So kom die tweede laaste week van die lang kwartaal asook die Junie-eksamen tot ‘n einde. Ek glo dat al ons wonderlike pa’s in die skoolgemeenskap behoorlik op Sondag, 15 Junie, tydens Vadersdag tot in die afgrond bederf was. Baie dankie aan al ons pa’s vir die belangrike rol wat julle binne gesinsverband en in die gemeenskap speel – ons het groot waardering.

Ek is seker ons ouers/voogde het saam met hul kinders ‘n groot sug van verligting gegee toe die laaste vak van die Junie-eksamen op Woensdag, 18 Junie, geskryf is. Die antwoordstelle is amper klaar gemerk, ‘n deeglike modereringsproses is tans aan die gang en punte word verwerk sodat ons op Vrydag, 27 Junie, – die dag wat die skole sluit – vir elke leerder sy/haar rapport kan gee. Julle as ouers/voogde sal vir die eerste keer ‘n elektroniese rapport op die dag ontvang. Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om vir Marié Cruywagen saam met mnr. Leon en juf. Megan hartlik te bedank vir die nuwe IKT-verwikkeling, sodat integrasie van tegnologie nie net in die klaskamer by ons skool plaasvind nie, maar ook weereens bewys dat ons voortuitgang onomwonde omhels.

Graag wil ek spesifiek die leerders bedank en gelukwens met hul deeglike voorbereiding vir die assesserings asook die besonderse werketiek wat hulle dwarsdeur die kwartaal gehandhaaf het. Hartlike dank ook aan ons ouers/voogde wat hul kinders so mooi die afgelope twee weke tydens die eksamen/assessering ondersteun het om net hul beste te doen. Laaste, maar nie die minste nie, ‘n hartlike dank aan ons opvoeders en leerontwikkelingspersoneel wat met soveel deernis en toewyding ons leerders vir die eksamen en assesserings voorberei het.

Die interim buitemuurse sportprogram wat vanaf 09 Junie in skooltyd plaasgevind het, het ook op Woensdag, 18 Junie, tot ‘n einde gekom. Ek het met verskeie leerders gepraat en hulle het almal bevestig dat dit heerlik en opwindend was om net na ‘n lang eksamensessie uit die klas te kom, die vars lug buite te geniet en net ‘n bietjie aktief te wees deur sport te beoefen. Dit het vir hulle baie beteken, aangesien dit baie gehelp het met hul algemene geestelike welsyn – veral omdat die oefeninge ook die eksamenstres verminder het.

Op Donderdag, 19 Junie, het die oorhandiging van die sporttoerklere vir die Suid-Kaap-toer vroeg die oggend in die saal plaasgevind. Daar was groot opwinding, want ons was so bevoorreg om vir Ben-Jason Dixon, die Stormers se slot, by ons skool te ontvang om die sporttoerklere aan die toerleerders te oorhandig. Ben-Jason is ‘n oud-Paul Rooser en beskik oor ‘n ingenieursgraad van die Universiteit van Stellenbosch. Hy het reeds meer as 50 wedstryde vir die Stormers asook twee toetse vir die Springbokke gespeel. Hy is ‘n ware rolmodel vir ons leerders en dit was ‘n besondere voorreg om hom te kon ontmoet. Baie dankie, Ben-Jason, dat jy die leerders se dag gemaak het.

Ons sporttoerspanne vertrek dan op Maandag, 23 Junie, met ‘n luukse bus na die Suid-Kaap vir ‘n weeklange sporttoer en hulle keer op Vrydagmiddag, 27 Junie, terug. Die eerste stop en wedstryde vind dan op dieselfde dag teen Laerskool Volschenk te Riversdal plaas, waar die hokkiespanne hul eerste toerwedstryde sal speel.

Ek sluit dan week 11 af – mag julle as ‘n gesin ‘n wonderlike naweek geniet. Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

‘Praatjies vul geen gaatjies nie’

Die uitdrukking beteken dat met blote gepraat rig ‘n mens nie veel uit nie.

Vriendelike groete

Naas Beets

SKOOLHOOF