Vandag is dit weer “#Bok-Friday”. Die Springbokke se soeke na glorie loop beslis volgens plan met hul reuse oorwinning van 76 – 0 teen Roemenië. Die Bokke sit hul wêreldbeker-rugbyveldtog die naweek op Saterdag, 23 September, voort teen Ierland in Parys te Stade de France. Dit gaan ‘n titaniese stryd wees om te bepaal watter span as die wenner van poel B gaan wees. Saam met “#Bok-Friday” vier ons as skool ook Erfenisdag wat op Sondag, 24 September, plaasvind. Dit is dus belangrik dat jy vandag weer “#Bok-Friday” en Erfenisdag ten volle ondersteun deur jou springboktrui, of ‘n springbok t-hemp, net iets groen en goud of iets tradisioneel met trots aantrek om die Bokke en ons pragtige land te ondersteun. Mag die Bokke die naweek die Iere wys dat die Iere dalk die gunstelinge mag wees, maar die Bokke hou nie van verloor nie en nog minder hou hul ondersteuners daarvan!

Ons land spog met ‘n magdom kulture en ‘n mengelmoes van mense. Daarom vier ons jaarliks op 24 September Erfenisdag. Tydens die spesiale openbare vakansiedag vier ons as trotse Suid-Afrikaners ons kultuur en ons erfenis. Kom ons gebruik die dag om as ‘n trotse nasie ons wonderlike land, sy pragtige mense, diere en natuurskoon te waardeer. Erfenisdag is juis in 1996 ingestel om die kultuur en die unieke diversiteit van ons Reënboognasie te vier! Jy kan op die spesiale dag self besluit gebaseer op jou taal, kultuur en herkoms om iets te doen om jou eie erfenis te vier, asook om die geleentheid te gebruik om meer oor ander kulture en hul kosbare erfenis te leer. Omhels gerus die spesiale dag al is dit net met ‘n smaaklike vleisie op die kole.

Kwartaal 3 is besig om einde se kant toe te staan en akademies word dié kwartaal vir grade 4 tot 7 veral met take gekenmerk. As skoolhoof is ek in die gelukkige posisie dat die leerders graag by my kom spog met hul uitmuntende take. Die kwaliteit en detail van die take asook die kreatiwiteit wat daarmee gepaard gaan laat my dikwels sprakeloos. Wel gedaan aan al die leerders en onderwysers met die puik take en projekte wat die afgelope kwartaal afgehandel is.

Vandag eindig die buitemuurse program vir kwartaal 3. Baie geluk aan juf. Shahneé se o.13A-seunshokkiespan wat Vrydagaand, 15 September, die hokkietoernooi te Elkanah House gewen het. Liam Joubert het ‘n spesiale toekenning vir die meeste doele aangeteken, ontvang. Graag wil ons ook vir Jana Maree bedank wat die span as gevolg van beserings en siekte uitgehelp het. Dit was baie braaf en dapper van haar om teen die seunspanne te speel.

Ons skool se toneel- en dramagroep onder leiding van juf. Jana het die naweek van 15 – 17 September aan die Silwervaringfees te Laerskool Bastion deelgeneem. Hulle het puik gevaar en ons leerders het met die louere weggestap. Ons skool het ook die prys vir die beste teks gewen. Baie geluk aan die volgende leerders asook juf. Jana. Julle maak ons baie trots:

Zadie Loubser
Eddie Quixley
Neil Heyns
Dino Burger
Chrystal Conradie
Emma Jonker
Nevieke Bender
Samuel Wolff

Graag sluit ek af met die onderstaande aanhaling deur die ikoniese Madiba rakende erfenis. Ek wens vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe. Geniet die meevallertjie en mag die Bokke wen!

“Our rich and varied cultural heritage
has a profound power
to help build our nation’’

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF