Dit is twee weke na die lekker meevallertjie van ’n ekstra vakansieweek en alles by die skool en Huppelland loop alweer klopdisselboom. Die tempo het egter drasties toegeneem met skoolwerk, kultuur en sport wat spreekwoordelik hul pond vleis eis.

Vir seker is besige kinders nie ’n nuwe tendens nie. Vir generasies neem kinders aan verskeie aktiwiteite deel. Ek glo waar daar geleenthede deur ’n skool vir sy leerders geskep word, sal daar altyd ’n groepie leerders wees wat elke moontlike geleentheid aangryp. In ons geval laat ’n Jannie nie sommer toe om enige geleentheid by die skool mis te loop nie. Dit is vir my ’n riem onder die hart, want nie net ondersteun hulle hul skool nie, maar ek weet dat leerders wat konstruktief met skoolaktiwiteite besig gehou word, waardevolle vaardighede aanleer wat hulle nie altyd tussen die vier mure van ’n klaskamer geleer kan word nie. Die voordele van emosionele en fisiese ontwikkeling wat daarmee gepaardgaan, is ook kardinaal. Dus sien ek buitemuurse aktiwiteite as verrykingsgeleenthede. Dit moedig leerders aan om onafhanklik te dink. Ouers/voogde moet dus self besluit wat die balans vir jou spesifieke kind/ers is, m.a.w. aan hoeveel van die aktiwiteite jou kind/ers moet/kan deelneem. As skool gaan ons voort om geleenthede vir ons leerders te ondersoek en te skep, sodat hul potensiaal ontsluit kan word.

Op Vrydag, 09 Mei, was ons as onderwysers baie bevoorreg dat een van ons ma’s, naamlik Marianne Styan, ons oor die tema “mindfulness” of bewuswording as deel van ons groei-ingesteldheid kom toespreek het. Bewuswording in ’n neutedop beteken om bewus te wees van wat huidiglik om jou plaasvind met ’n element van nuuskierigheid, sonder om te oordeel. Bewuswording fokus ook daarop om gaaf met jouself en ander mense te wees en hou die volgende voordele vir kinders in:

  • Verbeter besluitneming en impulsbeheer;
  • Help om emosies te identifiseer en te beheer;
  • Verlig angstigheid en stres;
  • Bewerkstellig empatie;
  • Leer hulle om moeilike situasies kalm te hanteer.

Graag wil ek Hoërskool Jan van Riebeeck hartlik bedank dat ons verlede week deel van hul massa-reünie en sportnaweek kon wees. Beide ons kore (senior & junior) het Donderdagaand, 08 Mei, by hul kultuurkonsert as deel van hulle massa-reünie opgetree. Ons kore het weereens hul puik van hul taak gekwyt. Merkwaardig was die kwaliteit en moeilikheidsgraad van die vier liedere wat die senior koor gesing het – en dit in vier verskillende tale (Latyns, Frans, Spaans en Sotho). Welgedaan aan ons koorpersoneel (juf. Rolene, mnr. Leon en mnr. Ben) met jul kore se puik optredes wat ons met baie trots laat.

Baie geluk aan die volgende netbaldogters wat deur is na die finale rondte WP-netbalproewe op Saterdag, 17 Mei:

o.11: Ellen van Heerden

o.12: Cato Terblanche, Jana Nel & Solange Stevens

o.13: Amelie vd Walt, Jeanne van Heeden, Stella Pansegrouw & Chanelle van Wyk

Ek sluit dan week 6 af. Mag julle as ’n gesin ’n wonderlike naweek geniet. Sien uit om julle die komende naweek weer langs die sportveld teen Laerskool Sunningdale tuis te sien. My beste wense vergesel Kyle Meissenheimer, Christina du Toit en Alexander Wille wat op 17 en 18 Mei aan die Wes-Kaap skaakproewe te Worcester gaan deelneem – ons hou vir julle styf duimvas!

Graag gaan ek voort om ons pragtige moedertaal te promoveer en sluit ek met die bekende Afrikaanse uitdrukking af:

“Die koeël is deur die kerk.”

Die uitdrukking beteken die saak is afgehandel, daar is niks meer daaraan te doen nie, of die saak kan nie meer gered word nie.

Vriendelike groete,

Naas Beets

SKOOLHOOF