Liewe Ouers/Voogde,
Neem asseblief kennis dat ons ongelukkig op Vrydag, 2 Augustus, afskeid van juf. Izél Storm neem. Sy het besluit om Suid-Afrika vir Budapest (Hongarye) te verruil om leerders se lewens daar ook aan te raak. Hierdie verlies het ons genoodsaak na besluite wat ons leerders se behoeftes eerste stel.
Graag deel ons vir deursigtigheid die volgende met julle:
- isiXhosa: Na vele gesprekke, het die Beheerraad en die EXCO besluit om isiXhosa-klasse wat leerders (gr. 1-6) elke tweede week by juf. Sharon Mabena ontvang, te staak. Hierdie instelling is reeds ‘n paar keer hersien om die vak so goed moontlik aan leerders te bied. Ons ondervind dat die taal (‘n derde taal) nie met slegs een periode elke tweede week regtig optimaal aangeleer kan word nie. Ons benodig dus meer tyd, maar met ons kurukulum-aanbieiding is daar nie tyd op die rooster om meer isiXhosa- klasse aan te bied nie. Ons is wel van plan om isiXhosa as ‘n buitemuurse aktiwiteit aan te bied, indien daar belangstelling is. Hierdie besluit tree dadelik in werking en die aanbieding sal aan die einde van hierdie kwartaal reeds tot ‘n einde kom.
- Digitale geletterdheid/biblioteek: Hierdie vak/leerarea word elke tweede week afwisselend met isiXhosa aangebied wat direk deur die besluit geraak word. Ons gaan nou weekliks van die begin van kwartaal 3 hierdie baie belangrike vak aan ons leerders bied wat verseker dat die volle koderingskurrikulum ook aangespreek sal word. Digitale geletterdheid is ‘n baie belangrike komponent van kodering en robotika. Tydens die onderrig van digitale geletterdheid fokus ons onder andere op digitale voetspoor en -veiligheid, navorsingsvaardighede en met die addisionele tyd wat nou toegeken word, sal leerders ook meer geleentheid tot ons ‘nuwe’ mediasentrum se biblioteekboeke kan ontvang. Daar is baie spesifiek op hierdie vak/leerarea gefokus toe ons besluit het om hierdie leerruimte op te gradeer.
Juf. Sharon sal nou vanaf 03 Augustus aangewend word om die volgende vakke van juf. Izél Storm te onderrig tot aan die einde van hierdie jaar:
- Gr. 5 Eng. HL
- Gr. 6 Eng. FAL
- Gr. 5 PSW (soos kw. 1 en 2), en
- Gr. 7 Aardrykskunde
Verder is die graad 7-klasse van drie na twee verdeel, aangesien die graadgroep baie klein (50 leerders) is. Daar sal dus nie ‘n registeronderwyser in Izél se plek aangestel word nie. Hierdie nuus is reeds verlede week met die graad 7-leerders en ouers/voogde gedeel. Hierdie reëling is ook net tot die einde van hierdie jaar van toepassing. Vanaf 2025 sal daar weer 3 klasse by graad 7 wees.
Baie dankie vir jul ondersteuning in die verband.
Groete
Naas Beets