Week 9 het Maandagaand, 13 Maart, om 18:00 met ‘n suksesvolle demonstrasie van die gebruik van Skooler en Microsoft Teams afgeskop. Ons is dankbaar vir al die ouers wat opgedaag het om die gebruik van Skooler en Teams te verstaan en toe te pas. Skooler word binnekort ons amptelike kommunikasiekanaal aangesien ons wil weg beweeg van die gebruik van sosiale media as kommunikasiemiddel m.a.w. ons gaan binnekort die gebruik van WhatsApp beëindig. Skooler is ‘n buigsame ‘toep’ en ‘n ongelooflike leerplatform wat in Teams en Microsoft geïntegreer is. Ons gaan Skooler aanvanklik eers net vir kommunikasiedoeleindes tussen die skool en ouers asook ouers en onderwysers gebruik. Ons beplan om later die ander akademiese opsies wat Skooler ook bied, behoorlik te toets en dan uit te rol. MS Teams is ‘n baie veilige omgewing vir ons leerders en personeel om in te werk en dit vervang dan basies die Google Classroom. Graag wil ek vir juf. Suzaan wat die demonstrasie aangebied het asook Marié Cruywagen wat haar bygestaan het, hartlik bedank vir die insiggewende aanbieding. Verseker is die ouers wat dit bygewoon het meer ingelig, meer gemaklik met die gebruik daarvan en minder angstig om dit te gebruik. Dit is ‘n kwessie van tyd en ons het van al die spreekwoordelike groeipyne om na ‘n ander kommunikasiemiddel te beweeg, vergeet en omhels al die funksies wat die toep bied.

Laat my ook toe om al die gr. 4-ouers wat na afloop van die bogenoemde demonstrasie tot laat die aand vir ‘n algemene akademiese gesprek gebly het. Ons beplan om meer gereeld hierdie tipe geleenthede te skep waar ouers/voogde, die onderwysers, die adjunkhoof en die skoolhoof kollektief in gesprekke kan tree. Die platform skep geleenthede vir dialoog oor dinge wat pla. Ek wil almal bedank vir die wonderlike manier hoe gesprekke die aand hanteer is. Ons fokus is om onnodige angstigheid uit die weg te ruim. Na afloop van die informele gesprek, het ons gr. 4-ouers/voogde pragtige blomme aan elke graad 4-registeronderwyser oorhandig. Dit was ‘n mooi gebaar en bevestig weereens die omgeehart van ons skoolgemeenskap. Ek nooi weer al ons ouers/voogde uit om met ons te praat indien daar iets op die hart is. Kontak my gerus sodat ons pro-aktief probleme uit die weg kan ruim.

Op Dinsdag, 14 Maart 2023, was dit die gr. 7-leerders (leerderrraad uitgesluit) se beurt om die boodskap tydens die weeklikse saalbyeenkoms te bring. Baie dankie aan Kai, Jacques, André en Michel-Georges wat vir ons ‘n inspirerende boodskap gebring het. LS JvR het al vir jare ‘n goeie leeskultuur, maar die vier jonge here het met hul pragtige voordrag en video ons almal in die saal weer verder geïnspireer om meer te lees. Lees is een van die belangrikste vaardighede wat ‘n kind benodig om op skool en in die lewe sukses te behaal. Help ons om jul kinders by die huis te kry om meer te lees en lees gerus vir jul jong kinders. Dit is heerlike gesinstyd en verseker ‘n belegging in jul kind/ers se toekoms. Lees maak ‘n nuwe wêreld vir ons leerders oop waar die nuuskierigheid geprikkel word en die verbeelding oorneem. Sodoende stimuleer ons kreatiwiteit en innovasie by ons leerders.

Ons wil ook vir Pieter Rademeyer en sy span van Hoërskool Jan van Riebeeck hartlik bedank wat ons leerderraad vir ‘n leierskapontbyt en motiveringspraatjie op Donderdagoggend, 16 Maart, om 07:45 te Welgemeend genooi het. Die spesiale funksie is deur verskeie laerskole se leerderrade bygewoon. Lindie Strydom het ‘n ongelooflike inspirerende motiveringspraatjie gehou oor die belangrikheid van leierskap wat vir ons leerderraad van groot waarde was.

Ons interne redenaarskompetisie het op Woensdag, 15 Maart, afgeskop en word oor twee dae aangebied. Baie dankie aan juf. Andri vir al jou puik reëlings asook die ouers/voogde wat dit so getrou ondersteun het. Ek bly verstom oor ons leerders se selfstandigheid, hul selfvertroue en kommunikatiewe vaardighede om indrukwekkende toesprake voor ‘n gehoor te lewer. Hulle is nog baie jonk, maar lewer toesprake met die grootste gemak asof hulle dit al vir jare doen. Ek was so beïndruk met die wyse waarop hulle hul gedagtes formuleer en orden om hul standpunt met argumente oortuigend in te neem.

Geniet die komende langnaweek met Maandag, 20 Maart, wat ‘n amptelike skolevakansiedag is en Dinsdag, 21 Maart, waarop Menseregtedag gevier word. Graag sluit ek af met die volgende aanhaling oor groei-ingesteldheid en wens ek vir julle ‘n wonderlike langnaweek toe:

“With the right mindset,
we can’t lose,
we either practice what we’ve learned,
or we learn what we need to practice!”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF