Die mooiste, mooiste maand van die jaar is ongelukkig iets van die verlede en vandag groet November-maand ons met ‘n heerlike sonnige dag. Ons weet ook dat November-maand die begin van die sogenaamde ‘silly season’ is. Mense is gewoonlik teen die tyd van die jaar moeg van uitbranding, hulle gemoed is negatief en voel heeltemal oorweldig met die pas waarteen die jaar verbysnel. Ek sien dit elke jaar ook by die skool waar leerders, dikwels van wie ‘n mens dit die minste verwag, die eienaardigste dinge aanvang of selfs kwytraak. Selfs personeel sukkel om kop bo water te hou. Dus hou ek die afgelope weke gereelde gesprekke met leerders en personeel om die spanning en angs wat die tyd van die jaar bring, te leer bestuur en eerder te fokus op geduld, samewerking, dink voor jy praat en ander mense met die nodige respek te behandel. My grootste wens is dat ons die volgende maand wat die finale eksamen en assesserings insluit, die nodige empatie aan die dag sal lê en nie ons ‘silly season’ – frustrasie onnodig na ander mense kanaliseer nie.

Op Saterdag, 26 Oktober, is die indrukwekkende dakraamstruktuur van die balletsaal te Huppelland afgelewer en met fyn presisie deur ‘n hyskraan gemonteer. Ek het die voorreg gehad om die interessante oefening waar te neem en op kamera vas te lê. Weereens het ek besef hoe gelukkig ons as skool is om nog ‘n wêreldklas fasiliteit te kan bekom en dit alles te danke aan ‘n ruim skenking van ‘n weldoener waarvoor ons baie dankbaar is.

Ek glo julle het alreeds vanaf 21 Oktober waargeneem dat daar ‘n verfkontrakteur besig is om die skoolgebou voor te berei om geverf te word. Tans word al die ‘ou’ verf afgespuit en krake toegemaak, en binnekort sal daar met die fisiese verfwerk begin word. Ons is baie opgewonde, want binnekort gaan die buitekant van die skoolgebou ‘n gedaanteverwisseling ondergaan. Ons skoolgebou gaan dan weer spoggerig lyk en al die nuwe infrastruktuur-opgraderings perfek afrond. Baie dankie aan mnr. Hanekom wat vir ons die projek bestuur en groot dankie aan ons Opvoedingstrust wat die projek befonds.

Op Saterdag, 26 Oktober, het Dapper Stappers onder leiding van juf Anika aan die ‘’walk for little feet’’ deelgeneem. “Walk for little feet’’ is ‘n internasionale fondsinsamelingsprojek asook  bewusmakingsgeleentheid wat deur Life Child gereël is. Daar is dus 5 km gestap om fondse in te samel vir wees- en kwesbare kinders. Baie dankie aan al die ouers en leerders wat kaartjies gekoop het om aan die welwillendheidsprojek deel te neem. Alle deelnemers op die dag moes in oranje getooi wees en so is ons oranje-kleur sommer outomaties en gratis bemark. Baie dankie aan mnr. Keenen wat juf. Anika tydens die dag bygestaan het. Ondersteun gerus Life Child deur ‘n kind te borg en sodoende ‘n kind se lewe vir ewig te verander.

Graag herinner ek almal aan die belangrike begrotingsvergadering met ouers op Maandag, 04 November, om 18:00 in die skoolsaal. Anders as ander jare beveel FEDSAS (Federasies van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole) skole aan om een van die BELAW-vereistes, naamlik dat 10% van ons ouers (kworum) die begrotingsvegadering vanaf 2024 moet bywoon om die vergadering legitiem te maak.Di t beteken dat daar ‘n minimum van 85 ouers/voogde die vergadering moet bywoon! Dus doen ek ‘n ernstige beroep dat julle die vergadering sal bywoon. As motivering om ‘n kworum te verseker, sal elke ouer/voog wat die vergadering bywoon, se kind(ers) ‘n kaartjie ontvang wat jou kind(ers) toestemming gee om die volgende dag (05 November) sivvies skool toe te dra asook ‘n smaaklike roomys te ontvang. By voorbaat dankie dat julle die belangrike begrotingsvergadering op 04 November om 18:00 gaan bywoon om die effektiewe bestuur van die skool te verseker.   

My dankbaarheidsbeker loop steeds oor en kan ek nie anders as om die week weer op ‘n dankbare noot af te sluit met die bekende aanhaling van Oprah Winfrey. Ek wens vir julle ‘n wonderlike naweek saam met julle gesin en/of vriende toe.

“Be thankful for what you have;
you will end up having more!
If you concentrate on what you don’t have,
you will never, ever have enough.’’

Vriendelike groete,
Naas Beets
SKOOLHOOF