dankie aan Louise en haar wonderlike span by Huppelland wat ongelooflike werk doen om die Huppellanders so mooi vir die laerskool voor te berei.
Ek sluit dan die kwartaal af, en mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike wintervakansie geniet. Mag julle jul spreekwoordelike batterye ten volle herlaai om nog ‘n opwindende kwartaal die bul by die horings te pak. Haal dus die vakansie jou horlosie af en skakel jou slimfoon af om kwaliteittyd saam met jou gesin te spandeer.
Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:
‘Alle grappies op ‘n stokkie’
Die uitdrukking beteken: in alle erns, ons moet nou ophou grappies maak.
Vir ons Engelse ouers/voogde, indien ek dit sou vertaal: ‘On a serious note!’
Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF