Die afgelope week was ‘n lekker voorsmakie vir ons Jannies van die opwindende wintersportprogram wat volgende kwartaal voorlê.

Ons o/13A-netbal- en rugbyspanne het vanaf 11 – 12 Maart 2022 aan die Bulfeestoernooi in Porterville deelgeneem. Ons eerste rugbywedstryd teen Hoërskool Piketberg wen ons 19 – 7 terwyl die onverwagte reën salig oor ons neerdaal en die dorre aarde heerlik voed. Ek kon myself nie keer nie en het saam met mnr. André (afrigter) en die reserwes op en af langs die rugbyveld gestap om die seuns aan te moedig terwyl die donderweer sy eie bekoring bring en ons lekker sopnat reën. Ons o/13A-netbalspan onder leiding van juffrouens, Ischké en Shahneé, moes egter eers wag tot die reën heelwat later die middag stop voordat hulle kon speel. Die dogters kon eenvoudig net nie meer wag om te speel nie en draf die opposisie sommer kaf deur Hoërskool Porterville 20 – 1 en Hoërskool Calvinia 22 – 4 te wen. Ons o/13A-rugbyspanne speel toe verder nog 2 wedstryde, verloor ongelukkig teen Hoërskool Porterville 19 – 38 nadat ons halftyd 0 – 24 agter was en wen egter Saterdagoggend 15 – 0 teen Hoërskool Calvinia. Baie dankie en baie geluk aan die spelers en toegewyde afrigters. Julle maak ons baie trots!

Graag versoek ek dat julle gereeld die skool se kalender raadpleeg aangesien ons beplan het om vanjaar aan meer sportwedstryde/dae oor naweke of op Saterdae deel te neem. Daar is veral op Saterdae gedurende Mei-maand heelwat sportaktiwiteite en een wat vir my uitstaan is die driehoekige sportdag (netbal en rugby) op Saterdag, 21 Mei, te F.D. Conradie in Prince Alfred Hamlet, indien julle ‘n lekker gesinsnaweek daarvan wil maak en akkommodasie wil bespreek. Verder gaan ons ook op jul ‘nommer druk’ om ons te help met vervoer na en van die sportvelde. By voorbaat dankie vir julle hulp in die verband.

Op Dinsdag, 15 Maart, het juffrouens Marinda, Lucia en Andri deur middel van rolspel vir die Intersenfaseleerders ‘n waardevolle boodskap oor ons waarde van die maand, naamlik Omgee tydens ons weeklikse saalbyeenkoms gelewer. Omgee moet nie net lippetaal wees of iewers as ‘n kernwaarde op ‘n pragtige bord in ‘n instansie pruik nie, maar eerder daagliks uitgeleef word. Tydens die saalbyeenkoms het ons ook die voorreg gehad om deur Jolene en Nicola, verteenwoordigers van LEAPS (Lamberts Elands Animal Protection Services) toegespreek te word. Hierdie nie-winsgewende dierewelsynsorganisasie bedien diere in nood in die areas van Elandsbaai, Lambertsbaai en Vredenburg. Hulle het mooi vir die Jannies verduidelik watter tipe werk hulle veral in die informele nedersettings verrig en waarom dit so belangrik is om behoorlik na diere om te sien. Hulle red, rehabiliteer en herhuisves hawelose en verwaarlose diere. Ons hele veldtog om kos vir troeteldiere in te samel word aan hulle geskenk. Baie dankie aan al ons ouers en voogde wat reeds ‘n bydrae in die verband gemaak het. Baie dankie aan juffrou Nicola wat vir ons die belangrike uitreikprojek bestuur.

Graag wens ek vir julle ‘n lekker ontspanne langnaweek toe aangesien daar op Maandag, 21 Maart, Menseregtedag gevier word. Laat ons nooit die betekenis van Menseregtedag in die Suid-Afrikaanse konteks vergeet nie, want dit verwys na die basiese regte en vryhede waarop alle Suid-Afrikaners geregtig is wat die reg tot lewe en vryheid, vryheid van denke en uitdrukking insluit. Ek sluit af met ‘n bekende stelling van die ontslape Desmond Tutu: “My humanity is bound up in yours, for we can only be human together”.

Vriendelike groete

Naas Beets
SKOOLHOOF