Liewe Jan van Riebeeck-familie

Vandag is daar ‘n behoefte in my hart om met julle te gesels…. in die vreemde omstandighede van 2020…. maar ek weet die skool het net die beste gedoen om alles so glad as moontlik te laat verloop! Welgedaan!

Die tyd het nou aangebreek dat ek ook moet groet na ‘n tydperk van amper 25 jaar! Dit voel soos ‘n leeftyd….wat ‘n heerlike reis was die tyd nie vir my nie!

Eerstens kan ek nie dankbaar genoeg wees dat ons as gesin die voorreg gehad het om deel van hierdie unieke skool en gemeenskap te kon word nie…ons sou nie voor die tyd besef het hoe wêrelde vir ons, as gevolg van hierdie skool en gemeenskap, oopgegaan het nie! Wat ‘n ongelooflike voorreg en daarvoor sê ek net BAIE DANKIE! Ons het sulke hegte vriendskappe opgebou waarvan ons nog steeds deel is.

Dan….my hart se punt….die kinders wat deur my hande gegly het, is natuurlik my hoogtepunt! Daardie onskuld van die kleintjies en opregte sêgoed gaan ek voorwaar oneindig mis! (As ek maar net alles kon neerskryf!) Die afgelope klompie jare was hulle my alles…(dalk ‘n bietjie van ‘n ‘ouma’-gevoel)! Wat ‘n genot om met sulke sponsies te kon werk! Ek het voorwaar so baie van hulle geleer en moes myself dikwels knyp as hulle met sulke waarhede en ‘diepdinge’ uitkom wat my baie laat dink het….mis gaan ek julle verseker!

Op hierdie noot sê ek net tot siens …. met groot dankbaarheid asook met ‘n traan in die oog. Mag die skool net van krag tot krag gaan en alle sterkte word almal toegewens vir die jaar 2021! Mag Kersfees ook net vol vrede, vreugde en geluk wees!

Mooi loop!

Liefde
Marianna Oosthuizen