As ouers beïnvloed ons gedrag ongelukkig die dag-tot-dag keuses wat ons kinders maak. Dit is dikwels bepalend van die mens wat hy of sy gaan word.  Hierdie gemoduleerde en aangeleerde gedrag, goed of sleg, word soms van een geslag na ‘n ander oorgedra.  Kom ons kyk na ‘n paar voorbeelde:

HOE JY KONFLIK, WOEDE EN STRES HANTEER

Ons is uitstekende “skeidregters” en “afrigters” wanneer ons ons kinders leer hoe om woede en konflik te hanteer, Maar die beste leerskool bly egter jou eie optrede:  hoe jý  jóú emosies uitdruk. Die wyse waarop jy jou eie angs en spanning bestuur, gaan waarskynlik bepaal hoe jou kind dit eendag gaan hanteer. Dit geld ook vir konfliksituasies. Om deur jou eie optrede te demonstreer hoe om te verskil asook hoe om moontlike oplossings te vind, leer jy hom of haar die mag wat konstruktiewe kommunikasie in verhoudings kan hê. Wys hulle die belangrikheid van verskillende perspektiewe en opinies, maar ook watter grense jy stel as dit by verskille kom.

DIE MANIER HOE JY OOR JOUSELF EN ANDER PRAAT

Ons almal ken die gesegde: “As jy nie iets goeds van iemand kan sê nie, sê eerder niks.” Om jou kind te leer om versigtig te wees wat hulle sê en om nie woorde te gebruik wat kan seermaak nie, gaan hulle help om in die toekoms sterk verhoudings te bou.  Vermy dit om negatief oor onderwysers, afrigters of jou vriende te praat. Om daarop ingestel te wees om vir jou kind iemand se optrede in perspektief te stel, al is hy of sy verkeerd, leer jy jou kind om met empatie en ‘n “sagter” oog na ander te kyk.

Ons moet ook nie die impak van negatiewe selfspraak onderskat nie. Watter boodskap kry my kind as ek voortdurend my eie tekortkominge en foute in gesprekke uitwys? As jy nie in jouself en in jou eie vermoë glo nie, nie met positiwiteit geleenthede aangryp nie, hoe moedig ons ons kinders aan om hulle eie drome en doelwitte te bereik?

ONS EIE VERHOUDINGS EN VRIENDSKAPPE

Hoe ons ons eie verhoudings en vriendskappe in stand hou, gaan die hoek bepaal waaruit jou eie kind daarna gaan kyk. Ons kinders het net ons om by te leer. Om hulle aan te moedig om te luister, om eerlik in ‘n verhouding te wees en om empatie sover moontlik te demonstreer, leer jy hulle om met selfvertroue enige verhouding te hanteer.

WAT SIEN MY KIND IN MY OË?

Wanneer jou kind ‘n vertrek instap, wat is ons soms geneig om eerste te doen? Is hulle netjies? Is hulle hare gekam?  As hulle die kritiek in jou oë sien, voel hulle onmiddellik   hulle is nie goed genoeg nie. Ons as ouers word gebombaardeer met oueradvies wat dikwels teenstrydig is. Daar is egter een iets wat die toets van die tyd weerstaan het: jou kind gaan altyd na jou kyk en tekens soek dat jy hulle liefhet en onvoorwaardelik aanvaar.  En soos Toni Morrisson so treffend opgemerk het: “When your child enters the room, does your face light up?”

Marike Badenhorst                                                  
Opvoedkundige Sielkundige