Wie sou kon dink dat gure en ontwrigtende weersomstandighede die eerste 2 weke van die kwartaal so kon beïnvloed. Die sluiting van die skool op Donderdag, 11 Julie, deur die WKOD mag dalk vir ons vreemd wees, maar ons skool het nie noodwendig dieselfde stormskade soos die meeste skole in die Wes-Kaap opgedoen nie. Dit is veral skole in die Wynlande en Overberg wat groot skade ondervind het. Die grootste ontwrigting vir ons skool was beslis dat ons nie met die buitemuurse program kon begin nie. Selfs die jaarlikse en gewilde hokkietoernooi te Laerskool Stellenbosch moes gekanselleer word tot groot teleurstelling van die leerders en afrigters. 

Soos in my vorige nuusbrief belowe, gee ek graag terugvoer rakende ons o/13A-tennisspanne (seuns en dogters) wat vanaf 08 – 12 Julie aan die prestige Sun City tennistoernooi deelgeneem het. Ons dogterspan het uitstekend gevaar deur ‘n 3de plek uit 14 skole te behaal. Ons seuns eindig 7de uit 15 skole. Ons het teen die top tennisskole in die land meegeding sonder om vir hulle terug te staan. Welgedaan, dogters. Om met ‘n 3de plek weg te stap teen heelwat groter skole, is eenvoudig net merkwaardig! Baie dankie aan juf. Suné en mnr. Rashard wat onderskeidelik die dogters- en seunspanne vergesel het. Ek sal my plig versuim indien ek nie ‘n lansie breek vir Yurich Daniels en sy tennisakademie wat instrumenteel in ons tennissukses is. Baie dankie Yurich vir jou passie om tennis by ons skool na ‘n hoër vlak te neem. Ons waardeer baie! 

Op Dinsdag, 16 Julie, het die Gr. 7-musiekkonsert plaasgevind. Dit kon nie in kwartaal 2 plaasvind nie as gevolg van die Suid-Kaap Sporttoer. Baie geluk aan die volgende leerders met hul puik optrede tydens die konsert: 

  • Leah de Kock – klavier 
  • Daniella Boshoff – viool, klavier en sang (solo en duet). 
  • Jeanne Koen – klavier 
  • Mari Steyn – klavier 
  • Michaan Naylor – klavier 
  • Karu Rademeyer – klarinet, klavier en sang (solo en duet) 
  • Stella Zulch – klavier 
  • Frank van der Walt – klavier 

Baie geluk aan Jack Dawes wat sy o/12 WP-Sonekleure op Maandag, 15 Julie, te Laerskool Tableview ontvang het. Ek het die voorreg gehad om die oorhandigingsfunksie by te woon. Ek wil dan ook vir juf. Shahneé gelukwens, want sy is as spanbestuurder aangewys.  Dit is die eerste keer dat ‘n leerder by ons skool WP-Sonekleure vir hokkie ontvang om nie eens van ’n spanbestuurder te praat nie.  Baie geluk, julle twee maak ons baie trots! 

Wintersportwedstryde vir netbal en rugby het ook op Woensdag, 17 Julie, afgeskop. Ons netbalspannne het weereens uitstekend teen LS Kampsbaai gevaar deur 17 van die 18 wedstryde te wen terwyl ons rugby ‘n bietjie swaarder teen LS Kenridge getrek het. Ons is net dankbaar dat ons so tussen die gure weer vir ‘n slag sport kon beoefen.

Op Donderdag, 18 Julie, het ons Internasionale Nelson Mandela-dag gevier deur fondse in te samel om aan ‘’The Haven Night Shelter’’ te skenk sodat hulle benodigdhede kan aankoop wat haweloses tydens die koue en gure weer kan ondersteun om die lewe vir hulle ‘n bietjie meer draaglik te maak. Baie dankie vir almal se ruim bydraes! Mandela-dag is ‘n jaarlikse wêreldwye viering wat op 18 Julie plaasvind om die lewe en nalatenskap van die ikoniese Nelson Mandela te eer. Hierdie dag dien as ‘n oproep tot aksie vir individue, gemeenskappe en organisasies om oor Mandela se waardes en beginsels na te dink en ‘n positiewe impak in hul eie asook ander gemeenskappe te maak. Die tema vanjaar is om armoede en ongelykheid te bekamp.  Ons wil graag as skoolgemeenskap mense en diere in nood help. Dit vorm deel van ons liefdadigheidsprojekte vir die jaar. 

Verder versoek ek ouers/voogde om asseblief ook seker te maak dat jul kind/ers se skoolklere duidelik gemerk is en ook om jul kind/ers te vra om mooi na dit te kyk, veral as dit vir sport en/of koor uitgetrek word. Ons leerders laat ongelukkig hul skoolklere en besittings die wêreld vol lê en verlore goedere sukkel om voor te bly in die hantering daarvan. Maak ook asseblief seker dat jou kind/ers nie ander se skoolklere (gemerkte) per ongeluk neem en dra nie.  Baie dankie vir julle samewerking in die verband. 

Graag sluit ek dan af met ‘n kort, maar treffende stelling van dankbaarheid vir ons skoolgemeenskap en wens vir julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Dankbaarheid is die kortste weg na Geluk!.’’ 

Vriendelike groete, 
Naas Beets 
SKOOLHOOF