Die Wintersportprogram staan einde se kant toe alhoewel Moeder Natuur nog nie Kaapstad en omgewing van haar koue wil verlos nie en eindig op 8 September terwyl die somersportprogram vanaf Maandag, 12 Sept., tot Donderdag, 15 Sept., geskied. Die kort transissie vanaf winter- na somersport is as gevolg van die konsert wat vanaf 19 – 27 September geskied.

Daar heers ‘n groot opgewondenheid met die konsert wat op hande is. Die pandemie het vir ‘n baie lang tyd skole nie toegelaat om enige vorm van konserte, veral binnenshuis aan te bied nie. Vanjaar bied Laerskool Jan van Riebeeck weer ‘n glanskonsert met die spoggerige naam van “ÔSIM” aan met ‘n kontemporêre tema , naamlik Die Seelewe is Magic! Ons Jannies en opvoeders oefen daagliks baie hard om seker te maak dat vanjaar se konsert, dié konsert sal wees wat vir jare onthou sal word. Baie dankie aan die personeel vir julle leeue-aandeel in die verband. Ons is so dankbaar vir ons ma’s wat dag en nag werk om seker te maak dat die kostuums perfek is. Vertrou my dat die kostuums nie ‘n enkele tree terugstaan vir kostuums wat by die werêldbekende musikale vertonings by Broadway, New York, gebruik word nie. Ek is verstom oor die kreatiwiteit en die kwaliteit van die kostuums. Laat my toe om vir mnr. Ben hartlik te bedank wat aan die stuur van die konsert staan en wat ook die uitsonderlike teks geskryf het. Juf. Jana en van die graad 7’s is hard aan die oefen aan spesifieke karakterrolle. Om eerlik te wees, kan ek self nie meer wag dat die konsert amptelik moet begin nie. Ek weet die volgende klink baie anglisisties, maar hou die spasie dop!

Ons trotse laerskool het die Vrouemaand met ‘n elegante Damesontbyt afgesluit. Dit het op Saterdag, 3 September 2022, in die geskiedkundige Welgemeend van Hoërskool Jan van Riebeeck plaasgevind. Karin van Wyk, voormalige Mev. Afrika Klassiek en Mev. SA finalis het as gasspreker opgetree. Die geleentheid het ook met ‘n heerlike wynproe deur Karin de Villiers van Klein Roosboom ingesluit. Dames uit ons skoolgemeenskap het heerlik saam gekuier en vrouwees op ‘n besondere wyse gevier. Baie dankie aan Marinda Brink vir die wonderlike inisiatief en dat sy die dag gereël het. Hartlike dank ook aan mnr. Ben vir die verfraaiing en afronding wat tot die suksesvolle dag bygedra het.

Die jaarlikse Wiskundekamp vir Gr. 6 en 7-leerders is op Saterdag, 3 September 2022, deur mnr. Leon en juf. Andri aangebied. Hierdie wonderlike akademiese inisiatief om die liefde vir Wiskunde te bevorder, is terdeë deur ons Jannies geniet. Die lekker Wiskundepretdag is deur 57 Jannies vanaf 08:00 – 17:00 bygewoon. Die pretdag het ook lekker aktiwiteite soos skattejag ingesluit asook om die Springbokke aan te moedig om die Aussies ore aan te sit. Tussen al die pret is daar ook hard gewerk om sekere wiskundigebeginsels vas te lê.

Op Woensdag, 7 September, het ons ‘n junior sportdag teen Durbanville Voorbereiding aangebied. Die seuns se hokkie- en rugbyspanne het tuis gespeel en die dogters se hokkie- en netbalspanne het weg gespeel. Die weer het vir ‘n slag wonderlik saamgespeel en ons spanne het baie goed teen die sterk teenstaanders gevaar. Die ligging van die Conradieveld met asemrowende uitsig oor die stad, die ikoniese Tafelberg as agtergrond, die pragtige omgewing en waardering van ouers het kollektief bygedra tot die perfekte afsluiting van ‘n baie lang winterseisoen. Graag wil ek vir juf. Razelle en haar wintersportkodehoofde, naamlik juf. Ischké (netbal), juf. Maricqe (hokkie), juf. Raché (skaak) en mnr. André (rugby) hartlik bedank vir hul harde werk, passie en toewyding om seker te maak ons Jannies kry genoeg geleenthede en geniet die onderskeie sportkodes. Dan wil ek graag vir juf. Razelle hartlik gelukwens wat haar puik van haar taak gekwyt het. Haar uitstekende beplanning, reëlings en ekstra moeite het verseker dat ons Jannies die nodige wedstryd- en toernooiblootstelling ontvang het. Ons sien uit na die komende somerseisoen wat voorlê en moedig al ons Jannies aan om al die geleenthede wat hom voordoen, aan te gryp.

Ek sluit dan weer af met die volgende aanhaling wat op ons waarde vir die kwartaal fokus, naamlik Eerlikheid en wens julle ‘n wonderlike naweek toe.

“When you walk a life of honesty, you live a life of truth.”

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF