Hier kom die bokke!

Daar was verseker nie ‘n tekort aan entoesiasme onder die leerders toe die Springbokparade-bus met 2019 se Rugbywêreldbeker kampioene sy rondtes deur die strate gemaak het nie.

Party wou net vir Siya Kolisi in lewende lywe sien, ander is weer groot Faf aanhangers. Die goue beker wat die Bokke huis toe gebring het, het beslis ook aandag getrek. Gelukkig is ons skoolhoof ‘n groot rugby ondersteuner en het hy ‘n rubber arm as dit kom by sulke gebeure, so die toestemming om die bokparade te gaan aanskou, het maklik gekom! Daar was egter ‘n prys om te betaal – ons het omtrent twee ure in die straat gewag vir die bus om sy verskyning te maak. Of dit die moeite werd was, sal elke leerder seker self moet beantwoord, maar ons weet nie wanneer ons weer so ‘n gebeurtenis gaan beleef nie (en ons is immers net ‘n paar meter van die opwinding weg).

Prysuitdeling 2019

Hierbo is ‘n paar Gr.7-pryswenners met van hul pryse
Agter v.l.n.r.: Mari Swanepoel (Top 10: 3de), Owen van der Linde (Top 10: 2de; SW & SK bekers) en Peet Karsten (Dux-leerder, Algemene kennis, Wiskunde, Afrikaans, English HL, NW, EBW en LO).
Middel v.l.n.r.: Jacomien van der Westhuizen (Top 10: 7de, Kulturele veelsydigheid, Musiek), Dawid Adler (Top 10: 5de) en Layla Erasmus (Top 10:4de, Tegnologie).
Voor v.l.n.r.: Alexander Newton (Top 10: 10de), Marianne Nel (Top 10: 9de, Suidoosterbeker), Thornley Webber (Top 10: 8ste, Krieket: senior) en Liezel Snijders (Top 10: 6de, Woeker met woorde, Skaak).

Bedagsaamheidsbeker: Kaylin Grobler en Ruben Janse van Rensburg

Johan Oosthuizen-beker – mees veelsydige Graad 7 dogter en seun: Jacomien van der Westhuizen en Alexander Newton

Phumi in die Kollig

Deur Peet Karsten

Ons Jannie in die Kollig vir hierdie kwartaal is Phumi Salimani. Meeste van ons ken hom as die klein seuntjie wat vir ons isiXhosa-woorde in die saal leer. Sy energie en trots is beslis iets spesiaal. Die Suidooster het so ‘n bietjie meer gaan uitvind oor hierdie kleine Jannie.

Watter taal praat jy by die huis?
Ek praat isiXhosa by die huis.
Waar het jy geleer om Afrikaans te praat?
Ek het in my eerste jaar by Huppelland Afrikaans vir die eerste keer leer praat.
Wat doen jy pouses?
Ek speel pouses handjietennis met my vriende. Ek het selfs al teen ‘n graad 7 gespeel en hom gewen.
Wat is jou gunsteling sport?
My gunsteling sport is krieket. Ek hou ook baie van rugby.
Hou jy van skool? Wat is jou gunsteling ding van die skool?
Ek hou baie van skool, want ek maak baie vriende en speel handjietennis.
Wat wil jy graag eendag word?
Ek wil eendag ‘n polisieman word.

Phumi se opgewekte persoonlikheid is aansteeklik. Hy het beslis ‘n talent vir tale. Hou hierdie Jannie dop!

Katryn, ons k-a-m-p-i-o-e-n

Katryn Silvis is op 19 Oktober by die WOW spelkompetisie se nasionale eindronde aangewys as die 2de beste speller in graad 1. Volgens Katryn was die moeilikste woord wat sy moes spel, die woord oppasster. “Ek het nie die “t” ingesit nie,” sê Katryn met groot erns. Volgens Katryn is spel vir haar baie lekker. “My mamma hoef my nooit te roep om my spelwoorde te leer nie, ek roep háár sommer.” Katryn het lekker prysgeld en ‘n blink silwer medalje gewen. “Ek het nog nie besluit waarvoor ek die geld gaan gebruik nie, ek hou dit eers in ‘n koevertjie. Net ek en my mamma weet waar die koevertjie is.” Nie net ‘n kookwater speller nie, maar nog uitgeslape ook! Veels geluk Katryn, met jou puik prestasie.

Maak tyd vir lees die vakansie

The World’s Worst Teachers

Deur Ruben Vorster (Gr.6B)

The World’s Worst Teachers is ‘n boek geskryf deur David Walliams, met illustrasies deur Tony Ross. Hierdie boek het nie een deurlopende tema nie, dis ‘n versameling van verskillende fiktiewe verhale oor onderwysers.

Dit is ‘n baie snaakse boek met ‘n verskeidenheid koddige karakters (die onderwysers asook die kinders).

My gunsteling storie was Doctor Dread & the Chair of a Thousand Farts. Daar is ook baie ander snaakse en ewe verslawende stories. Ek het spesifiek van die Doctor Dread-een gehou omdat die onderwyser en sy leerling mekaar uitdaag om te sien wie die vuilste en walglikste kan wees, met skreeusnaakse gevolge.

Wees gewaarsku, as jy die eerste storie klaar gelees het, gaan jy dadelik al die ander stories ook wil lees. Dit maak hierdie boek ideaal vir vakansie-leesstof, wanneer jy vir ure aaneen kan lees.

Hierdie is ‘n baie goeie boek en ek sou dit aanbeveel vir alle seuns en meisies van graad vier tot sewe.

Die land van die groot woordfabriek – Agnes de Lestrade

Deur Chanelle van Wyk (Gr.1K)

In die land van die groot woordfabriek praat hulle amper nooit nie, net wanneer hulle woorde ingesluk het. Hulle werk dag en nag. As hulle gelukkig is, vang hulle woorde met hul skoenlappernette. “Seuns en dogters in graad 1 sal van die boek hou en my sussies sal daarvan hou. Ek het baie van die boek gehou. Die boek is 10 uit 10 vir my.”

Minecraft for Beginners

Deur Tommo Kruger (Gr.3BS)

Minecraft is a very popular game played by kids from age 7 and up. This is a Beginners guide to Minecraft. It introduces people who are new to Minecraft to this wondrous game of pixels and blocks. It teaches you about everything a new Minecraft player would need to know.

I would recommend this book to anybody who is new to Minecraft. I give this book a 10 out of 10.

isiXhosa woordkuns by JvR

Juffrou Rentia van der Merwe vertel…

“Om aan te sluit by die isiXhosa 100-woorde uitdaging van hierdie jaar, moes die Gr.6 en 7’s die isiXhosa woorde wat hulle aangeleer het, visueel uitbeeld. Die leerders kon een of meer woorde uit die groep van 100 kies om uit te beeld. Vereistes vir hierdie projek was dat die woord duidelik leesbaar moet wees en dat die illustrasie die betekenis van die woord duidelik en ondubbelsinnig weerspieël. Hulle kon ook in ‘n gepaste medium van hul keuse werk.”

Die leerders se idees was kreatief en oorspronklik en dit gaan beslis baie help om die isiXhosa woorde vas te lê, aangesien baie van ons visuele leerders is. Welgedaan!

Ons verwelkom nuwe gesiggies!

Ons verwelkom die Graad 1’s van 2020 wat ‘n opwindende nuwe fase van hul lewe betree. Hulle het onlangs die laerskool besoek tydens hulle opedag. Hulle is vreeslik opgewonde oor hulle nuwe skool en weet sommer al klaar van ons skoolhoof, mnr. Oosthuizen.

Die swembad en nuwe sportsoorte soos hokkie is ‘n groot trekpleister en hulle sien uit om nuwe maats maak. Die brawe klomp kleintjies is glad nie bang nie.

Ek kan sien hierdie nuwe groep is vreeslik oulik en gaan die skool baie geniet. Ons wens hulle alle voorspoed toe en hoop hulle geniet die laerskool net soos ons dit geniet!

Aftrede, nie vir sissies nie

Ons neem hierdie kwartaal afskeid van twee van ons geliefde onderwysers wat al so te sê deel van die meubels hier by Jan van Riebeeck is! Juf. Trix van der Vyver en juf. Vicky Taljaardt tree hierdie jaar af nadat hulle jare lank deel van die Jannie-familie was. Dit is nie maklik om vir sulke invloedryke juffrouens totsiens te sê nie, maar ons is wel saam met hulle opgewonde oor die heerlike lang rustyd wat vir hulle voorlê.

Deur Mari Swanepoel en Liezel Snijders

Na 33 jaar by Laerskool Jan van Riebeeck, gaan juffrou Trix van der Vyver nou haar bordkryt wegpak. Juffrou Jana Oosthuizen, wat in 1996 in haar graad 4-klas was, dink terug…

Wat het Juf. Trix anders gemaak as die ander onderwysers?
Juffrou Trix is baie godsdienstig en het my baie geleer van die Bybel en het my stories oor Jesus vertel waarvan ek nie geweet het nie. Dit is vir my baie spesiaal dat sy so baie omgee oor die Here en sy maak dit haar werk om almal van die Here te vertel. Jy kan haar enigiets vra en sy sal moeite doen om jou te help en raad te gee.

Het Juf. Trix ‘n groot impak op jou lewe gehad en hoe?
Ja, sy het my geleer dat as ek in die eksamen ‘n vraag nie geken het nie, ek net vir die Here moet vra. En as ek net ‘n bietjie gewag het, het Hy vir my die antwoord gegee. Sy het my geleer om meer gelowig te wees en ek weet dat ek in my graad 4-jaar baie meer gelowig geword het. Ek kon altyd my gevoelens met haar deel en sy het my altyd verstaan en gehelp.

Het daar ooit iets tydens klastyd gebeur wat jy nooit sal vergeet nie?
Toe Juffrou verjaar het, het ons ‘n klaspartytjie gehou, die stoele weggeskuif en handjietennis in die klas gespeel.

Cara Swanepoel, wat hierdie jaar in Juffrou van der Vyver se klas is, vertel ons van haar geliefde graad 4-juffrou:

Wat maak Juf. Trix anders as die ander onderwysers?
Juffrou Trix sê ‘n ding soos wat dit is, sy draai nie doekies om nie. Sy hanteer elke kind dieselfde en sy het nie wit- of bruinbroodjies gehad nie.

Het daar ooit snaakse dinge gebeur?
Juffrou Trix vat nie nonsens nie. Daar was ‘n baie stoute seun in ons klas, wat baie lelik met haar terug gepraat het. Juffrou Trix het hom ampertjies uit die klas uit geboender.

Wat het Juffrou Trix jou geleer?
Elke dag was opwindend by die skool en sy het my geleer om elke persoon dieselfde te behandel, ongeag wie jy is of waarvandaan jy kom.

Wat sal jy van Juffrou Trix onthou?
Juffrou Trix het al die dogters “Sussa” en al die seuns “Boeta” genoem, asof ons haar eie kinders is. Haar skopaksies is definitief iets wat ek nooit sal vergeet nie!

Met ‘n seer hart, moet ons nou van juffrou Trix afskeid neem. Juffrou het diep spore hier by Laerskool Jan van Riebeeck getrap en ons sal nooit Juffrou se helder glimlag en liefde vir die Here vergeet nie…

Juffrou Vicky Taljaardt tree ook hierdie jaar af na ‘n lang loopbaan in die onderwys. Die Suidooster het by haar gaan aanklop om meer oor haar as mens uit te vind.

Wanneer het Juffrou by JvR begin?
Ek het in 1992 (28 jaar gelede, van die juffrouens by die skool was toe nog nie eers gebore nie) by die skool begin klasgee. My eerste pos was in Woodstock en daarna by Zwaanswyk vir baie jare.

Tussenin het ek baie getoer en gewerk in Londen en Europa. Ek was al die jare ‘n Spesialeklas-juffrou. Leerlinge van verskillende ouderdomme en verskillende behoeftes was almal in een klas. Ek het al die vakke vir hulle gegee. Hulle was die hele dag by my en het nie klasse geruil nie.

Ons het ook mandjies gevleg en leerwerk, naaldwerk en houtwerk gedoen. Baie vaardighede is in die proses ontwikkel. Juf. Michelle Kellerman (Gr.1K) se klas was altyd myne. Ons was soos ‘n familie onder een dak.

Jy het seker oor die jare al baie snaakse dinge gehoor en beleef. Watter staan vir jou uit?
Daar was so baie, want leerlinge deel met my dinge wat hulle nie noodwendig met ander onderwysers in ‘n groot groep sal deel nie. Hierdie gesprek sal my altyd bybly (en laat lag!):

“Juffrou….my ma het weer ‘n boyfriend.”
“A, dis nice. Waar kom hy vandaan?”
” Sy’t hom geGoogle, Juffrou. “

” ‘n Kind vra my eendag dat ek iets moet verduidelik. Ek doen dit toe op verskillende maniere.”
” Phew “, sê die kind na die tyd. “Jy’s goed hoor. Jy moes eintlik ‘n juffrou geword het.”

Is daar iets wat min mense van jou weet ?
My naam is nie Vicky nie. Ek is op VE-dag (Victory in Europe) gebore. Dit was die dag waarop die Tweede Wêreldoorlog in Europa beëindig is. My ouers het my Ve genoem. Vir Engelse vriende het dit soos Vicky geklink.

Met die jare het ek handdoek ingegooi, almal laat begaan en opgeëindig met vele name: Ve, Vicks, Vicky, Victoria…My regte name is Johanna Victoria.

Watter planne het jy vir jou aftrede?
Om nie ‘oud’ te word en op die stoep te sit nie

‘n Laaste woord?
Ek is baie dankbaar vir al die liefde en goeie vriende by Laerskool Jan van Riebeeck. Net die lyf gaan weg, die hart sal altyd bly.

Ek sal altyd ‘n ware Jan van Riebeecker bly. Onthou WEES USELF en wees goed vir almal.

Nog ‘n paar koebaai’s

Behalwe vir twee aftredes, moet ons ook drie onnies vaarwel roep. Mnr. Muller, juf. Bernice en juf. Zuki se tyd by Jan van Riebeeck kom nou tot ‘n einde. Ten spyte daarvan dat hulle net vir ‘n kort rukkie deel was van die Jannie-familie, het hulle baie diep in die leerders se harte ingekruip. Ons hoop hulle kom kuier gereeld!

Opgelos! Die vermiste selfoon-saak

Tydens die tweede laaste week van die skoolkwartaal, was daar omtrent ‘n geskarrel in die gange soos almal soek na juffrou Marianna Oosthuizen se splinternuwe iPhone.

Na ‘n hopelose poging om die selfoon te probeer opspoor, het ons besluit om die Find your iPhone funksie in te span. Dit was egter ook nie ‘n maklike taak nie, want dit was ook soek en juffrou Marianna moes eers huis toe ry om haar Apple ID te kry.

Na ‘n onsuksesvolle uitstappie na die Vodacom winkel, het mnr. Hanekom en juf. Burger die Apple ID in die hande gekry en met die speurwerk begin. Volgens Find your iPhone, was die selfoon in Groenpunt. Die eerste vermoede was dat ‘n ouer dit per ongeluk ingepak het ná een van die prysuitdelings.

Vinnig word daar ‘n Whatsapp uitgestuur aan ouers, maar dit lewer niks op nie. Daar word toe besluit om te fokus op die Google Maps-ligging van die selfoon. Mnr. Oosthuizen het gehelp om die geboue uit te ken. Die straat het nie bekend gelyk nie, maar toe daar egter in street view gekyk word na die omgewing, het dinge vir mnr. Oosthuizen begin bekend lyk.

Die grootste leidraad was ‘n spesifieke motor wat reg voor die een huis staan… en die eienaar van die voertuig is toe wraggies ons eie juffrou Taljaardt!

Juf. Vicky het juf. Marianna se selfoon aangesien vir haar eie en dit is in haar handsak saam huis toe. Sy het ‘n bekentenis gemaak nadat mnr. Oosthuizen haar gebel het. Sy sal eers oor 5 jaar in aanmerking kom vir parool.

Troukoors!

Twee van ons onnies het onlangs die knoop deurgehaak en nog twee het verloof geraak. Ons wens hulle alle voorspoed en geluk toe met hierdie nuwe seisoen in hulle lewens.

Juf. Liezel de Jager is nou ‘n Theron! Sy en haar man, Pieter, het op 23 November in die Koue Bokkeveld getrou.

Juf. Marianne van der Westhuizen het op 30 November op Morgensvlei in Tulbagh met Johannes Conradie getrou.

Juf. Maricqe Roos het op ‘n plaas buite Worcester aan Campbell Coetzer verloof geraak en mnr. Theuns van der Bank, ons oud Gr.5-onnie, het ook ‘n ring aan juf. Lize-Marie se vinger gesteek!

Jannies is dankbaar!

Gaan loer gerus na hierdie video van ons terreinpersoneel wat saamgestel is deur die graad 7’s.

Die terreinpersoneel werk hard deur die loop van die jaar en ons wou graag meer gaan uitvind oor hulle tyd by Jan van Riebeeck.

JvR-hart klop oranje en blou

Die afgelope paar weke het atletiekkrete deur die gange weergalm soos leerders voorberei vir ‘n dag vol sports. Dit is die vierde jaar wat die atletiek aan die einde van die jaar plaasvind, in plaas van aan die begin van die jaar soos in die verlede. Dit is verseker ‘n goeie manier om onstlae te raak van al die eksamen-spanning waarvan die stof enkele dae voor die atletiek eers gaan lê het. Die Blou span se tema was Formule 1 en die Oranje span s’n, Rock ‘n Roll.

Baie geluk aan ons junior sportseun en -dogter, Albert Griesel en Sophia Liebenberg en senior sportseun en -dogter, Danny Newton en Héloïse Strauss. Die Trudie de Waal-sangbeker is hierdie jaar deur die Blou span verower. En die algehele wenners van ons atletiek is…. O-R-A-N-J-E!! Veels geluk!

1935-Probleme

Plaasskool by die see

Die kans is maar skraal dat ‘n mens se tuin in die stad groot genoeg is om ‘n troeteldier aan te hou (indien jy enigsins ‘n tuin het!). Die Jannies het egter steeds ‘n liefde vir diere en het altyd stories om te vertel. Ons het gaan uitvind wat daar alles in die Moederstad aan die broei is.

Huppelland-hoender: Stadsjapie tot Plaasjapie

Laas kwartaal het daar ‘n hoender by Huppelland opgedaag. Die leerders was mal oor haar, maar sy kon ongelukkig nie daar bly nie. Een van die juffrouens vat haar toe huis toe, waar sy mak-mak in en om hul huis in Observatory gebly het. Nadat sy begin pik het aan die blare van ‘n geliefde boom by hul huis, is daar besluit dat sy moet plaas toe. Met haar aankoms op die plaas buite Montagu, is sy Anna gedoop en het sy dadelik aanklank gevind by Dawid, een van die hane op die plaas. Dawid het mooi na Anna gekyk en selfs snags oor haar wag gehou op ‘n muurtjie langs die boom waar sy slaap. Nie lank na sy daar aangekom het nie, het Anna begin eiers lê. Laas vakansie het haar 13 kuikens uitgebroei. Anna se kinders is nou al mooi groot en sy lê tans op haar tweede broeisel!

Vorsters tot pikkewyn se redding

Mia (Gr.7VR) en Willem Vorster (Gr.2E) het op 16 November op Hermanus se strandmeer op ‘n pikkewynkuiken afgekom. Die kuiken was al half verkluim en het stoksielalleen op die strand gesit. Hulle het met SANCCOB (Southern African Foundation for the Conservation of Coastal Birds) kontak gemaak, wat toe die pikkewyntjie kom red het. As dit nie vir hierdie twee leerders was nie, sou die pikkewyn dit heel waarskynlik nie gemaak het nie. Wat ‘n inspirerende storie van Jan van Riebeeckers wat OMGEE!

Haas altyd tyd vir ‘n storie

Die graad 2E-klas het onlangs die hoofkarakter uit die klassieke storie, The Velveteen Rabbit
(Margery Williams, 1922), in die biblioteek ontmoet.

Spelterapeut Tina Fourie het haar wollerige troeteldier vir die dag vir ons geleen en elkeen het ‘n kans gekry om hom te voer en te vryf. Die Gr.2’s was verstom om die hasie uit die storie in lewende lywe te sien. Soos in ‘n fliek, het hy uit die boek geklim om by ons te kom kuier.

Die hasie van fluweel het onlangs vir die eerste keer in Afrikaans by NB-uitgewers verskyn en is ook nou in ons biblioteek beskikbaar.

Sofia Goosen-projek

Sofia Goosen in Gr.7 het ‘n hart en passie vir wildediere. Sy het ‘n geldinsamelingsprojek begin vir die rehabilitasie van wildediere. Ons het haar meer hieroor gaan uitvra.

Hoe het jy die idee gekry om met so ‘n projek te begin?
Ek en ‘n paar ander leerders het tussen die herwinningspapiere op ‘n tydskrif afgekom. Binne-in was ‘n artikel oor ‘n seun wat geld insamel vir diere. Ek is mal oor wildediere en wou nog altyd so iets doen. Ek het toe besluit om my eie projek te begin.

Hoe het jy jou idee uitgevoer?
Ek het ‘n Instagram-bladsy, wildlife_sa_fund, geskep waarop ek my projek bekendgestel het. Ek verkoop scrunchies om geld in te samel vir wild wat gerehabiliteer moet word, en adverteer die scrunchies op die Instagram-bladsy.

Wat lê vir jou voor? Is dit ‘n langtermyn projek?
Ek sal definitief voortgaan met die projek, maar op ‘n kleiner skaal, aangesien ek op my skoolwerk ook moet fokus. As ek oud genoeg is, sal ek graag vir ‘n jaar by Ashia Cheetah Sanctuary wil werk. Hulle rehabiliteer wildediere en dit is ook waarheen my fonds se geld gaan. Ek sal graag ook eendag wil studeer om ‘n natuurbewaarder te word en meer betrokke raak by projekte vir bedreigde spesies.

Ons sien uit om hierdie passievolle leerder se toekomsplanne dop te hou. Besoek gerus haar Instagram-bladsy, raak ‘n volgeling en ondersteun haar projek!

Brief van die redaksie

Uiteindelik is daar ‘n lig aan die einde van die tonnel, en sy naam is vakansie! Die Suidooster het hierdie kwartaal so bietjie van ‘n gedaanteverwisseling ondergaan en die elektroniese roete gestap. Ons hoop ouers gee hul kinders ‘n ekstra uurtjie skermtyd om hierdeur te blaai! Sterkte aan die Gr.7 groep van 2019. Lekker vakansie hou en kom veilig terug!

Leerderraad 2020

Baie geluk aan die volgende leerders wat verkies is tot die leerderraad van 2020!
Agter: Lourens van der Walt, Christiaan Viljoen, Cayle Stoltz, Kylie du Bruyn, Ella le Roux, Klara von Lieres, Emma Bartel en Onela Roxo.
Middel: Stella Malan en Sebastian Boshoff.
Voor: Armand Meyer en Jana Brink.

Hoofleiersbriewe

Alexander Newton: Hoofseun 2019

My graad 7-jaar

Hierdie jaar het ek baie geleer en ontwikkel. Daar was lekker tye en slegte tye. Tye waar ek sterk gevoel het en tye waar ek swak gevoel het. Die graad 7-kamp het ‘n groot impak op my gemaak omdat ek baie meer oor my vriende geleer het en met hulle tyd kon spandeer. Ek het dit baie geniet om in ons vryetyd op die strand rugby en krieket te speel.

Vir my is die Gr.7-jaar baie anders as die ander laerskool-jare. Op ‘n goeie manier. Alhoewel die werk verdubbel het, het die pret ook! Ek voel asof ek meer van my klasmaats geleer het as in enige ander jaar.

Die onderwysers het ‘n ongelooflike groot rol gespeel in my graad 7-jaar, deurdat hulle altyd gewillig was om te help en pret te hê. Hulle het my gehelp om my talente te ontwikkel en het ‘n passie vir sport by my geskep.

Ek het baie geleer oor hoe om ‘n goeie leier te wees en om ander ‘n kans te gee om te praat en hul mening te gee.

Ek gaan baie na hierdie jaar terugkyk en dit saam met my hoërskool toe neem.

Liezel Snijders: Hoofdogter 2019

7 jaar van opwinding,
7 jaar van vreugde,
7 jaar van grootword…

So kom als tot ‘n einde, tog ook ‘n nuwe begin!
Elkeen met hul eie toekoms, eie roete, eie bestemming.
Die toekoms is onbekend, maar met hierdie stewige fondament weet ons dat die rukwinde van die lewe ons nie sal onderkry nie.

Dus, geniet elke oomblik, maak nuwe vriende, wees braaf, gee jou beste, leef jou drome uit, wees jouself, lag bietjie meer, want sodra jy jou oë uitvee is dit alweer tyd om te gaan…

Laerskool Jan van Riebeeck, jy is in my hart gegraveer en my beker loop oor!

Brief aan Gr.7’s van 2020

Deur Zazzie Henderson

Die jaar is op sy rug en die Gr.7’s van 2019 begin hul vlerke sprei om na nuwe skole te vertrek. Daar word nou plek gemaak vir ‘n nuwe groep wat in 2020 aan die stuur sal staan. Dit kan soms maar senutergend wees om die onbekende aan te pak. Hier is ‘n paar wenke vir die nuwe graad 7’s:

  • Moenie jou oor eksamens bekommer nie. Oor ‘n paar jaar sal jy nie eens jou punte onthou nie en niemand gaan regtig weer vir jou vra nie.
  • Moenie enigiets wat jou vriende van jou sê, te ernstig opneem nie. Hulle het dit tien teen een nie so bedoel nie.
  • Moenie jou te veel oor ander se opinies van jou steur nie. Dis jou opinie oor jouself wat saak maak.
  • Luister na ouer mense wat vir jou raad gee. Hulle is meestal reg (wysheid kom met grysheid!).
  • Neem deel aan als wat jy kan, want dis die laaste kans wat jy in die laerskool het om dit te doen.
  • Spandeer baie tyd met jou vriende en familie. Moenie vir ure aaneen op jou selfoon lê nie, jy mis uit!
  • Onthou dat jou beste vriend dalk nie vir altyd jou beste vriend sal wees nie. Dit is heeltemal normaal om partykeer afstand te doen van sekere vriende. Doen egter moeite met die vriendskappe wat jy graag wil behou en wat vir jou saak maak.
  • Moenie op die internet baklei nie, want jy kan nie sien hoe die ander persoon voel nie.
  • Geniet elke oomblik en moenie jou ophou met skinderstories nie!

Atletiek 2019

Prysuitdeling 2019

Gr.7 Geskiedenis-
uitstappie