Die tweede week van die eksamen het klopdisselboom verloop. Soggens tydens eksamen is dit vir die eerste uur of twee doodstil in die skool soos die leerders besig is om hul kennis op skrif te stel. Vanaf 10:00 met die aanbreek van pouse wat dan gevolg word deur die interne sportprogram kom die hele skool skielik tot lewe met al die vrolike stemme wat die heerlike winterweer buite geniet. Gelukkig kom die eksamen op Woensdag, 05 Junie, tot ‘n einde en keer ons huishoudings terug na normaal met ‘n welverdiende vakansie wat voorlê.

Môreaand, 01 Junie, vind ons jaarlikse veilingsdinee by die ikoniese Pienk Dame, naamlik die Mount Nelson Hotel, plaas. Hierdie geskiedkundige hotel boei al gaste sedert 1899 en sodra jy die perseel betree, ervaar jy die gevoel van glans en ontspanning wat dit die perfekte venue vir ons gewilde veilingsdinee maak. Vanjaar se tema is ‘Glansryk in Wit’ en ek wil al die gaste by voorbaat hartlik bedank wat die glansgeleentheid gaan bywoon asook hul bereidwilligheid om hul hande diep in hul sakke te steek om ons skool finansieel te ondersteun. Fondse geïn word direk in projekte geploeg om onder andere die infrastruktuur by die skool asook die IKT-leer en -onderrig aan te spreek. Laat my ook toe om die reëlingskomitee bestaande uit Anna Blackmore en Michelle Forsyth hartlik te bedank vir hul deeglike beplanning en harde werk agter die skerms om die sukses van die veilingsdinee te verseker. Daar is 40 lotte plus ‘n spesiale verrassingslot wat opgeveil gaan word. Gelukkig is ons baie bevoorreg om MC du Toit as ‘n bedrewe afslaer aan die stuur van sake te hê.

Laat my toe om die volgende twee leerders hartlik geluk te wens met hul puik prestasie tydens die ATKV se semi-finale rondte op 15 Mei te Hoërskool Bellville:

  • Pieter Rademeyer – 6de plek in die Wes-Kaap
  • Dané Olivier – 6de plek in die Wes-Kaap

Welgedaan julle twee, julle maak ons baie trots. Baie dankie ook aan juf. Andri vir haar puik leiding in die verband en baie geluk met jou aanwysing as ‘n ATKV-beoordelaar.

Graag wil ek met ons ouers/voogde ‘n bekommernis rakende die taalgebruik van veral ons gr. 5 – 7-seuns tydens skool- en sporttyd, deel. Ek glo dat die meeste ouers/voogde salig onbewus van die onaanvarebare kru- en vloektaal is wat deur sommige seuns tydens pouses, voor en na skool gebesig word. Ek het alreeds met die onderskeie grade se seuns ‘n ernstige gesprek gevoer oor die gebruik van kru- en vloektaal. Ek het mooi aan hulle verduidelik dat ‘n mens se woorde toon wie jy werklik is en as jy kru- en/of vloektaal gebruik dit wys dat jy nie baie vir ander mense omgee nie. Hierdie gedrag weerspreek in totaliteit ons waardes en Jannies behoort van beter te weet. Leerders op ‘n jong ouderdom mag dalk dink dat dit “cool” is om vloek-/krutaal te gebruik en om die een of ander rede dink hulle dat dit hulle volwasse laat klink. Ons weet almal dat vloektaal maklik ‘n gewoonte kan raak daarom wil ek dit onmiddellik in die kiem smoor. Hiermee insinueer ek nie dat ek dink die seuns se taalgebruik by die huis te hore kom nie, maar eerder om julle hulp te vra om met jul kinders te praat dat vloek- en krutaal onaanvaarbaar is en niks met volwassenheid te doen het nie. Baie dankie vir julle ondersteuning in die verband.

Op Woensdag, 31 Mei, het stemgeregtigde Suid-Afrikaners die geleentheid gekry om hul stemme tydens die nasionale verkiesing te laat geld. Ek hoop en vertrou dat alle stemgeregtigde burgers hulle na die stemlokale gehaas het om hul kruise te trek om die nuwe nasionale vergadering sowel as die provinsiale wetgewer in elke provinsie te verkies. Vanjaar was die meeste kiesers ooit geregistreer, naamlik 27,7 miljoen met ‘n allemintige 52 partye op die nasionale stembrief om voor te stem. Kom ons hoop en bid dat al die politieke beloftes nagekom sal word en die morele gesag in die samelewing herwin sal word. Baie dankie dat jy jou kruisie in jou kind/ers se belang gemaak het in die poging om Suid-Afrika ‘n beter plek vir almal te maak!

Hiermee sluit ek dan af met ‘n treffende aanhaling oor die eksamen van die lewe en wens ek vir elkeen ‘n wonderlike naweek saam met jul gesin toe:

“Life is the most difficult exam.
Many people fail
because they try to copy others,
not realizing that everyone has a different question paper!’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF