November-maand het nog net een dag oor en dan breek die laaste maand van die jaar aan. Met ‘n groot skok besef ek dat 2024 amper iets van die verlede is. Weereens ‘n bewys dat Vader Tyd vir niemand stil staan nie. Op ‘n positiewe noot, die langverwagte somervakansie waarna almal uitsien, kom vinnig nader.
Op Woensdag, 27 November, het die finale eksamens vir die Gr. 4 – 7-leerders uiteindelik tot ‘n einde gekom en ek glo ons huisgesinne het ‘n groot sug van verligting gegee, want nou kan huishoudings weer ‘normaal’ en stresvry funksioneer. Alhoewel die rapporte nog nie gefinaliseer is nie, wil ek vir julle graag die versekering gee dat ons leerders puik tydens hul finale eksamens gevaar het. Die afgelope week is ek aktief by die modereringsproses betrokke om vir die jaarlikse promosie en progressie voor te berei wat vir die Grondslagfase op Woensdagmiddag, 27 November, plaasgevind het en vir die Intersenfase (Gr. 4 – 7) op Maandagmiddag, 02 Desember, sal plaasvind. Graag wil ek die onderwysers hartlik bedank vir hulle deeglike nasienwerk van die antwoordstelle om seker te maak die leerders ontvang hul regmatige punte. Laat my ook toe om die modereringspan hartlik te bedank vir die belangrike rol wat hulle speel om seker te maak dat die eksamenpunte volledig en akkuraat is, wat ook benodig word vir die prysuitdelings vir Gr. 5 wat op Dinsdag, 03 Desember, en vir Gr. 6 en 7 op Donderdag, 05 Desember, plaasvind. Soos julle bewus is, sal daar vanaf vanjaar nie meer Top 10 akademiese prestasies in Graad 4 aangewys word nie. Dit sal slegs vanaf Graad 5 geskied en hiermee poog ons om die onnodige akademiese druk op Graad 4-leerders vir eers uit die weg te ruim.
Ek het begrip dat prysuitdelings altyd kontroversieël van aard sal wees, maar wees verseker dat die prysuitdelings by ons skool met die grootste respek en omsigtigheid hanteer word. Net soos ons weekliks erkenning aan sport- en kultuurprestasies in die saal en in die nuusbriewe gee, wil ons ook graag erkenning vir leerders wat akademies hard werk en presteer gee, want akademie is darem ons kernbesigheid. Ons neem deurdagte besluite rakende die proses van erkenning aan presteerders gee sonder om die ander leerders na te kom. Ons fokus beslis nie net op ons presteerders nie en wil graag ons leerders te alle tye beskerm, maar ons besef ook dat dit ons plig as laerskool is om ons leerders te bemagtig vir die hoërskool asook die grootmenswêreld wat voorlê. Dus sal die top tien presteerders in Grade 5 tot 7 tydens die prysuitdelings bekend gemaak word.
Op Sondagaand, 24 November, om 19:00 het beide ons junior- en senior kore saam met Hoërskool Jan van Riebeeck se koor in die pragtige NG Kerk, Tamboerskloof tydens die jaarlikse kerssangdiens opgetree. Vanjaar se kerssangdiens het so ‘n bietjie van ‘n metamorfose ondergaan met Jaco Dippenaar wat in beheer daarvan was. Beide ons kore het hul puik van hul taak gekwyt en al die kerkgangers betower met hulle pragtige kersliedere. Jaco het sommer myself en Pieter Rademeyer (skoolhoof van die HS JvR) ingespan as voorlesers en dit was ‘n wonderlike voorreg om vanaf die preekstoel voorlesing te doen. Verskeie kersliedere is die aand gesing, maar die een lied wat beslis vir my uitgestaan het en amper ‘n tasbare saligheid en vrede in die kerk gebring het, was beslis Lied 358:
‘Welkom o stille nag van vrede, onder die Suiderkruis, wyl stemme uit die ou verlede oor sterrevelde ruis:
Kersfees kom, Kersfees kom – gee aan God die eer, Skenk ons ‘n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer.’
Graag wil ek al ons ouers wat die kerssangdiens bygewoon het, hartlik bedank en ek glo dat julle ook die geseënde diens geniet het. Mag die Kersseisoen vir almal baie vreugde bring.

Die afgelope naweek het Hamilton Junior Rugbyklub se jaarlikse prysuitdeling plaasgevind en ons jannies het na ‘n lang en nat seisoen soos volg uitgeblink:
50 wedstryde (caps) vir die klub:
- Dax Liversage
- Ben Schoeman
Spelers van die Jaar:
- Carter Schoeman – o/12 Speler van die Jaar
- Dwayne Whittaker – o/13B Speler van die Jaar
- Frank van der Walt – o/13A Speler van die Jaar & Junior Speler van die Jaar
Baie geluk aan die bogenoemde spelers wat ons so trots maak.

Ek sluit week 9 van kwartaal 4 af met ‘n anonieme aanhaling rakende waardering vir wat ons alles het, maar dikwels nie raaksien nie. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin en/of vriende toe.
“We are often caught up in our destination that we forget to appreciate the journey, especially the goodness of the people we meet on our way. Appreciation is a wonderful feeling, don’t overlook it.”
Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF