Laerskool Jan van Riebceeck sluit week 4 van die laaste kwartaal af met die aanbieding van ‘n suksesvolle gholfdag op Vrydag, 04 November 2022, by die Royal Cape Gholfklub. Die merkwaardige gholfklub is die oudste gholfklub in Afrika met ryk tradisie en geskiedenis waarmee ons skool so maklik kan assosieer. Hierdie spesiale gholfdag dien nie as ‘n fondsinsamelingsprojek nie, maar eerder ‘n dag van samesyn vir ons ouers/voogde wat lief is daarvoor om gholf te speel. Die gholfdag lei tot nuwe vriendskappe, kameradie en bou nuwe netwerke asook om op nog ‘n manier die skool se sukses oor die afgelope jaar te vier. Gholf is egter ‘n sportsoort wat enige sportman baie nederig hou, soos wat deur baie van ons wat aan die dag deelgeneem het, ongelukkkig ervaar het. Ek het die wonderlike voorreg gehad om deel van Andries Viljoen se AVCONENG-span (André Symington en Jan-Jurie Fourie) te wees. Ons het ons gate uit geniet en lekker gelag, want daar is min sportsoorte wat ‘n mens kan uitdaag soos gholf en jou ego super broos laat. Die sogenaamde gholfgode was beslis nie aan ons span se kant nie, maar nie eers hulle kon ons geesdrif demp nie. Baie geluk aan Oloff Sieberhagen en sy span (Louis Boshoff, Adriaan Theron en Jake Rennie) wat die dag puik gespeel het en met ‘n allemintige 93 punte (4bal-samespel met beste 2 punte per putjie) die gholfdag gewen het. Laat my asseblief toe om die organiseerder van die gholfdag, Alet Loubser, hartlik te bedank vir al haar puik reëlings om die 48 spelers op die dag te akkommodeer en spesiaal te laat voel. Laat my ook toe om haar man, Cobus Loubser, wat voorheen ook as Tesourier in ons Beheerraad gedien het, hartlik geluk te wens met sy aanstelling as die nuwe bedryfshoof (CEO) van Curro. Cobus, ons wens jou alles van die beste toe met jou nuwe rol. Ons weet jy gaan ‘n groot sukses daarvan maak.

Verlede Woensdag tydens die o.13A-krieketwedstryd wat tuis teen Laerskool Kampsbaai gespeel is, kon ons ook die nuwe elektroniese tellingbord inwy. Weereens groot dankie aan al die ouers wat ‘n finansiële bydrae gemaak het om die tellingbord te kon aankoop. Ons o.13-krieketspan het die middag in slegs 15 boulbeurte ‘n reuse telling van 166 lopies aangeteken waarvan die openingskolwer, Werner Steyn, ‘n onoorwonne 80 lopies aangeteken het. Nodeloos om te sê dat ons ver gewen het, want die opposisie is vir slegs 55 lopies uitgeboul. Welgedaan aan mnr. Warren en sy span met die puik oorwinning.

Alhoewel ons nou net op somersport fokus, het 11 van ons Gr. 6- en 10 van ons Gr. 5-netbaldogters aan ‘n netbalkamp te Elandsrus naby Driesusters (Karoo-area) oor die naweek van 04 – 06 November deelgeneem. Die netbalkamp is deur die bekende Patrys van der Merwe en Elize Kotze aangebied. Ons netbaldogters en afrigters het ongelooflik baie geleer en dit alles buite hul gemaksone. Graag wil ek die volgende juffrouens hartlik bedank wat ons 21 dogters tydens die naweek vergesel het en veilig teruggebring het:

  • Ischké Felix
  • Lucia de Jager
  • Shahneé Felix
  • Helene Slabbert

Die jaarlikse begrotingsvergadering, waartydens die daaropvolgende jaar se skoolfondsverhoging bespreek en besluit word, is op Maandagaand, 07 November 2022, om 18:00 in die biblioteek gehou. Die skoolfondsverhoging is eenparig soos volg goedgekeur:

  • Huppelland = 6% verhoging
  • Laerskool = 12% (sien onder)

Graag wil ek al die ouers wat die belangrike vergadering bygewoon het, bedank. Baie dankie aan ons BR-Voorsitter (Merwe Scholtz), ons Tesourier (Susan van der Walt), ons finansiële bestuurder (Liesel Hammond) en al ons begrotingsbestuurders vir jul waardevolle insette en tyd om die effektiewe begroting saam te stel. Daar is ook tydens die vergadering uitgewys dat daar vanjaar meer as R4M aan projekte by die skool en Huppelland spandeer is wat nie uit die skool se begroting kom nie, maar wel uit ruim donasies van ouers. Ons salueer al ons ouers wat die agfelope jaar ‘n finansiële bydrae gemaak het of kosbare tyd by die skool spandeer het om ons skool van krag-tot-krag te neem.

Groot opgewondenheid heers vandag by die skool aangesien ons al die 2023 Gr.1’s hul nuwe skool en nuwe juffrou kom ontmoet. Dit dien dan as ons Opedag. Vanaand vind die jaarlikse piekniek saam met hul ouers by die sportveld agter die skool plaas. Dit is vir ons ‘n wonderlike voorreg om al die ‘nuwe’ Gr.1’s by die ‘groot’ skool saam hul ouers te verwelkom. Ons beste wense vergesel hulle met die aanvang van hul laerskoolloopbaan en ons weet dat hulle baie vinnig hul voete sal vind, want die spesiale etos by ons skool bemagtig hulle om net hulself te wees. Graag wens ek ook die volgende Gr.1-juffrouens sterkte toe wat so mooi na hulle gaan kyk en hulle help om hul volle potensiaal te bereik:

  • Liezel Theron
  • Nicola Swanepoel
  • Helene Slabbert

Ons het ook aanpassings aan die res van die grondslagfase aangebring en deel dus graag met almal:

  • Graad 2: Rache Turner, Anja Nauta (graadhoof) en Naomi Uys
  • Graad 3: Maricqe Coetzer, Heidré Ehlers en Michelle Compion

Ons is hartseer om te noem dat Benita Smit (Grondslagfase Departementshoof) aansoek om ‘n bevorderingspos gedoen het. Ons het nog niks formeel ontvang om te bevestig dat sy wel die pos by Laerskool De Hoop as Grondslagfase Adjunkhoof ontvang het nie. Ons hou egter duimvas dat sy hierdie pos wel sal ontvang, want ons weet dat sy suksesvol in hierdie posisie sal wees. Ons hou almal op hoogte sodra ons formele nuus in die verband ontvang.

Op hierdie noot is ons ook spyt dat Bibi Janse van Rensburg (gr. 5), Nadia Meiring-Stahmer (gr. 4) en Razelle Hanekom (sportorganiseerder) ons aan die einde van die jaar sal verlaat. Beide Bibi en Nadia se mans het bevordering by hul onderskeie werke gekry. Ons is baie dankbaar vir hul puik werk wat hulle by die skool gedoen het en ons wens hulle baie sterkte toe met hul pad vorentoe. Razelle het ‘n pos by die Hoërskool aanvaar. Sy gaan ‘n groot leemte laat, maar ons is opgewonde saam met haar vir hierdie nuwe fase. Sy was vir lank deel van die Laerskool se span en het die sportprogram help op die been kry tot waar dit vandag is. Ons is baie dankbaar vir alles wat sy vir die skool oor die jare gedoen het!

Ons het reeds goeie onderwysers in Bibi en Nadia se plekke aangestel, nl. Erick Snyman (gr. 5) en Ilse-Marie Holtzhausen (gr. 4). Ons weet dat hulle sommer baie maklik by ons skoolgemeenskap sal inskakel.

Ek sluit af met die volgende anonieme aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal, Respek, fokus en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“Respect is like a mirror,
The more you show it to other people,
the more they will reflect it back!’’

Vriendelike groete
Naas Beets
SKOOLHOOF