Alhoewel die week korter is as gevolg van die afgelope langnaweek het daar heelwat sportwedstryde die afgelope week plaasgevind asook nog rugby-, hokkie-, netbal en skaakwedstryde wat vandag en môre geskied. Ons is stadig maar seker besig om die spreekwoordelike ‘Covid-juk’ af te skud deur weer aan normale sportaktiwiteite sonder enige drakoniese inperkings deel te neem. Ons leerders het die afgelope 2 weke puik op die sportvelde presteer en die ding wat my die meeste trots maak, is ons Jannies wat op en af van die sportveld deurlopend ‘n baie goeie en gesonde sportmangees handhaaf. Dit is lekker om te sien hoe ons leerders die wintersportaktiwiteite geniet en terselfde tyd onbewustelik ‘n waardevolle lewensles kry van hoe om in spanverband te funksioneer asook om te leer om mekaar te verdra, probleme op te los en om ‘n kollektiewe doelwit te bereik. Sport bly darem ‘n belangrike opvoedingsmiddel en ons beoefen dit op ‘n mededingende grondslag, maar ook op die beginsel van ontspanning en genot.

Sondag, 8 Mei, is natuurlik Moedersdag wat ‘n spesiale dag is waarop moederskap jaarliks regoor die wêreld gevier word. Moedersdag word in Suid-Afrika sowel as die V.S.A., Australië, China, Japan en Indië altyd op die 2de Sondag van Mei gevier. Alhoewel Moedersdag alreeds in antieke tye deur die Grieke en Romeine gedurende feeste gevier is, is die oorsprong van Moedersdag soos wat ons dit vandag ken, alles te danke aan die Amerikaanse kampvegter vir vroue, naamlik Anna Jarvis. Sy het na haar eie ma se dood in 1905 met ‘n veldtog begin om moeders te vereer vir die belangrike rol wat hulle in die samelewing speel. Dus doen ek ‘n beroep op ons skoolgemeenskap dat ons op Sondag, 8 Mei, Moedersdag in alle vorme van moederskap en die spesiale mense in ons lewens wat ons help vorm het in wie ons vandag is, eer. Ek glo dat al ons Moeders asook ons kosbare Oumas op die spesiale dag tot in die afgrond bederf gaan word.

Graag wil ek van die geleentheid gebruik maak om een van ons opvoeders, naamlik Warren Stoman, hartlik geluk te wens wat onlangs sy BCom-graad (Hons) in bedryfsielkunde behaal het. Welgedaan, Warren, ons is baie trots op jou!

Ek sluit dan af met die volgende bekende aanhaling van Gene Bedley rakende ons kernwaarde van die kwartaal, naamlik verantwoordelikheid:

“Responsibility finds a way, Irresponsibility finds excuses”

Geniet ‘n wonderlike naweek en sterkte vir al ons sportspanne wat vanmiddag en môre deelneem.

Naas Beets
SKOOLHOOF