Beste Ouers,

Die senior koor het ‘n bedrywige eerste kwartaal agter die rug, en ek glo julle is net so trots op die leerders se optrede by die Mzanzi Conductor’s Convention soos ons! Dit was ‘n belewenis wat ons nie sommer sal vergeet nie.

Die tweede kwartaal is rustig wat optredes betref, en daar sal geen ekstra oefenkampe wees nie. Ons gaan nuwe repertorium aanleer en fokus op vaardigheidsontwikkeling. Ons gewone oefentye bly dieselfde, en ons verwag dat leerders dit asseblief getrou bywoon:

Dinsdag: 07h30 – 08h30
Donderdag: 07h45 – 08h45

Ons beplan om met die koor in Augustus na George te toer waar ons sal deelneem aan die Cantamus Koorfees. Daar is kostes aan verbonde, waaroor ek meer detail sal gee sodra die tweede kwartaal begin. Baie van die koorlede is nog jonk, en George is vêr – ons is daarom oop daarvoor om ouers op die toer te verwelkom. Neem asseblief die vakansie om hieroor na te dink, en dan kan ons vroeg in die tweede kwartaal gesprekke rondom die beplande toer voortsit.

Hier is ‘n opsomming van die koor se optredes vir die res van die jaar. Plaas dit asseblief in jul kalenders om enige botsings of teleurstellings te vermy.

  • 8 Mei Hoërskool Jan van Riebeeck Reunie Musiekkonsert
  • 4 Augustus Tafelberg Koorfees / Hoërskool Jan van Riebeeck
  • 8-10 Augustus Cantamus Koorfees / George Koortoer
  • 23 September Nootvas Musiekfees / Curro Durbanville
  • 20-24 Oktober Weskus Koorfees / Laerskool Van Riebeeckstrand
  • 30 Oktober IF Kultuurkonsert / Laerskool Jan van Riebeeck
  • 27 November Laerskool JvR Kerskonsert
  • 30 November NGK Tamboerskloof Kerssangdiens

Ek en Leon sien geweldig baie uit na die res van die jaar saam met die senior koor, en ons kan nie wag om die mooiste musiek en nog baie spesiale koor-oomblikke met hulle te deel nie.

Vra gerus indien daar onduidelikheid oor iets is. Ons wil graag help.

Vriendelike groete,
Rolene en Leon