Ek hoop en vertrou dat almal wat verlede Vrydagaand die sosiale funksie by die Conradievelde bygewoon het, dit terdeë geniet het. Opvallend was die heerlike samesyn onder ouers, leerders en personeel so amper of almal daarna gesmag het. Selfs die weer het perfek saamgespeel met die lastige windjie wat vanaf 17:00 besluit het om elders ‘n oorlas van homself te maak. Ons beplan reeds vroeg in die nuwe jaar ‘n lekker gesellige funksie.

Graag wil ek die beheerraad bedank vir hul waardevolle insette tydens die belangrike strategiese sessie wat op Vrydag, 12 November, vanaf 08:30 – 18:00 geskied het. Die meningspeiling se terugvoer, is as basis vir ons gesprekke en beplanning op die dag gebruik. Een van die netelige kwessies wat ouers aangedui het dringend aandag verg, is die kwessie rondom boeliegedrag. Ongelukkig is dit nie net leerdes wat geboelie word nie, maar dit geskied ook tussen volwassenes (onder andere in die werkplek) en in die kuberrruim. Wees verseker dat dit vir die skool ‘n ernstige saak is, want dit het ‘n geweldige impak op die slagoffer se lewe. Onthou dat nie alle negatiewe gedrag, boeliegedrag is nie. Boeliegedrag is aggressiewe gedrag wat gereeld en aanhoudend plaasvind en dit is spesifiek op iemand gerig wat nie vir homself/haarself kan opstaan nie. Die slagoffers voel dikwels moedeloos en hulpeloos. As jy vermoed dat jou kind/ers geboelie word, wil ek jou vriendelik uitnooi om dit so spoedig moontlik met die opvoeders of myself te bespreek. My kantoordeur staan altyd oop vir ouers/voogde en leerders. Belangrik om te onthou: ek kan nie optree as ek nie ingelig is nie.

Die tweede punt wat in die meningspeiling uitgestaan het, is die feit dat ouers/voogde nie seker is of die vrymoedigheid het wie hulle moet nader indien hul kind/ers ‘n nie-akademiese probleem ervaar nie. Ek wil ‘n beroep op jou doen om in dié geval ‘n e-pos aan jou kind/ers se registeronderwyser te rig en my by die korrespondensie in te sluit. Vir my is dit uiters belangrik dat al ons Jannies skoolgaan moet geniet. Ek wil poog om ‘n Nordiese aanslag by die skool te vestig waar ons ‘n groter klem op sosiaal-emosionele leer moet plaas. Lande soos Denemark, Noorweë, Swede en Ysland volg ‘n formele onderwysstelsel wat hul leerders hoofsaaklik toerus met vaardighede en kennis om emosies effektief te herken en te bestuur. Vir hulle vorm dit die basis van welstand en op hierdie manier verbeter hul leerders se akademiese prestasie. G’n wonder dat die Nordiese lande in die top 10 gelukkigste lande, volgens die Wêreld Geluk Verslag, verskyn nie. Ons wil verseker dat die skool die Jannies se “happy place” moet wees. ‘n Plek waar hulle erkenning ontvang om hulself te wees en geliefd sal wees met personeel wat alles in hul vermoë doen om te verseker die leerders kom met ‘n glimlag skool toe.

Vandag begin die Graad 7’s met eksamen en hulle skryf Wiskunde (vraestel 1 en 2). Die Graad 4 – 6-leerders sal op Dinsdag, 23 November, begin terwyl die grondslagfase leerders reeds met hulle finale assesserings besig is. Graag wens ek vir al ons Jannies sterkte toe. Dit is meer van ‘n kontroletoets as ‘n eksamen. Help ons dat jou kind nie te veel druk op homself/haarself plaas nie! Ons leef tans in ongekende tye wat dikwels bewustelik en onbewustelk druk op mense plaas. Dit is belangrik om die addisionele druk en verwagtinge versigtig te bestuur.

Baie dankie aan die ouers wat ‘n finansiële bydrae gelewer het tot die bou van die muur by die Nasorg se parkie in Kloofstraat om die veiligheid van ons leerders te verseker. Ons benodig egter nog fondse om die muur te bou. Indien jy sou belangstel om ‘n donasie te maak, kontak gerus vir Marili: finansies@jvrprim.co.za.

Graag sluit ek dan week 6 met die eksamen as agtergrond af met die bekende aanhaling deur Walt Disney en wens ek julle ‘n wonderlike naweek toe:

“Why worry?
If you have done the very best you can,
worrying won’t make it any better”