Quicket: Maak ‘n donasie hier

Die SA Kinderhuis (SACH) is ons gemeenskap – afgesien daarvan dat die huis net om die draai is van die skool, ken julle baie kinders wat daar is en was. Die sowat 40 kinders in ons sorg word mooi na gekyk deur die wonderlike bestuurspan wat afhanklik is van donateurs en fondsinsamelings. Baie van julle doen reeds jul deel en help waar julle kan daarvoor is ons as die raad, baie dankbaar.

Die jaar wou ons iets nuut probeer en ons wil graag ons Jannies-skoolouers ook daar hê (en bring almal wat lekker is saam). Okay ja, dit is ‘n persoonlike versugting om weer saam met lekker mense ‘n dansvloer vol te pak, te eet en te kuier. Daarom hou ons ‘n disco op Media24 se besonderse Nasdakvenue saam met Kaapstad se top-geleentheidsorganiseerders XL Events en internasionale DJ Marné (wat ook weet hoe om middeljariges aan die gang te kry). Dis Vrydag die 6de September (die Bokke speel die volgende dag). TV-sjef Herman Lensing se span gaan heerlike kos maak en daar sal genoeg borrels, wyne en biere wees. Dis alles ingesluit. Die borge help sodanig dat omtrent jou hele kaartjieprys na SACH toe kan gaan.

Baie mense vra of ons gaan aansit vir ete: Nee, dis ‘n informele storie – maar jy gaan gemaklik kan sit of staan en eet. En jy kan aantrek wat jy wil! Die wat die Disco-tema wil gestand doen, is welkom.

Sien asseblief die skrywe vir nog inligting. As jy dit nie kan maak nie, kan jy ook op Quicket ‘n donasie maak.

Hoop ons sien jou op die dansvloer!

Izelle Venter (SACH-raadslid Bemarking) en die ander raadslede